Month: December 2020

2020….

Die gordyn is besig om te sak op die jaar van 2020. ‘n Jaar gelede het daar groot opgewondenheid geheers oor die nuwe jaar, die nuwe dekade en talle nuwe moontlikhede. Min het die inwoners van planeet Aarde geweet wat op hulle wag. So breek die einde van ‘n uitdagende jaar aan en sluit die kantore van die Swartland Joernaal vandag, maar op 6 Januarie is ons terug op ons pos. ‘n Geseënde Kersfees en voorspoedige 2021 aan al ons getroue lesers en adverteerders.

Swartland Groep

Radio Kaapse Kansel reik uit na kinderhuis

Radio Kaapse Kansel729AM/MW verkondig nie net die Blye Boodskap van die Bybel nie maar hulle luisteraars maak  ook ‘n tasbare verskil in die gemeenskap wat bedien word. 

Die opvanggebied strek vanaf Kaappunt tot by St Helenabaai, Vredenburg, Citrusdal, Ceres, Prins Albert, Worcester, Villiersdorp, Franschhoek, Paarl  en Somerset Wes.  Radio Kaapse Kansel  ontvang geen amptelike steun van enige kerk of die staat nie  en is afhanklik van adverteerders  en donasies. 

Luister op 729 AM of MW let wel nie FM nie asook op die web www.capepulpit.co.za . Laai die toep  af op jou selfoon “Capepulpit”   en word ons daaglikse reisgenoot.

‘n Onderhoud met Brenda Maarman en Deidre Cooper word op die program LEEF, met Wanda Bam,  Maandag 11 Januarie 2021,  tussen 09:00 en 11:00 uitgesaai op 729AM.

Radio Kaapse Kansel het al lewendig uitgesaai vanaf Huis van Heerde en het ook ‘n tydjie gelede ‘n 1000 brode  geskenk .

“Ons verbind ons tot projekte wat ons weet ‘n verskil maak en wat ons kan vetrou soos Huis van Heerde sê Kosie Burger die Stasiebestuurder.  Wil jy ‘n skenking maak?  Kontak Kosie by info@kaapsekansel.co.za  of stuur ‘n SMS  na 082 784 5779

Radio Kaapse Kansel weet dat die R10 000 donasie reg aangewend gaan word om die lewens van die 70  kinders tussen ouderdom 1 en 18 in Sorg van Huis van Heerde te verbeter.

Gussie, die hartklop van Huis Wittekruin

•Madi Pieterse

VREDENBURG – “’n Klein mannetjie met ’n groot persoonlikheid en ’n hart van goud.”

Dìt is hoe ’n oud-kollega vir Gussie Marcus beskryf wat al vir 30 jaar die lief en leed deel van die inwoners en personeel van die ouetehuis op Vredenburg, Huis Wittekruin.

Gussie ken voorwaar die plek soos die palm van sy hand.

Dit kan ook nie anders nie, want hy het ’n hand in alles: hy verf, hy bou, hy help meubels skuif, hy help met fondsinsamelings, hy maak pype reg wat lek, wanneer die elektroniese hek nie wil werk nie, dan word Gussie ingeroep.

En bowenal hou hy sy hand oor die tuin. En gee ook hand in die tuine by die leefreghuisies.

En na al die jare is sy werk steeds vir hom lekker, geniet hy dit om almal tot hulp te wees, bly hy geduldig om aan elkeen se versoek te voldoen na die beste van sy vermoë.

Gussie se doopnaam is eintlik August, maar hy en ’n neef het met dieselfde name opgeeïndig en toe word hulle klein Gussie en groot Gussie (die neef groot Gussie omdat hy langer en ouer was).

Gussie is op Piketberg gebore, maar het op Vredenburg grootgeword en was ’n leerder by Panorama Primêr.

Nadat hy standerd 6 klaargemaak het kon hy ongelukkig nie verder skoolgaan nie sodat hy sy ouers kon help met ’n inkomste.

Hy het ge-’casual’ by Vredenburg Winkels en naweke was hy werksaam by die Rondo Inryteater, waar hy vyf jaar lank gewerk het.

Toe kry hy die werk by Huis Wittekruin, waar hy ’n klompie jare saam met Jacob Matthys gewerk het. Jacob was die man wat vir Gussie geleer het van instandhoudingswerk.

Soos die tyd aangestap het, het Gussie geleer ‘om met die oë te steel’ en het hy so geweldige kennis opgedoen, soveel so dat daar min dinge is wat Gussie nié self kan regmaak by Huis Wittekruin nie.

Een van die vorige bestuurders, Wimpie Volschenk, het vir Gussie aangemoedig om ’n bestuurslisensie te kry en dié twee het saam-saam die proses deurloop. Gussie vertel dat hy leer bestuur het met die Toyota Kombi waarvan die ratte nog langs die stuurwiel gesit het.

Hy doen heelwat rywerk en neem ook die inwoners dorp toe vir inkopies.

Hy geniet veral hierdie ritte terdeë, want hy en die inwoners skerts en lag lekker saam tydens die uitstappies.

Gussie kry reeds ’n knop in die keel wanneer hy dink dat sy aftrede naderkom.

Hoe neem mens sommer net afskeid van jou tweede huis?

Hy hoop as sy gesondheid hou, dat hy eers op 65 hoef af te tree.

Hierdie wens van hom word wyd gedeel deur sy kollegas en inwoners. Niemand kan hulle Huis Wittekruin voorstel sonder Gussie wat net altyd oral is en hand bysit waar hy kan.

Suster Bendene Joubert het jarelank saam met Gussie gewerk en vertel met deernis van hierdie man wat altyd bereid is om te help, altyd geduldig bly en altyd op sy pos is, of dit nou in die week by die werk is of na-ure om hand by te sit met fondsinsamelings.

“Hy is ’n stuk goud,” sê sy. “Daar`s net een van hom. Sy vrou en kinders kan trots wees op hulle man en pa en Huis Wittekruin kan met reg ook trots wees op hom.”

Gussie is al 27 jaar getroud met Annelize en die egpaar het ’n seun en ’n dogter.

Een van die inwoners het die laaste woord: “Gussie, ons salueer jou vir die pragtige persoon wie jy is en bid God se seën op jou toe. Saluut!”

PepsiCo belê in Swartland

‘n Splinternuwe rangeerarea, wat reeds jare in beplanning is, is nou tot die beskikking van vragmotorbestuurders wat Malmesbury se Sasko-aanleg besoek.
Met die opgradering van die meul- en silo-kompleks in 2014 het die hoeveelheid tonne wat Sasko hanteer, baie verhoog en so het daar ‘n behoefte ontstaan om verhoogte verkeer beter te akkommodeer.
Die doel van die rangeerarea is om die vloei en impak van die verkeer in en om die Sasko meule en pakhuis te verbeter.
Alle padvervoer, oftewel vragmotors wat rou materiaal by die aanleg aflewer of produkte by die meul laai, sal voortaan eers by die rangeerarea moet aanmeld. Daarna sal die vragmotors na die meul of pakhuis verwys word.
Die perseel beskik oor ‘n sekuriteitsgebou, ablusiegeriewe vir die vragmotorbestuurders en ‘n area waar die vragmotors van Sasko gewas kan word.
Daar is so ver moontlik van hernubare energie gebruik gemaak. So word die speiligte van krag deur die nuutste sonkrag-tegnologie, voorsien en sonkrag waterverwarmers is ook geinstalleer.
Die perseel beskik ook oor twee boorgate wat die ablusiegeriewe en vragmotors se was-area van water voorsien om sodoende water te bespaar. So word die impak op die natuur ook verminder en is die rangeerarea meer omgewingsvriendelik.
Covid-19 het ‘n groot impak op die projek gehad en moes die konstruksie uitgestel word. Die nodige boumateriaal was ook nie altyd beskikbaar nie.
Nog ‘n uitdaging was die grondwater in die omgewing wat baie hoog is, veral in die wintermaande.
Dreineringspype moes ondergronds gelê word om te versker dat dit nie in die toekoms probleme sal veroorsaak nie.
Pioneer Foods, wat Sasko besit, is onlangs deur die PepsiCo-maatskappy oorgeneem.
Volgens die maatskappy sal hierdie oorname tot voordeel van die streek en land strek, aangesien Sasko nou deel vorm van ‘n groot voedselmaatskappy.
Daar sal veral positiewe aanwinste kom in landbou en ook die bevordering van die voedselstelsel.
Volgens Bennie Kemp van PepsiCo, is die belangstelling van ‘n reuse internasionale maatskappy soos PepsiCo, iets om op trots te wees as ‘n besigheid.
“Dit beteken ons doen besigheid op goeie beginsels en is dit definitief ‘n positiewe bemoediging dat ons land sulke beleggings kan lok.”

Die ander kant van Coutts

Leonita Coutts, inwoner van Malmesbury, het Saterdag haar boek “The Other Side of Me” aan die publiek bekend gestel by ‘n geleentheid by Ansha’s Villa. Die boek handel oor Coutts se gedagtes en die struweling met geestesgesondheid gedurende inperking, asook motiverings-frases. Haar boek is by Huiswinkels in Biccardstraat op Malmesbury beskikbaar en sal ook vanaf Saterdag by PNA in die De Bron-sentrum teen R100 elk beskikbaar wees. Coutts sal tussen 10:00 en 12:00 by die winkel beskikbaar wees om eksemplare te teken. “Baie dankie vir almal se ondersteuning en dankie dat julle die tyd geneem het om saam met my die bekendstelling te vier en om my boek aan te skaf.”

Leeuwelpies

Swartland Joernaal se Darren Foot-Lombard en Izélle Fouché is onlangs ingehuldig as lede van Lions Internasionaal se Malmesbury-klub. Hul mentor, Marina van der Merwe, het hul sertifikate aan hulle oorhandig.

Gholf Meesters

Die Malmesbury Meesters is Saterdag op die Malmesbury-gholfbaan aangebied met 42 spelers wat vir vanjaar se toernooi gekwalifiseer het. Niemand kon egter Natie Smith stop wat met 41 Enkel Stableford-punte gekroon is as 2020 Meester. Eugene Huyshamer was tweede en Evan Liedeman derde.

“Virus bekruip jou”

Burgemeester en eggenoot veg teen Covid19

Burgemeester Tijmen van Essen en sy vrou Doedtie, sterk altwee tans tuis aan ná altwee positief getoets het vir die coronavirus.
“Ek wonder net waar ek dit gekry het, maar die virus bekruip jou soos ‘n dief in die nag, wanneer jy dit die minste verwag.”
So vertel Swartland se eerste burger.
Volgens Van Essen ervaar hy ‘n dowwe gevoel en ‘n bietjie lyfseer, maar hy is nou daarop gefokus om ten volle te herstel.
President Cyril Ramaphosa het Maandag aangekondig dat strenger inperkings op Suid-Afrikaners wag indien hulle nie gehoor gee aan die huidige Vlak 1-maatreëls nie.

Atletiekkliniek vir Swartlanders

Die jaarlikse atletiekkliniek wat by die Hoërskool Swartland aangebied word, word weer op 30 Januarie by die skool aangebied.
Die doel van die kliniek is om atletiek as sportsoort te bevorder en om afrigting en voorligting deur ervare, gekeurde, uitgesoekte vlak 111-afrigters te bied.
Die volgende items sal aandag geniet: Naellope, middelafstande, verspring, hoogspring, hekkies, gewigstoot, diskus en spiesgooi.
Kostes beloop R60 vir atlete en R150 vir afrigters.
Kontak Freek Stander by 084 5119 230 of Elmarie Marais 084 517 4692.