Day: December 1, 2020

Swartland trap diep spore in Weskus

LANGEBAAN – ‘n Klein stukkie geskiedenis het hom Maandag, 30 November op dié pragtige Weskusdorp afgespeel met die eerste sooi wat gespit is om die Langebaan Manor-aftree-ontwikkeling van stapel te stuur.
Volgens die nasionale bemarkingsbestuurder van die Devmark Eiendomsgroep, Bruwer de Jager, Moorreesburger in murg en been, sal die ontwikkeling uit 100 vrystaande huise, 60 deeltitel-woonstelle, 40 bystandseenhede en 20 versorgingseenhede vir verswakte bejaardes bestaan. Die kontrakteur vir die projek is Westland Civils, wat hand-aan-hand saam met KLS Raadgewende Ingenieurs sal werk. Die eksterne siviele werke begin in Breëstraat wat oploop tot by Langebaan Manor.
Die eerste eenhede behoort teen einde 2021 gereed te wees vir okkupasie.
Bruwer het benadruk dat die prima strandmeer-eenhede vinnig verkoop en voornemende kopers aangeraai om spoedig met die bemarkingspan kontak te maak om teleurstelling te voorkom. Tot op datum is eenhede van fases een en twee ter waarde van R80 miljoen reeds verkoop. Die bemarking van fase drie begin binnekort. Pryse wissel tussen R1,87 miljoen en R3,495 miljoen en sluit beide BTW en oordragkoste in.
Kopers kom van oral in Suid-Afrika. Volgens Bruwer is daar ‘n definitiewe tendens vir afgetredenes om na kusdorpe te beweeg en Langebaan Manor is geen uitsondering nie.
Langebaan Manor is ideaal geleë met alle geriewe, insluitende die munisipale kantore, biblioteek, winkels en medici slegs ‘n kort afstand van die ontwikkeling. Die uitgestrekte wit strand wat die Langebaan Strandmeer omring is ook naby en behoort ‘n groot trekpleister te wees vir dié wat gereeld die buitelug opsoek.
Langebaan bied ook verskeie ander aktiwiteite soos gholf, watersport en stappaaie en die ingang na die Weskus Nasionale Park is ‘n hanetree daarvandaan geleë.
Outentieke Weskus-argitektuur is ingespan om die uniekheid van die ontwikkeling te verseker. Kopers kan verseker wees van kwaliteit standaard luukse toebehore en kan ook die keuse van opsionele ekstras uitoefen.
Kontak gerus die bemarkingspan vir verdere inligting. Walter Hart se kontakbesonderhede is 072 795 5371 / walter@langebaanmanor.co.za of Christiaan Sleigh s`n 064 544 7524 / christiaan@langebaanmanor.co.za. Die web-adres is www.langebaanmanor.co.za.
•Madi Pieterse

Onderskrif: Die Moorreesburger, Bruwer de Jager, tweede van links, speel ‘n integrale rol in hierdie ontwikkeling. By hom is van regs Hannes Kotze (KLS Consulting), Bruwer de Jager (Devmark), Jean Ehlers (Devmark), Dries Venter (Saldanhabaai Munisipaliteit), André Kruger (Saldanhabaai Munisipaliteit), Walter Hart (Langebaan Manor-verkoopsverteenwoordiger) en Charl Howburg (Westland Civils).

Brown ontvang SAVMO-toekenning

• Madi Pieterse 
LANGEBAAN – Die hoof van die Weskus Musiekakademie en direkteur van die Weskus Jeugorkes, Carina Brown, het pas die SAVMO (Die Suid-Afrikaanse Vereniging van Musiekonderwysers) – toekenning ontvang vir uitnemendheid in musiekonderrig gedurende 2020.
Dit is ’n groot eer vir die Wes-Kaap aangesien sy een van slegs ses ontvangers landwyd is wat hierdie gesogte toekenning vanjaar ontvang het. Die toekenning word gegee aan mense wat ’n buitengewone bydrae gelewer het tot musiekonderrig binne sy of haar eie gemeenskap. 
Carina is die afgelope 25 jaar die dryfkrag in musiek- en jeugontwikkelingsprogramme aan die Weskus.
Haar West Coast Music Academy is die grootste professionele musiekakademie aan die Weskus met meer as 600 leerders van vier omliggende dorpe. Sy het sestien personeellede en drie uitgebreide openbare werke-programme.
Studente van die akademie verskyn gereeld op die ererol van uitstekende presteerders aan UNISA, Rockschool South Africa en Trinity College in Londen. 
Carina is ’n stigterslid en direkteur van die Weskus Jeugorkes, wat ongeveer 350 leerders betrek. Onder beskerming van hierdie orkes, wat dubbele status het as ’n nie-winsgewende maatskappy en ’n openbare liefdadigheidsorganisasie, kan sy gelyke geleenthede in musiekonderrig bied aan histories benadeelde leerders.
Leerders kan intern inskryf vir geakkrediteerde eksamens deur middel van verskillende eksamenrade en tersiêre programme van die Universiteite van die Vrystaat en Stellenbosch wat beskikbaar is via satellietkampusse. 
Die Jeugorkes bied internskappe en werksgeleenthede aan oudstudente, onderwysers en bestuurspersoneel. 
Die Akademie se splinternuwe blokfluitprojek bied gratis blokfluitonderrig aan onderwysers wat kreatiewe kuns en lewensvaardighede in primêre skole aan die Weskus gee en daar word beoog om ongeveer 2 300 leerders hierby te betrek.

Op die sakerusbank met Lavern Maarman

•Abri Adonis
Alhoewel die wêreld vordering toon ten opsigte van gelykheid in die werksplek, is daar steeds baie hindernisse vir vroue-entrepeneurs.
Veral in die Swartland is dit moeilik vir vroue om ‘n suksesvolle besigheid te begin en ook kompeterend te bly.
Dit kort natuurlik tyd, energie en goeie vernuf.
Hierdie week gesels ek met Lavern Maarman van Malmesbury, wat haar passie vir grafiese en digitale ontwerp, omskep het in n interessante besigheidsidee wat groot belangstelling lok.

V. Wie is die vennote in die besigheid?
Ek is die alleen eienaar. Soos hulle sê: It’s a one man show.

V. Hoe raak die besigheid jou daaglikse lewe?
Dit is so ‘n wonderlike ondervinding, daagliks werk ek met nuwe mense, maak nuwe kennisse en werk saam met ander klein besighede. Op so ‘n manier help ons mekaar om die ekonomie te groei.

V. Wat het jou motiveer om so ‘n besigheid te begin?
Natuurlik het die pandemie my in die rigting gedruk, maar dit was eintlik n seëning gewees. Ek het net daai hupstoot in die regte rigting nodig gehad om sodoende een van my passies uit te leef in die vorm van die besigheid.

V. Vertel ons bietjie meer van die besigheid?
My geregistreerde besigheidsnaam is ‘Lekke La Vie’ . Dit behels grafiese ontwerp dienste, enige materiaal wat ontwerp moet word vanaf uitnodigings tot pamflette, plakkate en t-hempde. Dis regtig ‘n interessante veld om in te werk. Dan my breinkind, ‘Lavi’s Protea Collection wat ‘n reeks handgetekende en digitale geïllustreerde proteas (my gunsteling blom) bevat. Ek ontwerp dit self en dit word op items soos oorbelle, t-hempde, rokkies en meer gedruk deur middel van digitale tegnologie.

V. Is daar potensiaal vir n besigheid soos joune om uit te brei?
Ja, elke dag leer ek net meer en meer hoe om die besigheid te groei. Die ideaal is om later uit te brei en sodoende werk te skep.

V. Wat is jou doelwitte en wat beoog jy om te bereik met die besigheid?
Ek het drome, baie groot drome, maar ek vat dit stap vir stap. Ek het die geleentheid gekry om van my items oorsee te stuur. So ja, daar is hoop en baie potensiaal vir n besigheid soos myne.

V. Hoe ontvang jul gemeenskap n konsep soos jul besigheid?
Met my reeks van proteas, het baie mense al vir my gesê dat nie almal van proteas hou nie. Teenoor die res wat lief is daarvoor aangesien dit ons nasionale blom is. Ek dink proteas illustreer ons tuiste.

V. Wat dink jy is die grootste uitdagings vir jong entrepreneurs om hul besigheid te begin veral in vandag se moeilike ekonomiese toestande?
Ek dink finansies is die grootste uitdaging veral in die moeilike ekonomiese omstandighede.

V. Hoe sal jy jou ondersteuningkorps (familie) beskryf aangaande jou besigheid?
My man is my grootste ondersteuner. Hy help my met pakkies stuur, help my om fotos te neem en natuurlik gee hy my genoeg tyd om bestellings uit te kry deur daar te wees en te help om die seuns besig te hou.

V. Watter advies het jy / julle vir ander potensiële entrepreneurs, besigheidsmanne/vroue?
Leer meer by ander entrepreneurs, bou op jou vaardighede en moenie bang wees om kanse te vat nie.

Wenners!

Die Malmesbury Sakekamer het verlede week tydens ‘n geslote geleentheid vanjaar se wenners in die Diensverskaffer van die Jaar-kompetisie aangewys. In die afdeling vir Groot Besighede het Malmesbury Superspar die kroon gedra, met AR24 in die tweede plek, gevolg deur die Sabino Canyon Spur.

In die afdeling vir Medium Besighede het Malmesbury Kwekery die louere ingeoes, met Le Minnie Attorneys in die tweede plek, gevolg deur Henk’s Vleismark/Kekkel en Kraai.

In die afdeling vir Klein Besighede het Bergzicht Dierekliniek die toekenning vir die beste dienslewering ontvang, gevolg deur Beyond Beauty en Malmesbury Guesthouse.

In die afdeling vir die beste dienslewering deur ‘n individu, het Dr Sanel Lourens die eerste plek behaal, gevolg deur Maré Nel en Julian Naicker. Bo is Nel, Dr Lourens en Julienne Hoogbaard, vorige wenner van die toekenning.

Dokumentêr: Kaaps moet voortleef

HOPEFIELD – Só ernstig is Chevãn Van Rooi om die taal wat in die Kaapse Skiereiland gepraat word behoue te laat bly, dat hy besluit het om sy Meestersgraad daaroor te doen.
Die Meestersgraad behels die sosio-sintaktiese studie van sekere eienskappe in die grammatika van Kaaps, ’n dialek van Afrikaans wat oorwegend op die Kaapse Vlakte gepraat word. Hy konsentreer sy studie in Manenberg.
Terselfdertyd skiet Chevãn en bekende filmvervaardiger Jaak Erasmus ook ’n dokumentêre film oor die studie. Chevãn voel dat film ’n kragtige instrument is om ’n storie te vertel en met sy projek poog hy om vermaak en storievertelling te laat saamvloei.
Chevãn was as kind nie ’n voorstaander van die gebruik van die Afrikaanse taal nie. Negatiewe konnetasies het hom laat glo dat dit die taal van die onderdrukker was en was daarom weerstandig teen die gebruik daarvan.
Sy oë het egter oopgegaan nadat sekere groepe druk begin toepas het om Afrikaans as onderrigtaal by sekere universiteite en skole te verwyder. Om hierdie medium van kommunikasie sommer net te verwyder is amper om ook Kleurlingmense, wat die taal in baie fasette en variëteite gebruik, eenkant toe te skuif. Hy voel dat Kleurlingmense jarelank in ’n groot mate polities en maatskaplik op die kantlyn geskuif was en dat so ’n stap hulle sal verhoed om onderrig te ontvang in ’n taal wat vir hulle bekend en gemaklik is.
Verder is Afrikaans ook ’n taal uniek aan Suid-Afrika, wat Suid-Afrikaners maak wie en wat hulle is, en dit dien as verdere dryfveer vir sy studie.
Chevãn doen sy Meestersgraad by die Universiteit van Wes-Kaapland onder die toesig van dr Erin Pretorius, ’n legende en leier in akademie, asook prof Theresa Biberauer, wat in Cambridge gebaseer is, maar ook professor is aan die UWK.
In 2019 het Chevan die eer te beurt geval om as Beste Honneursstudent in die Fakulteit Kuns en Geesteswetenskappe aangewys te word, ’n toekenning wat hy nederig, maar trots, koester.
Intussen benodig Chevãn en Jaak nog fondse om die dokumentêr van sy studie klaar te skiet. Persone wat belangstel om in die projek te belê kan sy webblad, www.kaapsestudent.co.za besoek om verdere inligting daaroor te kry.

  • Alhoewel Chevãn in The Connifers, ’n klein voorstad van die groter Blue Downs area in Kaapstad gebore en getoë is, het hy noue bande in Hopefield gevorm nadat sy ouers ’n kleinhoewe daar gekoop het. Hulle woon nou permanent daar. Chevãn is die jongste van André en Jennifer Van Rooi se drie kinders.

Veediefstal

CK spog met beste eenheid in veediefstal in Wes-Kaap


Die Wes-Kaap Veediefstalkomitee wat onder die RPO Wes-Kaap resorteer, maak jaarliks toekennings aan die Beste Lid van ‘n Veediefstaleenheid en die Beste Veediefstaleenheid in die provinsie. Agri Wes-Kaap se Landelike Veiligheidsbeleidskomitee gee ook jaarliks ‘n toekenning aan die Beste Landelike Veiligheidskoördineerder. Al die toekennings is tydens Agri Wes-Kaap se jaardinee op 25 November oorhandig.
Beste Veediefstaleenheid
Die toekenning gaan vanjaar aan die Malmesbury Veediefstaleenheid. Die eenheid bestaan uit 10 lede en twee administratiewe personeel. Die waarnemende bevelvoerder is Adjudant-Offisier Rudi Lourens. Tussen 1 April 2019 en 31 Maart 2020 het die Eenheid 284 sake ontvang en ‘n 71% oplossyfer gehad. Dit het onder meer bestaan uit 175 veediefstalsake met 65 arrestasies en 9 gevalle van bedreigde spesies diefstal met 15 arrestasies. Van 79 aangemelde grootvee-diefstal is 72 teruggekry, van 518 aangemelde kleinvee-diefstal is 101 teruggekry, van 73 aangemelde varkdiefstal is 25 teruggekry en van 15 aangemelde pluimvee-diefstal is 11 teruggekry.
Jaco van den Berg, voorsitter van die Wes-Kaap Veediefstalkomitee, sê veediefstaleenhede is krities belangrike rolspelers in die veebedryf.
“Ons vereer graag die Malmesbury Veediefstaleenheid vir hulle uitsonderlike diens aan ons produsente en die sektor. Die Malmesbury-eenheid se suksesse spreek van harde werk en hulle lojaliteit aan die produsente in die gebied wat hulle bedien, help om die landbousektor te versterk. Ons het groot waardering vir die goeie samewerking wat ons met die Eenheid het.”
Beste Lid van ‘n Veediefstaleenheid
Vanjaar is die toekenning vir die vierde agtereenvolgende jaar aan Sers TS Moletsane van die Beaufort-Wes Veediefstaleenheid gemaak.
In die 2019/2020 finansiële jaar het Sers Moletsane 58 sake ondersoek waarvan 45 met 66 inhegtenisnemings in die hof gaan draai het. In 34 van die 45 sake wat hof toe is, is skuldigbevindings bereik. Luitenant-Kolonel Johan Smit, Wes-Kaapse koördineerder van veediefstal van die SAPD, sê Sers Moletsane is ‘n gedissiplineerde, toegewyde, gedetermineerde en hardwerkende lid. Hy respekteer altyd die klaers, verdagtes, aangeklaagdes, hofbeamptes, ander lede en sy senior kollegas. Hy kom altyd besonder goed voor en mense bewonder sy vermoëns, sy dissipline en sy entoesiasme om sake op te los.
Optrede wat deur hom uitgevoer word, word altyd behoorlik beplan en uitgevoer binne die kortste tydsraamwerke, met min hulpbronne en uitgawes. Ondersoeke wat deur hom gedoen word, word behoorlik en buitengewoon goed gedoen om te verseker dat sake op hofrolle geplaas word en om skuldigbevindings te verseker. Hy besef sy doelstellings en verantwoordelikhede en gee net sy beste om sy doelwitte te bereik.
Hy glo in wat hy doen en is trots om met die eenheid verbind te word. Hy is altyd bereid om veel verder te gaan as die pligte wat van hom verwag word. Hy is altyd bereid om te help, ongeag watter tyd van die dag of nag. Hy huiwer nooit om na ure en vir lang tydperke te werk sonder vergoeding of enige klagtes nie. Hy is altyd bereid om sy kollegas by te staan. Hy sal nooit ‘n misdaadtoneel of die prosessering van beskuldigdes verlaat om huis toe te gaan voordat al die werk voltooi is nie.
Hy is voortdurend op soek na geleenthede om sy kennis op sy huidige gebied uit te brei, omdat hy daarna streef om ‘n kundige te wees oor die onderwerp van veediefstal. Hy het ‘n wye kennis van die wet en rig elke ondersoek daarvolgens. Vanweë die manier waarop hy hom teenoor die publiek, ander lede, aanklaers, prokureurs en landdroste gedra, word hy dikwels geprys vir sy professionaliteit. Jaco van den Berg, voorsitter van die Wes-Kaap Veediefstalkomitee, sê Sers Moletsane se toewyding aan veeprodusente verdien erkenning. “Ondersoekbeamptes van sy kaliber is ‘n aanwins vir die landbousektor. Ons het net die hoogste agting en respek vir die erns waarmee hy sy werk doen.”

Youth council

Saldanha Bay Municipality inaugurated its fourth Youth Council at a special ceremony held at the White City Multipurpose Centre in Saldanha recently. The Youth Council will serve the youth of the Saldanha Bay municipal area and work together with youth orientated organisations to address issues relating to peer pressure, substance abuse and the school drop-out rate. The elected Youth Councillors are a fair representation of all wards in the Saldanha Bay Municipal area and attend high schools within the municipal towns. The newly elected Youth Councillors are: Alexi Frick, Anke Austin, Caro-lee Cupido, Charlize Ramsden, Christo de Wet, Crestobell Kamowa, Damian Cleophas, Isiah Mataka (Junior Mayor), Jaden Tromp (Junior Deputy Speaker), Janesta Swarts, Jason Geldenhuys, Kaylin Hector, Leila Louw, Lothan Love, Makwenkwe Khanyisa, Pieter Kotze, Sade Williams, Saleni Aviwe, Skhokele Torheni (Junior Speaker), Stacey Langley (Junior Deputy Mayor) and Tashlyn Engelbrecht. Saldanha Bay Municipality welcomed its new Youth Council and wished them well for their 2020/21 term of office.

Hentu se duif kraai koning

Die 2020 wedvlugseisoen het aanvanklik gesukkel om af te skop as gevolg van die Covid19 beperkinge.
Al die lede was egter baie opgewonde toe ‘n ietwat verkorte seisoen van 15 weke wel ingepas kon word.
Vanuit die staanspoor was die kompetisie baie sterk.
Die duiwe van Hentu Hayman, wat deelgeneem het as Cross Border Lofts, was vir die 2de agtereenvolgende jaar die Klub Kampioen.
Johan Steenkamp het in die 2de posisie geëindig en het baie goeie rekenskap van homself gegee.
Kotze Familie Hokke (Erlo Kotzé) het in ‘n verdienstelike derde posisie geëindig.
Marais Hokke (Kobus Marais) het die meeste wedvlugte gewen met n totaal van 7.
Die verskillende kategorie wenners vir 2020 is soos volg :
Kortafstande :
1ste : Cross Border Lofts
2de : Marais Hokke (KSD)
3de : Kotze Familie Hokke
Middelafstande :
1ste : Bordeaux A
2de : J Steenkamp
3de : Cross Border Lofts
Langafstande :
1ste : J Steenkamp
2de : Kotze Familie Hokke
3de : Cross Border Lofts
Jongduif punte :
1ste : Cross Border Lofts
2de : J Steenkamp
3de : Kotze Familie Hokke
Ou Duif Punte :
1ste : Kotze Familie Hokke
2de : J Steenkamp
3de : Marais Hokke (KSD)

Duif met Meeste Punte :
1ste : Kotze Familie Hokke
2de : Marais Hokke (KSD)
3de : Limbardi (Rudi Lombard)
Algehele Kampioen :
1ste : Cross Border Lofts
2de : J Steenkamp
3de : Kotze Familie Hokke

Die bestuur bedank weereens almal vir die goeie en gesonde gees en sportmanskap wat geheers het tydens die seisoen. Die kompetisie tussen die lede was baie goed en beloof om volgende seisoen net nog strawwer te wees.
Die interessante en opwindende seisoen was egter oorskadu deur die tragiese heengaan van ons Voorsitter, Pieter Loubser.
Hy gaan ‘n groot leemte laat en die lede van die Malmesbury Posduif Vereniging eer sy nagedagtenis!”
Enige iemand wat belangstel om meer uit te vind oor die sport kan gerus die waarnemende Voorsitter, Johan Steenkamp, kontak op 082 823 7541