Day: February 17, 2021

Skole verwelkom Leerders

Die skole het Maandag hul deure geopen vir die nuwe skooljaar en Graad 1-leerders het grootoog die nuwe afdeling van hul lewe ontarm. Janie en Robin Bothma het Maandag by die hekke van die Laerskool Swartland op Malmesbury ingestap en deel van die skool geword. Bo is die tweeling Jana en Inge Booysen wat vanjaar in Graad 1 is, saam met ousus Liné.

Die nuwe skooljaar het Maandag begin en die plaaslike onderwyskorps is slaggereed om die bul by die horings te pak en die jaar ‘n sukses te maak.
By die Hoërskool Swartland op Malmesbury, het beplanning vir die 2021-skooljaar reeds in September 2020 begin.

“Ons het geweet daar mag moontlik struikelblikke wees, wat die normaal na die abnormaal kan verander. Alle aktiwiteite, akademie, sport en kultuur, is beplan in ‘n volledige skoolkalender. In hierdie tydperk (8-15, 23 Februarie 2021) sou die Somer-interskoleweek plaasgevind het in die volgende sportsoorte naamlik atletiek, gholf, tennis, swem en krieket.
“Met die akademie is die volledige sillabus beplan vir elke leerarea of vak in 2021. Agterstande het wel ontstaan in 2020 weens selfstudie tuis en die agterstande sal ook ingehaal word. Ons het in ons beplanning, nuwe programme soos “You can do Math”, aangekoop wat elke leerder kan ondersteun om agterstande in te haal,” vertel Justus Schoonraad, skoolhoof van HSS.

Volgens John Stewe, skoolhoof van die Schoonspruit Sekondêr op Malmesbury, is hul onderwysers nou gerat vir ‘n jaar waar ‘n pandemie dinge kan vergemoeilik.

“Anders as in 2020, is die personeel nou meer gerat vir onderwys tydens ‘n pandemie.

Onderwysers het die afgelope 2 weke hard gewerk aan voorbereiding om die leerders op 15 Februarie vir die 2021 – akademiese jaar te ontvang. Ons matrieks was die afgelope week by die skool om hul hand-en skryfboeke te ontvang. Onderwysers het ook bemiddeling deur virtuele vergaderings ontvang van die 2021 akademiese onderrigprogram in alle vakke vanaf graad 8 tot 12 en hul beplanning daarvolgens voorberei. Die beplanning is spesifiek gerig om agterstande aan te spreek. Grondlynassessering is ‘n baie belangrike plan wat vir die eerste week van die eerste kwartaal gaan plaasvind om vas te stel waarmee kom graad 8 tot 12 leerders na die klas toe – iets wat nie voorheen in onderrigplanne voorgekom het nie.
Onderwysers is dus goed voorberei op die aanpassings en vernuwings in die onderrigplanne.”

Onderrigmetodes het ook die afgelope jaar aansienlik verander en aanpassings was nodig.

“Die skuif van klasonderwys met ‘n onderwyser en leerlinge in ‘n klas na E-leer het skielik plaasgevind. By Hoërskool Swartland het ons lank voor Covid-19 die teorie van afstandonderrig begin debatteer, alhoewel die konsep meer gefokus was op virtuele skole op ander dorpe met HSS die sentrum van die E-leer fokus. HSS se voordeel was dat onder leiding van mnr. Brian de Beer en ander lede van die personeel, HSS baie vinnig E-leer kon bemeester en ons binne twee weke die skool kon draai van klasonderwys na E-leer.,” aldus Schoonraad.

Volgens Stewe het Schoonspruit reeds planne gemaak vir ‘n derde en vierde vlaag wat moontlik die land kan tref.

“Ons werk aan ‘n aanlynonderrigprogram waar meer leerders kan baat vind. Ek wil beklemtoon dat my personeel afgerolde notas voorberei het vir alle grade tot in die tweede kwartaal indien ‘n nuwe vlaag sy opwagting maak.

Kommunikasie tussen die skool en die ouers en leerders is uitgebrei. Ouers en leerders kan inskakel op die skool se amptelike Facebookblad: Schoonspruit Amptelik.”

Swartland is ook gerat hiervoor.
” Indien ‘n derde vlaag aan die begin van die winter die Wes-Kaap tref, sal ons gereed wees uit die ervaring van 2020. HSS se protokol is aangepas, ‘n aantal keer hersien sodat ons in een dag sal kan omskakel. Elke gr.9-12 leerder het in 2020 reeds e-pos adresse by die skool ontvang. Nuwe leerders en die nuwe Gr.8’s sal in week 15-19 Februarie hul nuwe e-pos adresse ontvang sowel as opleiding ontvang om MS Teams, ZOOM en ander programme te gebruik. HSS is dus gereed vir enige verandering onder die Covid-19 regulasies.”

Met die nuwe onderrigmetodes en verminderde klastyd, het die akademiese en sportprestasies in 2021 ietwat anders gelyk.
” HSS kon die volledige sillabus afhandel vir 2020. Die aantal druipelinge vir Gr.8-11 in 2020 was baie min maar vakgemiddeldes het gedaal. Die waarde van die onderwyser in die klaskamer is uitgewys deur Covid-19. Sport en Kultuur speel ‘n uiters belangrike rol in die geheelontwikkeling van ‘n Rockie. Baie geleenthede is leerders ontneem a.g.v. Covid-19. Dink maar aan die Cravenweek of die koortoer na Europa wat sou plaasvind in Desember 2020. Covid-19 het sielkundig verskillend ingewerk op elke leerder. ‘n Aantal leerders het geliefdes aan die dood afgestaan en die impak van Covid-19 was andersoortig op hul lewens. Die SGOS-departement werk hard om die Rockies te ondersteun ten opsigte van emosionele uitdagings,” sê Schoonraad.

Gevra of ouers hul kinders met ‘n geruste hart skool toe kan stuur, het Stewe baie positief geantwoord: “Baie beslis! Ons is voorbereid! Ek wil beklemtoon dat elke leerder ‘n daadwerklike poging moet aanwend om sy/haar eie gesondheid en leer te bestuur en verantwoordelikheid daarvoor te neem – dit is in ons elkeen se belang.”

Schoonraad het ook elke leerder en onderwyser se gesondheidsbelange op die hart gedra en die personeel gevra om hulself te isoleer die week voor die terugkeer na die skool.

“Ek het ook die ouers gevra dat die leerders hulself die week voor die skole begin, moet isoleer. Daar is ook ‘n duidelike afname in positiewe Covid-19 getalle in die Weskus 1 distrik. Leerders kan slegs veilig wees by ‘n skool indien die gemeenskap hulself beskerm deur sanitering, maskers te dra en veilige afstande te hou. Die skool is gestruktureerd en reëls word afgedwing, die Covid-19 protokol sal ook by die skool in stand gehou word. HSS sal alles binne sy vermoë doen om alle regulasies instand te hou sodat die Rockies veilig onderrig sal ontvang.”

“Die skool se ouers was nog altyd ondersteunend en ons is dankbaar dat hulle steeds bly bid vir die personeel en leerders van HSS,” sê Schoonraad.
“Dit wil voorkom of dit weer ʼn jaar vol uitdagings sal wees wat enig aan sy soort is en wat uitsonderlike leierskap van ons almal sal verg. Ouers is hul kinders se grootste ondersteuningsbasis, dus kan hulle nie meer apaties staan teenoor hul kind(ers) se gesondheid en veiligheid asook hul onderrig en leer nie. Elkeen moet ‘n volwasse en positiewe gesindheid in die verband openbaar,” sê Stewe oorgehaal.

Van verslawing tot motiveering

Van ‘n vaderlose huis, uitdagende omstandighede, heroïen-verslawing, na motiveerder en lewensafrigter – dis die pad wat die lewe met Dencil Hattingh gestap het.

Hattingh, vandag woonagtig op Malmesbury, is die mede-eienaar van Decisive Development, saam met Madalé Rinkwest en Elwin Braaf.
Hier is hy ‘n transformasie-afrigter en motiveringspreker.
Hattingh is deur diep en troebel waters as tiener en jongmens, maar het sy lewe handomkeer verander en vandag deel hy sy lewensverhaal en suksesse met ander jongmense om hulle sodoende te motiveer.
Hattingh het ook aan die Mnr Gay Wêreld Suid-Afrika deelgeneem in 2019 en hiermee gewys dat hy die lewe sal lei wat hy graag wil lei, ten spyte van teenkanting wat hy in die verlede ontvang het.

Hattingh het sy lewensverhaal in ‘n boek saamgevat, waar hy gesels oor die struikelblokke, hoe hy homself leed aangedoen het en hoe hy nooit raakgesien het wat die heeltyd voor sy oë was nie.

“Ek het die boek geskryf om vrede te maak met myself en ook al die situasies waarin ek myself bevind het. Ek het ook hierdeur my verwyte aanvaar,” vertel Hattingh.

“Ek was op ‘n stadium plat op die grond. Maar dis daar wat my lewe begin het. Ek het weer begin leef. Ek het die keuse gehad om te gaan lê of in ‘n hoekie te gaan sit, maar ek het die krag gekry om myself te leer ken, om spiritueel te groei en om te ontdek dat dit nooit te laat is om die werklike jy te wees nie.”

Sy boek is gemik op die persoon wat wil droom en wat iets wil bereik, ten spyte van talle probleme.

“Party van ons sien net die slegte dinge in ons lewens raak en dan verbeel ons die ou dae was beter. Dit sê vir my dat jy niks uit die verlede geleer het nie en dat jy steeds in die verlede leef. Hierdie boek is ook ‘n handleiding van hoe om jou lewe toe te spits op die huidige en hoe om jou dag in iets positief te verander.”
Hattingh se groot droom is om mense, oud en jonk, te leer hoe om hul drome te laat waar word.
“Die boek is propvol inspirasie en lesse om jou te help om ‘n suksesvolle lewe te lei en om nie vertroue te verloor weens die groot impak wat die Covid19-pandemie op ons daaglikse bestaan het nie.”

Hattingh se boek is tans op Amazon beskikbaar, maar sal eersdaags in talle boekwinkels beskikbaar wees.

Kontak hom by 067 607 8424 of stuur ‘n epos na hattinghdencil2@gmail.com.

Stand van die damme

Die damvlakke van die voorsieningskanaal van die Wes-Kaap het Maandag op 80% gestaan, in vergelyking met verlede week se 81.7% en verlede jaar dieselfde tyd se 67.8%.

Die Bergrivier se vlak het Maandag op 79.9% gestaan. Verlede week het die damvlak op 81.9% gestaan en verlede jaar dieselfde tyd op 81.2%.
Die Laer-Steenbras is nou 74.6% vol, in vergelyking met verlede week se 76.8% en verlede jaar se 72.9%.

Die Theewaterskloofdam het Maandag op 83.9% gestaan. Verlede week was die dam 85.4% vol en 61.7% verlede jaar op dieselfde tyd. Die Wemmershoekdam was Maandag 80.5% vol, waar dit verlede week op 82.3% gestaan het. Verlede jaar was die dam dieselfde tyd 67.8% vol.
Die Voëlvleidam was Maandag 74.9% vol. Verlede week het die dam se vlak op 76.2% gestaan en verlede jaar op 68%.

Bron: www.capetown.gov.za

Simply Bee – Hopefield

Simply Bee is een van daardie handelsmerke wat jy al hoe meer raaksien. Nie net oor die oulike kenteken nie, maar oor die groei in die onderneming se gewildheid en ook beskikbaarheid elders en nie net op Hopefield nie.
Simply Bee produseer hul eie byewas-produkte met heuning, propolis en byewas, gemeng met essensiële olies.

Die onderneming het sy ontstaan gehad, ná eienaar Helena se pa in 1954 reeds met bye begin boer het. In 2008 het sy en Pierre van der Weshuizen die boerdery by haar pa oorgeneem en dit uitgebrei.
Helena het self ‘n sensitiewe vel en sy het in 2011 ‘n produkreeks ontwikkel wat by haar tipe vel sou pas. Dit het vinnig gegroei en is vandag in meer as 400 winkels regoor Suid-Afrika beskikbaar.

Simply Bee se produkte word selfs na vyf lande uitgevoer.
Gevra oor wat hulle produk uniek maak, kom dit neer op die natuurlikheid van die produk en wat dit bied.

“Ons produkte word is als natuurlik, die vel is mal daaroor en als word met die hand gemaak van begin tot einde. Dan het ons ook ‘n produktewinkel waar ons produkte aangekoop kan word, langs dit het ons ook ‘n bye-observasie waar almal meer kan leer oor die bye en dit is vir ons baie belangrik om meer te leer oor die gewaarwording van die by en wat die bye vir ons toekoms beteken. Langs die observasie het ons ook ‘n decor & geskenke winkel, ‘n Koffie winkel en ook ‘n Skoonheids salon oor kant die pad wat net met Simply Bee produkte velsorg behandelinge doen.”
Ook by Simply Bee het die Covid19-inperkings die pad vergemoeilik, maar het hulle geleer om aan te pas.

“Ons het geleer dat dit baie belangrik is om ten alle tye genoeg voorraad te dra. Ons was gelukkig om onder essensiële dienste te klassifiseer en kon dus aanhou besigheid doen. Ons het inderwaarheid ‘n groot groei in hierdie tyd getoon. Ons personeel het beurte gemaak om te werk, vir hul veiligheid. Ons is ook gelukkig om nog geen Covid-geval aan te gemeld het nie.”

Kontak Simply Bee by 022 723 0569 of besoek www.simplybee.co.za. Maak ‘n draai by die winkel in Kerkstraat 31A, Hopefield.

Sabino Canyon Spur

Talle ondernemings in die Swartland gaan gebuk onder die druk van die Covid19-pandemie.
Sabino Canyon Spur op Malmesbury is ook een van hierdie ondernemings, maar is beslis nie die enigste nie.
Oor die afgelope maande het die Swartland Joernaal berig oor ondernemings wat nuwe planne moes maak om hul deure oop te hou en hul personeel van werk te voorsien.
In die tyd het talle Swartlanders hul werk verloor en talle besighede hul deure gesluit.

‘n Nuwe normaal het sy plek in die samelewing gevind en dit is verblydend om te sien hoe Swartlanders saam staan en hul by die reëls en regulasies van die landswette hou.
Met die onlangse Malmesbury Sakekamer se jaarlikse aanwysing van die beste diensverskaffers op Malmesbury, het die plaaslike Spur ‘n tweede plek ingepalm, maar staan nou self met hul rug teen die muur weens die pandemie.
Eve Lakey, wat sedert 2012 hier werksaam is, het die toekenning ontvang. Sy het as ‘n kelnerin by die restaurant begin werk en haarself bemagtig en opgewerk tot ‘n bestuurder.

Maar ook hier is afleggings gedoen en aanpassings gemaak.
“Dit is nou die tyd wat ons moet boeke vat en kyk hoe en waar ons nog aanpassings kan maak, sodat hierdie konsessie op Malmesbury kan bly voortbestaan. Ons bly hoopvol en ons bly positief, maar die realiteit van die pandemie is soos ‘n glas yswater in die gesig. Dis iets wat ons op ons knieë hou, maar ons bid vir nuwe moontlikhede, nuwe idees en positiwiteit,” aldus Jopie, eienaar.

Besoek Sabino Canyon Spur op Malmesbury in Voortrekkerweg vir smullekker vleis, burgers, melkskommels en vele meer.

Plaasmol spog met talle interesanthede

By die Plaasmol-padstal op die R45 buite Hopefield, kan jy seker wees dat jy iets sal opspoor wat jou belangstelling sal prikkel.
Hier word heerlike tuisgebak, snuisterye, spys en drank, geskenke en vele meer aangetref.

Alhoewel Plaasmol ‘n padstal is, probeer hulle ook om groter groepe mense te akommodeer.

Die Plaasmol is bied kitskos, vir ‘n vinnige happie langs die pad.
Dit bied ook ‘n kort wegbreek uit die stad of die Weskus.

“Ons probeer goeie, gesonde, vars produkte hier te verkoop. So ook groente, kaas, lekkers, meel, konfyte, koeldranke en varsgebak soos ons heerlike pasteie.”

Die Plaasmol beskik ook oor ‘n kwekery, ‘n ‘petting zoo’, ‘n funksielokaal vir troues en selfs ‘n boskroeg vir ‘n drankie of twee.

Fransie Rossouw, eienaar van die Plaasmol, het tien jaar gelede die tog uit die Kaap geneem en in 2011 met ‘n troeteldierwinkel begin, maar vinnig besef dat besoekers koffie en ietsie om te ete soek.
Haar suster, Barbara Geldenhuys, het in 2018 die kwekery op die perseel begin.

Die nuutste toevoeging, die juwelierswinkel, is die breinkind van haar Fransie se dogter, Franselize.

Die begin van die Plaasmol was nie altyd maanskyn en rose nie.
“Ek het klein begin – deur goed op die plaas op te tel en dit dan te omskep in iets anders. Ek het besef dat die meeste items herwinbaar is en ons fokus sterk hierop.”
Die Plaasmol is ook rolstoel- en kindervriendelik.
As jy aangery kom, sien jy ‘n bekende baken – die vliegtuig wat eens op ‘n tyd by die Ratanga Junction-pretpark gestaan het. Een van die windplaas se lemme lê ook op die perseel, waar dit besigtig kan word.
“Ons het ook die grootste stole en pizza-oond in Afrika hier by ons.”
Die Covid19-pandemie het ook hier hard geslaan.
“Ons het vinnig besef dat die platteland ons sterk punt is. Ons het meer groente, vrugte, vleis, melk en botter begin aanhou. Alles van hoogstaande gehalte en alles vanaf plaaslike verskaffers. So het ons probeer om die plaaslike sakelui ook te ondersteun.”

Besoek die Plaasmol Padstal op die R45 buite Hopefield as jy na die opelug, iets heerliks te ete en drinke smag en jou sintuie iets wil gee om te onthou!
Kontak Fransie Rossouw by 074 924 8478.