Month: June 2021

Bulletjie uitnek

Hierdie trotse koei, Demi, spog graag met haar tweeling bulkalwers. Die tweeling se pa is Uprise. Hierdie foto, geneem deur Willem Swart, is geneem op die plaas Wolwedans, Klipheuwel, van Seymore Currie en sy Joyce’s Angus Stoet.

Afgri Betrekkings

Waak teen gloukoom

Gloukoom word gedefinieer as ‘n oogsiekte wat die optiese senuwee beskadig, as gevolg van ‘n verhoogde drukking binne-in die oog. Die optiese senuwee bestaan uit ‘n bondel senuweevesels wat daarvoor verantwoordelik is om boodskappe tussen die oog en die brein oor te dra. Die verhoogde drukking agter in die oog beskadig die senuweevesels, wat dan tot ‘n afname in visie lei. Verminderde visie begin gewoonlik aan die buitekant (periferie) en veroorsaak dan tonnelvisie.
Oorsaak? Die oog produseer vloeistof wat die vorm van die oogbal behou.
Hierdie vloeistof moet gedreineer word, om plek te maak vir nuwe vloeistof wat gevorm word. In die meeste gevalle dreineer die vloeistof nie vinnig genoeg nie en in ander gevalle word die vloeistof glad nie gedreineer nie, wat dan tot verhoogde drukking lei.
Simptome & Diagnose: Gloukoom gaan nie gewoonlike gepaard met enige vroeë waarskuwings of simptome nie. Die verlies van visie is gewoonlik stelselmating en die pasiënt kom dit eers agter wanneer dit te laat is. Optometriste kan gloukoom diagnoseer deur van die volgende drie metodes gebruik te maak:
Ons meet die intra-okulêre drukking in mmHg (millimeter kwik).
Ons meet die visie aan die periferie.
Ons kyk na die gesondheid van die optiese senuwee.
Risikofaktore sluit in: mense in die ouderdomsgroep bo 60, mense met chroniese siektes (byvoorbeeld hoë bloeddruk, diabetes en hartsiektes), gloukoom in die familie en vorige beserings/trauma van die oë.
Behandeling: sal ‘n verwysing na ‘n oogspesialis insluit. Afhangend van die oorsaak, sal die spesialis oogdruppels voorskryf en laser- of chirurgiese behandeling uitvoer.
Gereelde oogtoetse is noodsaaklik om gloukoom vroeg genoeg op te spoor, anders kan dit tot permanente visieverlies lei.
Ons sien uit om jou by Optic Edge Malmesbury te verwelkom vir jou volgende gloukoom toets!

Nuwe jeugsentrum open vir Goedverwacht

Op Goedverwacht het daar nuwe lewe verreis uit ‘n ou historiese gebou op hierdie Moerawiese dorpie.
Joan Rosenberg en Georgia Abrahams, boorlinge van hierdie dorp aan die hang van die berg, het nog altyd ‘n passie vir die jeug gehad, maar weens talle struikelblokke kon hulle nog nooit daarin slaag om hul eie program van stapel te stuur nie.
Dit was tot nou.
Nou het hierdie twee vroue beheer geneem en die Goedverwacht Jeugsentrum gestig. Die amptelike bekendstelling het Saterdag plaasgevind.
Hier het plaaslikes hul suksesverhale gedeel.
“Ons wil plaaslike mense gebruik om die plaaslike jeug te inspireer en te motiveer,” vertel Joan.
Sprekers soos Michael Claassen en Christo Booys het die jeug meer vertel oor hul lewenspad en die sukses wat hulle behaal het.
Dit sou nie moontlik wees as hulle nie ‘n borgskap van die ICA, Inisiatief vir Gemeenskapsvooruitgang, van die Bergrivier Munisipaliteit, ontvang het nie.
Die sentrum beskik ook oor sy eie Facebookblad, waar hulle hul doen en late deel.
Enige persoon wat hierby betrokke wil raak, kan gerus met Joan of Georgia in kontak tree by 063 052 2432.
Hul leuse is nie verniet “For the Community, by the Community” nie.

Hoe gemaak met snoeityd in my tuin

Wanneer?
Rose, vrugtebome, druiwestokke en krismisrose moet in die WINTER gesnoei word, verkieslik middel Julie tot einde Augustus.
Indien jy in ‘n area woon waar dit swaar ryp, moet jy selfs nog later snoei
Waarom?
Die snoei van dié plante (selfs ook die meeste ander plante) is om die plant jonk, ferm en gesond te hou. Jy verbeter ook die kwaliteit en kwantiteit van die blomme en vrugte. Verder help dit om die grootte, voorkoms en fatsoen van jou struike en bome te beheer en te verbeter.
Gereedskap!
Gebruik slegs kwaliteit snoeiskêre, ‘n skerp snoeisaag en ‘n paar ordentlike tuinhandskoene sal ook help.
NB-NB-NB: Steriliseer jou gereedskap na élke vrugteboom of roosstruik wat jy klaar gesnoei het met kaliumoermanganaat óf Brandspiritus óf Dettol. Dit verhoed die verspreiding van virussiektes tussen plante.
NOTA: 1 – Jong nuwe hout produseer die beste, so probeer dit behou so ver moontlik. Moenie dit verwar met waterlote of wildelote (by rose) nie.
2 – As jy te veel lote en takke op boom en struik agterlaat, sal daar wel baie blomme en vrugte wees, maar met ‘n kleiner vrug en swakker kwaliteit.
3 – Sodra klaar gesnoei, spuit dadelik met kalkswael (een deel per tien dele water) om sluimerende swamsiektes en ander peste te beheer. Daar is nou ook ‘n nuwe produk op die mark, by name Kumulus.
4 – Baie belangrik: Verwyder alle snoeisels, takkies, blare en lote rondom die plante om siekteverspreiding te voorkom.
Hoe knip (snoei) ek
1 – Verwyder alle dooie lote en takke, so ook alle swak en krom takke
2 – Oorblywende lote word uitgedun en tot plus minus een derde van die oorspronklike lengte teruggeknip.
3 – Swak en minder produktiewe lote word ook verwyder.
4 – NB: Maak alle snitte ongeveer 5 mm bo ‘n ogie wat na buite wys. Die snit moet skuins wees na binne, sodat water kan afloop om infeksie te voorkom.
5 – Snoeiwonde kan verseël word met “tree seal” of “steriseal”
6 – Hoogstam-rose word ook net soos ‘n bosroos gesnoei.
Voorspoed met die snoeiwerk, dit is nie so moeilik nie! Indien jy nog twyfel kom besoek ons by die kwekery sodat ons vir u kan wys hoe dit gedoen word. Ons gesels weer 28 Julie.
Tuingroete
George Retief

Moorreesburg: Die kosmandjie van die Swartland

Koringbedryfmuseum: Uniekheid op MRB
Die Koringbedryfmuseum van Moorreesburg is in 1970 tot ’n volwaardige museum verklaar en so kom die eerste koringbedryfmuseum in Suid-Afrika in 1978 tot stand met die hooftema: Om die koringbedryf in al sy variante vorme van die koms van Jan van Riebeeck uit te beeld. Die museum, gehuisves in die ou Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk, lê in die hartjie van die Swartland, wat dan ook alombekend is as die broodmandjie van Suid-Afrika.
Die gebied rondom die dorp het ongeveer 400 koringplase, wat sowat 140 000 ton koring jaarliks aan die plaaslike kooperasie lewer.
In April en Mei word daar geploeg en gesaai en die koring word tussen Oktober en Desember geoes.
Die koringbedryfmuseum op Moorreesburg is een van twee koringmuseums in die wêreld. Dit is geleë in Piketbergweg, Moorreesburg en vir ’n donasie kan dit besoek word.
Talle trekkers, implemente, oes, dors en snymasjiene in alle groottes en kleure word uitgestal – dit neem jou deur die verskillende eeue; definitief van toeka tot nou!
Sover bekend is die enigste ander museum ter wêreld wat slegs aan koring gewy is, die Hepburn Museum of Wheat in Saskatchewan in Kanada.
’n Spesiale bederf is natuurlik on jou eie stokbrood te maak! Met botter en stroop is dit beskikbaar teen R10 – slegs op bespreking!
Die museum is oop Maandag tot Donderdag tussen 08h00 en 16h30; Vrydag 08h00 tot 16h00 en naweke slegs volgens afspraak.
Gedurende die Covid inperkings mag tye egter verander.
Vir meer inligting kan Anél Hanekom by die Toerismekantoor geskakel word by 022 433 1072.

Nuwe skool vir MRB

Die splinternuwe hoër skool op Moorreesburg vorder fluks en as alles volgens plan verloop, sal die skool in Januarie 2023 sy deure open.
Die perseel is op 8 Januarie vanjaar aan die boukontrakteur oorhandig. Die projek behoort teen Augustus 2022 voltooi te wees.
Die skool beskik oor ‘n kapasiteit van 888 leerders.
Met die nuwe skool, sal Graad 8 en 9 by die Laurie Hugo Primêre Skool uitgefasseer word om druk by hierdie skool te verlig en sodat die skool as ‘n volwaardige primêre skool kan funksioneer.
Sodra die nuwe skool se Skoolbeheerliggaam (SBL) verkies is, sal die nuwe Beheerliggaam besluit op ‘n naam vir die skool en aansoek doen dat die skool as sodanig geregistreer word.
In die interim tydperk, sal na die skool verwys word as Moorreesburg Hoërskool.
Met aanvang van die kwartaal wat die opening van die skool voorafgaan, sal ‘n interim SBL, bestaande uit prinsipale uit die omgewing, distiksamptenare en gemeenskapslede, tot stand gebring word. Hierdie interim SBL sal die vakstrome vir die VOO-fase bepaal.

Tyler: Rugby is in sy bloed

Tyler Bocks se eerste liefde was nog altyd rugby. Op 14-jarige ouderdom moes hy reeds sy ouerhuis verlaat en op sy eie voete staan, om die rugbydroom wat hy van jongs af gekoester het, te verwesenlik.
Sy pa, Marlon Bocks, vertel dat Tyler vanaf 3-jarige ouderdom reeds met ‘n rugbybal geslaap het. Vir verjaarsdae was hulle verplig om rugby georiënteerde geskenke vir hom te koop.
Tyler was versot op rugby tydskrifte, en op 6-jarige ouderdom het hy reeds elke rugbyspeler se naam geken asook die posisies wat hul speel.
Dit het die Blou Bulle, Stormers, Sharks en Lions ingesluit asook die plaaslike rugbyspan, Wesbank Rugbyklub, wat kranig deur sy familie ondersteun word.
Sy rugbyloopbaan het by Laerskool Swartland in Malmesbury begin.
Daar het destydse onderwyser en afrigter, Nevin Edas, ‘n groot bydrae gelewer tot Tyler se rugbyontwikkeling.
Aan teleurstellings was daar geen tekort, maar omdat die passie en dryfkrag daar was, het Tyler nooit moed opgegee nie.
Dit het hom net meer vasberade gemaak om homself te bewys.
Harde werk en opoffering was dus aan die orde van die dag, maar sy selfvertroue was bewonderenswaardig.
Tyler se hoërskoolloopbaan begin by Paul Roos in Stellenbosch.
Omdat hy op rugby wou fokus en sy spel wou ontwikkel was dit ooglopend die beste keuse, maar finansieel was dit vir sy ouers bykans onmoontlik. Hy was dus genoodsaak om vanaf 14 jaar reeds te leer om onafhanklik te wees en op sy eie voete te staan.
Met behulp van plaaslike inwoners en besigheidseienaars kon sy ouers egter die oorbruggingsfase vir Tyler makliker maak.
Hulle kan nie genoeg dankie sê vir die onbaatsugtige ondersteuning wat hulle destyds ontvang het nie.
By Paul Roos het die harde werk egter begin. Daar was baie talentvolle jong spelers en Tyler moes dubbel so hard werk om homself te bewys.
Maar, ongeag al die uitdagings het hy nog steeds uitgeblink:
Op 14: Haal hy die ‘W.P Lead Suad’.
Op 16: Haal hy die ‘Grant Como’ W.P-span.
OP 17: Haal hy die Sewes W.P-span asook die ‘W.P Elite’ Span vir Craven Week o.18.
Hy word egter nie gekies vir die SA Ontwikkellingspan nie, en dit was vir hom ‘n groot teleurstelling.
In graad 11 bring onvoorsiene ontwik-
kelinge daartoe mee dat Tyler sy hoërskoolloopbaan by Boys High in Rondebosch voort sit.
Volgens sy pa, Marlon, was dit een van die beste besluite wat Tyler kon geneem het. Afrigter, Peter Engledow, het op sy sterk punte gekonsentreer en dit ontwikkel.
Tyler het die blootstelling gekry wat hy nodig gehad het en van daar is hy in die Craven Weekspan asook die SA Skole Span opgeneem.
Hierdie kranige, jong speler het beslis ‘n indruk gemaak want aanbiedinge van die Lions, Sharks en Stormers was kort daarna op die tafel.
Tyler het egter besluit om hom by die Lions aan te sluit en het ‘n 3 jaar kontrak met hulle geteken.
Hy het onlangs deel uitgemaak van die ‘SA Academy’ o.20-span en is kort daarna, as een van die 30 spelers, vir die Junior Springbok-span gekies.
Sy pa noem dat hy verstom staan wanneer hy besef watter impak Tyler, tot op hede, in ander jong spelers se lewens gemaak het.
Asook die liefde en respek wat sy medespelers vir hom het.
Tyler is egter steeds die nederige mens wat hy nog altyd was.
Sy voete standvastig op Moeder aarde en sy oë gefokus op ‘n hoër hand wat hom genadiglik dra.
Tyler se ouers, Marlon en Carmen Bocks, wil graag almal, wat deur die jare ‘n impak, asook bydrae, tot hul seun se rugby loopbaan gemaak het, hartlik bedank. Dit sluit in familie, vriende, onderwysers, afrigters asook inwoners van Malmesbury. Die passie en liefde was daar vanaf die begin en deur die jare moes daar dikwels opofferings gemaak word.
Maar…harde werk, geloof asook die liefde en bystand van baie, het hierdie droom vir jong Tyler Bocks van Malmesbury verwesenlik.

Verkeersafdeling gesluit

Neem asseblief kennis dat die motor registrasie kantore asook die leerling-en bestuurslisensie afdelings in Malmesbury, Moorreesburg en Darling is gesluit as gevolg van personeellede wat positief getoets het vir Covid-19.Die kantore sal vandag gesaniteer word en heropen weer vir besigheid op Woensdag 30 Junie 2021. Personeel sal vanaf Woensdag op n rotasie basis aan diens wees soos voorgeskryf deur die Regulasies (Level 4). Leerling-en bestuurderslisensie afsprake van vandag en more sal herskeduleer word.
Die munisipaliteit vra verskoning vir enige ongerief.

Nuwe wa vir Darling

Die Swartland Munisipaliteit het Vrydag ‘n splinternuwe brandweerwa, gefinansier deur die Wes-Kaap-regering, ontvang. Hierdie wa is geoormerk vir Darling.