Day: January 28, 2022

Graad 1’s klok in

Verlede week het talle opgewonde gesiggies die skoolbanke vir die eerste keer gevul, terwyl ander weer hierdie einste banke vaarwel geroep het. Hierdie leerders van die Laerskool Swartland op Malmesbury is opgewonde om saam met Melanie van Velden die skool binne te stap.

Ds Moorrees bedien gemeente 48 jaar

Moorreesburg is vernoem na Johannes Carolus le Febre Moorrees, die eerste Predikant van die Swartland Gemeente vanaf 1834 tot 1881.
Die area wat hy moes dien het gestrek vanaf Eendekuil in die noorde tot en met Philadelphia in die suide, Hopefield in die ooste en dan ook die Riebeekvallei in die weste.
Sy dienstydperk het oor byna 48 jaar uitgestrek. Daardie jare was die perdekar en die ryperd die basiese vervoermiddel en die verbindingsweë was smal paaie met ruie bosse.
Dit het tot gevolg gehad dat Ds. Moorrees die verskillende dorpe slegs een keer in 3 maande besoek het, waar al die sakramente dan bedien is. Dan was dit heeldag kerk want hy moes doop, huwelike bevestig, katkisante aanneem asook vergifnis van sonde doen.
Op 3 Desember 1879 is die Nederduits Gereformeerde Gemeente Moorreesburg gestig en die dorp is daarna na hom vernoem.
Ds. Moorrees is op 24 Augustus 1807 in Kaapstad gebore.
Daar het hy ook eerste skoolgegaan. Sy teologiese opleiding het hy aan die Utrechtse Hoërskool ontvang, en terwyl hy daar op studie was het hy saam met nog ‘n ander student, Philip Faure, deelgeneem aan ‘De Tiendaagshe Veldtocht tegen België’ en hom daarby so onderskei dat hy met die toekenning van die Metale Kruis vereer is – ‘n eerbewys wat ook sy mede kameraad Faure te beurt geval is.
Op 9 September 1833 is hy aan die Kaap gelegitimeer en kort daarna aangestel as predikant van die Swartland. Sy bevestiging het plaasgevind op 20 Februarie 1834 en sy intreerede was gebaseer op 2 Korinthiërs 12 – 14. In 1880 toe Moorreesburg afgestig is, het sy naam bo aan die lys van diensdoende predikant gestaan net soos sy seun , die Hoog Eerwaarde Professor Moorrees wat toe pas in die bediening getree het.
Hy het op 26 Junie 1881 afskeid geneem van sy gemeente en is op 20 Junie 1885 oorlede.
Bo: Johannes Carolus le Febre Moorrees

Afrigtingskliniek by LSS

‘n Atletiekafrigtingskliniek word Saterdag op die velde van die Laerskool Swartland op Malmesbury aangebied.
Die doel van die kliniek is om atletiek as sportsoort te bevorder en om afrigting en voorligting te verskaf deur ervare, gekeurde en uitgesoekte Vlak III-afrigters.
Alle ouderdomsgroepe is welkom.
Die kliniek beloop R100 per atleet en vind vanaf 04:45 tot 14:10 plaas. Registrasiekaartjies word om 08:45 op die pawiljoen ontvang.
Items wat aandag sal geniet is naellope, middelafstande, verspring, hoogspring, hekkies, gewigstoog, diskus en spiesgooi.
Kontak Elmarie Marais by 084 517 4692 met navrae.

Betrekkings

‘Doen die gewone buitengewoon goed’

Jana de Waal, ‘n matrikulant van die Hoërskool Dirkie Uys op Moorreesburg, spog met ‘n gemiddelde persentasie van 97% in haar eindeksamen en sien daarna uit om Spraak-, Taal- en Gehoorterapie aan die Universiteit van Stellenbosch te studeer.
Volgens Jana het sy haar ten volle toegespits op die September-eksamen van 2021.
“Ek het besef dat as ek dan alles gee, sal die eindeksamen se voorbereiding dalk net ‘n bietjie makliker wees,” sê sy met ‘n egte Swartlandse bry.
“Ou vraestelle is goud.”
Haar gunsteling skoolvak is lewenswetenskappe en dis vir haar interessant “en ongelooflik om te leer hoe die prosesse in die menslike liggaam werk”.
“Dis eintlik so moeilik om ‘n hoogtepunt uit te kies, want alles is ‘n hoogtepunt, want jy doen dit vir die laaste keer, maar ‘n hoogtepunt was die matriekafskeid. Nie net omdat die hele dag my soos ‘n prinses laat voel het nie, maar om as ‘n groep saam met my klasmaats te kon wees, voor die stresvolle eksamen begin.”
En wat gaan sy die meeste mis?
Haar skoolklere!
“Dit klink baie snaaks, maar dit is so maklik om te weet wat om elke dag aan te trek. Ek kan baie besluiteloos wees!”
As sy na haar toekoms kyk, sien sy ‘n suksesvolle praktyk, waar sy haar passie kan uitleef en om die wêreld te verken as sy die dag vakansie neem en so meer leer van verskillende kulture vanoor die wêreld.
Vir Jana was aanlynskool ‘n uitdaging en het dit haar dissipline en motivering op die proef gestel, maar vir haar die geleentheid gebied om aan te pas en hoër eise aan haarself te stel en so ook voor te berei vir die universiteitsjare.
“Soms voel matriek soos ‘n reuse berg, maar as jy elke dag ‘n klein treetjie neem en dan terugkyk, sal jy sien dit was nie net Tafelberg wat jy uitgeklim het nie, maar Kilimanjaro. Dis soveel beter om dit self uit te klim en met elke tree die uitsig te geniet.Vergeet van die kabelkar en klim die berg. Moenie die maklike uitweg neem nie, want jy mis uit op die wonderlike daarvan. Hou aan werk tot die einde, want God sal jou paaie gelyk maak. Doen in 2022 die gewone dinge buitengewoon goed,” aldus Hoërskool Dirkie Uys se slagspreuk.

Foto: Pulse Images

Tuinkenner-Retief gee raad met jou Februarie-tuin

Hierdie tyd van die jaar is dit baie warm en net soos ons mense, kry die tuinplante ook swaar. Daar is ook hierdie tyd van die tuinmaak-kalender heelwat dinge waaraan ons tuiniers aandag moet skenk:
Wees op die uitkyk in jou roostuin (ook elders in die tuin) vir Rooispinmyt-besmetting. Die eerste tekens van dié plaag is so ‘n vaalgrys, gespikkelde, sout-en-peper-voorkoms op die bokant van die blaar en as jy die blaar aan die onderkant bekyk, sien jy die mikroskopiese klein insekte beweeg.
Soms is daar ook ‘n baie fyn spinnerakweb sigbaar tussen die takkies en die blaar. Dié plaag suig plantsap uit die plant en plaas plante onder baie stres en kan op die langduur die plant heeltemal dood maak. Dit is ‘n plaag wat gewoonlik gepaardgaan met warm, droë, stowwerige toestande en kan nogal baie skielik toeslaan en vinnig versprei (veral dié tyd van die jaar).
Om dit te beheer, moet jy weekliks ‘n baie deeglike bespuiting doen van die plante, veral aan die onderkant van blare vir ten minste 4-5 weke. Gebruik ‘n erkende middel teen rooispin-myte. Gebruik ook ‘n goeie kleefmiddel om te help met die verspreiding van die produk.
Dié tyd van die jaar kan jy jou rose ook ‘n ligte somersnoei gee om weer nuwe groei te bevorder, moet net nie te swaar snoei dat daar te min blare oorbly om die stamme teen sonbrand te beskerm nie.
Rose benodig baie water en gereelde voeding. Moenie kortpaaie vat nie, want dan gaan jy nie mooi, gesonde plante met baie blomme hê nie. Daar is ‘n verskeidenheid van voeding vir rose op die mark, gebruik dié met ‘n hoë kalium inhoud vir baie en mooi blomme, maar ook genoeg stikstof vir mooi gesonde, blare (3.1.5; 8.1.5; Vigorosa 5.1.5; 1-for-all 13.3.8)
Op die oomblik sukkel ons tuiniers ook weer met ‘n taamlike aggressiewe besmetting van sitruswitvlieg (woolly whitefly aphid), wat veral suurlemoenbome, maar ook alle ander sitrus-spesie, aanval.
Dié plaag kom ook op die onderkant van die blare voor en die heuningdou wat die goggas afskei, maak die blare taai en later raak die boom pikswart soos die “black soot” op die blare versamel.
Hier moet met ‘n kombinasie van twee giwwe gespuit word, eerste week 2 tot 3 keer en daarna nog omtrent vir nog 4 tot 5 weke, een keer per week, of tot die plaag uitgeroei is.
Ons gebruik die Makhro Siezer 100ec, plus SK ECO oil spray of Oleum in kombinasie (jy meng die twee saam) en weer eens moet die bome deeglik onder hul blare gespuit word.
Ten slotte: ek sien so baie tuiniers wat hul tuine natspuit met die tuinslang sonder dat hulle ‘n lekker sagte spuitkop gebruik. Die straal water wat uit die pyp kom, spoel dat die grond so spat, party gebruik ‘n vinger voor die pyp om kamma die water te breek, maar nog steeds spoel die plante se wortels kaal.
Asseblief, vir die plante se onthalwe, gebruik ‘n ordentlike spuitkop of sit ‘n klein “skilpad-spuit” op die grasperk of langs die bedding sodat die plante ‘n lekker sagte sproei kan beleef.
Tuingroete tot 23 Februarie
George Retief

Goeie begin vir CK-rolbal

Moorreesburg kroon kampioene: Pieter Willemse en Alta Vos is die klubkampioene in die mans- en dames enkelspel afdelings vir 2021. Hulle het uitstekende spel gelewer Saterdag in die uitermatige hitte en Alta het haar titel van verlede jaar suksesvol verdedig. Moorreesburg Rolbalklub se Besigheidsliga gaan binnekort weer begin en alle besighede word genooi om solank hulle spanne bymekaar te kry. Jonk en oud is welkom om by die klub te kom rol. Voornemende spelers het drie maande om dit uit te toets alvorens lidmaatskapgelde betaalbaar is. Kontak die President Johann Smuts by 076 693 1538 of die
wedstrydsekretaris, Kiewiet van Rooyen by 082 896 5826.

Die afgelope naweek het Malmesbury se mansrolbalspan ‘n puik oorwinning van 42-26 (10-2) behaal teen Sunningdale, een van hulle tradisionele aartsvyande, in die WP Vlag-liga.
Weens die uitermate warm weer en hoë humiditeit, is die wedstryd se afskop met ‘n uur aangeskuif en het spel eers om 15:00 begin.
Die span van Daniël Griebenauw, Marius Huysamen, Lodewyk Lesch en SG Basson het nes die vorige naweek ‘n swak begin gehad deur die eerste stel met 3-8 te verloor, maar byt daarna die stang goed vas om die wedstryd 20-12 te wen, met die tweede stel 8-3 en die 3de stel 9-1 in hulle guns.
Die span van Roux Vermeulen, Altus Myburgh, Jehan van Niekerk (wat sy debuut in die Vlag-kompetisie gemaak het), en Rainier van Zyl begin rampspoedig deur 1-7 agter te loop na 3 skofte. Hulle toon egter groot veggees en wen die stel 9-7. Die tweede stel 8-1, nadat hulle 9 skofte na mekaar wen. In die laaste stel verloor hulle 5-6, maar wen die wedstryd 22-14. Volgens Roux het Rainier uitstaande spel as lei gelewer, wat sy direkte teenstaander moedeloos gehad het. Jehan het die druk van ligaspel goed verwerk en goed gekonsolideer op Rainier se druk. Altus lewer soos gewoonlik bestendige spel, en het ’n paar keer die opponente verstom gelaat met skitterende spel. So ‘n groot oorwinning weg van die huis af is altyd goed, en volgens Roux hoop hy dat hierdie onervare span die druk sal verwerk in die oorblywende 6 wedstryde.
Op 15 Januarie het die liga tuis begin teen Old Oak, en Malmesbury wen die wedstryd met 7,5-4,5. Toe het Daniël, Marius, Lodewyk en Jeff Petersen, wat sy eerste Vlag-wedstryd gespeel het, ‘n swak eerste stel beleef deur dit 3-12 te verloor. Hulle trek toe hulle sokkies op en vermorsel hul opponente met 14-2 en 10-7 in die daaropvolgende stelle, en wen 27-21. Die span van Roux, Altus, Ricardo Rickett en Rainier, wie beide hulle debuut in die Vlag-liga gemaak het, speel 7 elk gelykop in die eerste stel. Daarna gee hulle ‘n 4 en ‘n 6 af om die 2de stel 3-14 te verloor, net om weer die 3de stel 9-1 te wen. Hulle verloor 19-23, maar Malmesbury wen uiteindelik die wedstryd naelskraps 46-44.
Malmesbury het ook ‘n span van 6 spelers in die WP Driespel-liga, wat opgemaak word deur gemengde spanne. Hulle eerste wedstryd op 15 Januarie was weg teen Kraaifontein. Paul Rossouw, Jehan van Niekerk en Tia Petersen wen 1 stel, en die wedstryd naelskraap 19-18. Deon Bosch, June Rickett en Zelda Jordaan sukkel strykdeur, en verloor 3-23. Malmesbury verloor dus 22-41, en met 3-9 op die punteleer.
Saterdag speel die Vlagspan weg teen Goodwood, en die Driespel span tuis teen Bellville.
Intussen het die klub 6 nuwe spelers by gekry, naamlik Elrika Lesch, Billy Barrett, Deon Bosch wat ‘n ervare speler is, Henfré Brand, wat op skool vir Malmesbury en WP o/18 gespeel het, Brian Howell wat jare lank vir Mowbray gespeel het, en gereeld met Malmesbury slaags geraak het, en Cobus Vermeulen. ‘n Somaliese boorling, Abu, wat Afrikaans onder die knie het, kom rol gereeld en dit lyk asof hy binnekort ‘n lid gaan word. Die ledetal is tans 24, waarvan 4 dames is, en 12 novices, met ander woorde hulle speel 3 jaar of minder rolbal en 2 lede is nou in hulle vierde jaar. Met nog ‘n paar mense wat dit ernstig oorweeg om ook aan te sluit. Belangstellendes kan vir Roux (0834789616) of Jeff (0728074545) kontak.

Aksiebelaaide rugby wag in 7’s-toernooi

Hierdie naweek sal dit kook op Malmesbury, maar hierdie keer op die Wesbanksportgronde wanneer die jaarlikse Malmesbury Superspar/Spar the Bank 7’s-toernooi aangebied word.
Anders as in die verlede, sal die toernooi vanjaar slegs op een dag aangebied word.
Die toernooi het in die verlde oor twee dae gestrek.
Die totale prysgeld beloop R50 000, met R24 000 vir die wenner en R10 000 vir die naaswenner. Inskrywingsgeld beloop R2000 per klub.
Vanjaar sal 24 spanne deelneem en om ten volle teen Covid-19 ingeënt te wees, is ‘n vereiste vir spelers om te kan meeding.
“Covid het die klub lelik getref en daarom moes ons noodgedwonge die aantal deelnemende spanne van 60 na 24 verminder. Die klub het wel steeds gevoel om die standaard van die toernooi te behou en juis hierom is die inskrywingsgelde, asook prysgeld, verhoog,” aldus Eduaan Howburg.
Spanne wat reeds ingeskryf het: St George’s; Wesbank; Pretoria Harlequins; Mamre RVK; Mamre B; Young Eagles; Evergreens Paarl; Vredenburg; Abbotsdale; Abbotsdale B; Helderberg; Riebeeck United; Kylemore; Wesbank B; Young Hearts; Hillcrest; Roses United; Namakwaland 7’s; Hamlets; Mamre; Strand; Never Despair; Moorreesburg

Hekgelde beloop R30 vir volwassenes, R20 vir voertuie en R20 vir skoliere.