Day: April 29, 2022

R3.5mil vir baken

Die voorheen International Hotel-perseel in Hoofstraat, Moorreesburg, is een van die statige ou geboue van die omgewing met ‘n skatkis van historiese geskiedenis en karakter. Dit wek goeie herinneringe op by sommige ouer Moorreesburgers.
Hierdie baken is nou in die mark vir R3.5 miljoen.
Die hotel is in die tydperk voor die tweede wêreld oorlog gebou toe baie Joodse gesinne hulle in Suid-Afrika kom vestig het. Gedurende daardie tyd, het die Joodse gemeenskap ‘n aansienlike bydrae gemaak tot die sake-ontwikkeling, veral in die platteland. Die hotel het oorspronklik aan die Joodse sakeman, Mnr. East behoort. Die East- gesin het twee kinders, Norman East en Saul East gehad. Albei van die kinders het op Moorreesburg skool gegaan. Die jonger East-geslag het nie belang gestel om die besigheid van hulle ouers oor te neem nie. Dit het daartoe gelei dat die hotel in die vroeg vyftiger jare verkoop is aan Sammy en Bertha Katz. Sammy was ‘n familielid van Jo Katz. Jo en sy vrou Pearl het die ander hotel op die dorp, in daardie jare bekend as die Royal Hotel bedryf.
Vervolg op 3
Nadat Ivan Katz, seun van Jo en Pearl, die bedryf van die Royal Hotel by sy ouers oorgeneem het, het hy dit herdoop na die Samoa Hotel en die naam is tot vandag nog in gebruik.
Terug na die International Hotel.
Reisigers wat by die hotel oorgebly het, het soms motorbestuurders gehad. Die motorbestuurders het in die annex tot die hoofgebou in die agterplaas oorgebly waar hulle hul eie ablusie geriewe en ruskamers gehad het. Hierdie strukture is steeds in bruikbare toestand in die agterplaas van die hotel gebou.
Daar was 6 motorhuise beskikbaar waarin reisigers hulle motors kon toesluit, plus ekstra oop parkering.
Afgesien van die reisigers wat in die hotel oornag het, het die plaaslike gemeenskap ook die hotel goed ondersteun. Die hotel was bekend vir lekker Sondag etes. Dit was ook die bymekaarkomplek van die manne na werk.
Saterdag oggende, wanneer die boere uit die distrik hulle werkers dorp toe gebring het, het sommige van hulle lekker saam gekuier in die hotel. Terwyl die manne in die kroeg mekaar opdateer het met die plaaslike nuus en gebeure, is daar selfs voorsiening gemaak vir die kinders. Hulle is in die sitkamer geakkommodeer waar die waar die kinders van die verskillende plase met mekaar kon saam kuier. Die kinders is getrakteer met koeldrank en skyfies, terwyl almal geduldig (en lekker gesellig) gewag het tot die werkers klaar is met hulle weeklikse inkopies in die dorp. Daarna het almal weer teruggekeer plaas toe…tot volgende week.
Ek het met oom SP De Greeff, een van die oudste inwoners van Moorreesburg gesels oor die ou dae van die International Hotel.
Oom SP se pa, Andrew De Greeff was ‘n skrynwerker. Toe Sammy en Bertha Katz die hotel oorgeneem het, het sy pa vir die hotel ‘n nuwe eetkamer tafel en stoele gemaak van akkerhout.
Volgens Oom SP, was Sammy en Bertha vir hom soos familie. Hy was nooit getroud nie en het bykans daagliks by die hotel geëet. Die hotel was bekend vir lekker kroegetes. Wanneer Oom SP verjaar het, het Bertha vir hom ‘n duur bottel whiskey gegee. Sy sou dan vir hom sê, “This is for you SP and not to share with others.”
Pikkie Coetzee en Jan Coetzee was die kroegmanne. Die kroeg was uniek weens die sirkelvormige uitleg van die kroegtoonbank. Die gaste het in ‘n kring om die toonbank gesit en bediening was van die binnekant van die sirkel af.
Daar is lekker gedans ook in die hotel. Oom SP vertel dat Andries Smit die musiek gespeel het met sy platespeler. Dit was ‘n houtvloer waarop gedans is. Die mense is gewaarsku om nie naby die platespeler te dans nie. Wanneer dit lekker gaan en die mense dans te naby die platespeler, het die beweging van die vloer die platespeler se naald laat hop. Dan sou Andries baie kwaai die dansers vermaan om weg te dans van die platespeler af.
Die rol van die plattelandse hotelle het grootliks verander met klemverskuiwing in toeriste voorkeure na gastehuise en restaurante met lisensies om alkohol te bedien. Baie van die ikoniese plattelandse hotelle het nie oorleef nie.
Die International Hotel is in 1995 verkoop aan die ACVV op Moorreesburg. Die ACVV het dit omskep in ‘n ouetehuis. Dit is tot vroeg in 2022 bedryf as ‘n ouetehuis, waartydens dit nie meer ekonomies volhoubaar was nie. Hierdie gebruik as ouetehuis gedurende die afgelope 27 jaar, het baie daartoe bygedra dat die geboue goed behoue gebly het en nou gereed is vir ‘n volgende gebruik doel.
• Cobus van der Merwe
083 440 5172 Skrywer en verkoopsagent
Besoek ook Ontdek Moorrees op FB.

Ploeg en saai in die Swartland

Dis ploeg- en saaityd in die Swartland en die landerye is nou ‘n miernes van bedrywigheid.
Heel bo word die lande van Groot Phesantekraal van Rennie Brink omgedolwe.
Bo is die plaas van Truter de Kock onder stof soos daar geploeg word.

Afgri Equipment groet en verwelkom personeel

Die span van Afgri Equipment het onlangs hul personeel vir jare getroue diens vereer. Op die geleentheid is ‘n paar bekende gesigte wat aftree gegroet en nuwe gesigte tot die span verwelkom.
Bo: John de Kock, Jannie Visser en Hercu Hofmeyr groet nou die span van Afgri Equipment, wanneer hulle met aftrede gaan. Hofmeyr is ‘n tegnikus en spog met 43 jaar diens aan die maatskappy. De Kock, ook ‘n tegnikus, spog met 17 jaar diens. Jannie Visser het 25 jaar diens as takbestuurder vaan Afgri Equipment Hy het 16 jaar op Moorreesburg en nege jaar op Malmesbury as takbestuurder gedien.

Tuinkenner gee raad

Oor die afgelope 50 jaar het tuinmaak deur baie verskillende fases gegaan en nog steeds verander dinge, so wanneer ek terugkyk dan is ek eintlik verstom.
Tydens die sestiger & begin sewentiger jare was sukkelente die mees populêre plante, dit het bestaan uit vetplante, kaktusse en aalwyne.
In daardie tyd het tuiniers nog nie so baie struike en saailinge (blomplantjies) geplant nie. Tuine was groot, een deel met baie vrugtebome, ‘n ander deel was die groentetuin, soms was daar ‘n groot grasperk met ‘n paar blombeddings rondom en ‘n roosbedding het die tuin afgerond.
Die hele tuin was in reghoeke of vierkantige blokke uitgelê met sementpaadjies tussenin wat met randsteentjies afgerond is.
Hier en daar was daar ‘n groot boom, hibuskusse en bougainvilleas was ook redelik populêr. In hierdie tyd was die algemene houers vir stoep- en huisplante, kleipotte en was bome en struike in kwekerye nog in leë blikke geplant, voordat die eerste plastieksakkies hul verskyning gemaak het.
Vanaf die middel-sewentigs was daar ‘n groter aanvraag vir meer bome en ‘n wyer verskeidenheid struike, groot en klein.
Huisplante het ook meer in aanvraag begin kom soos wat tuiniers begin het om klein binnetuintjies te skep. In die jare was asbespotte en houers baie gewild, daar was ‘n groot verskeidenheid fatsoene en vorms, potte wat lyk soos ‘n swaan of reuse skoen-, ‘n gholfbal- of vaatjie-posbus en nog vele ander interessate patrone.
Tot en met hierdie tyd het die Wes-Kaap ook oor geen groothandel kwekerye beskik nie, alle plante is van elders in Suid-Afrika af ingebring met die treine. Eers in die laat sewentigs, begin tagtigs het die eerste groothandel-kwekers begin om plaaslik plante te voorsien aan die kleinhandel-kwekerye.
Gedurende die tagtigs en negentigs het daar ‘n groter vraag ontstaan na kleipotte wat vanaf die Oosterse lande ingevoer is.
Daar was ‘n wye verskeidenheid van kleure in klei, “saltglased” en geglasuurde potte. Hier was die patrone en vorms eindeloos.
Tuine het ook begin om ‘n gedaante verwisseling te ondergaan, groot erwe is onderverdeel, die sementpaadjies is opgebreek en beddings het meer vloeibare lyne begin kry.
Met die groot bome wat in tuine meer skadu begin gee het, het tuiniers begin soek na plante en struike wat in koelte kon groei, Clivias, Hydrangeas, Katjiepiering, ens. In hierdie tydperk het blomplantjie saailinge al hoe meer gewild begin word en die aanvraag het geweldig gegroei, in so ‘n mate dat ‘n paar kwekers net hierin gespesialiseer het.
Soos die tyd aanstap, het water duurder en skaarser begin word,
Tuiniers het meer “kompak” begin tuinmaak, meer inheems begin plant en nou begin die sukkelente plante ook weer in aanvraag kom. Met elke droogte tydperk raak houers (potte) meer gewild, daar word meer klippies in tuinuitleg gebruik en paadjies word met plaveiblokke uitgepak of hulle gooi perske- of appelkoospitte.
Daar word al meer van ‘n deklaag gebruik gemaak om water te bespaar. Grasperkte word kleiner of verdwyn, so die kinders en Wagter weet nie meer waar om te speel nie.
Ja, so sal tuinmaaktendense bly verander soos die tyd aanstap en tuiniers moet aanpas by omstandighede.
Lekker tuinmaak, ons gesels weer op 25 Mei 2022

Tuingroete
George Retief

Betrekkings

Groot Uitdaag beloof uithaler-rugby

Good Hopes RVK speel Saterdag gasheer vir Wesbank RVK wat tans in ‘n verwoestende bui is. Wesbank het die naweek gewys dat hulle hierdie seisoen vir groot opskudding gaan sorg, ná hulle Porterville RVK gemaklik met 57-19 geklop het.
Dit was veral Gavern Skippers wie groot kopsere vir Porteville RVK veroorsaak het met 3 drieë en 5 doelskoppe vir ‘n gesamentlike bedrae van 25 punte.
Die vleuels Luuk Van Der Westhuizen met ‘n driekuns van drieë en Redeuwaan April met sy tweekuns van drieë het ook sirkels om hulle teenstaanders gehardloop. Die drieë deur die agterlyn is ‘n teken dat hardloop-rugby op die spyskaart was vir Wesbank-ondersteuners.
Die voorspelers van Wesbank het egter die grondslag gelê met hulle klipharde inklimspel, met veral die agsteman Charlie Gerber aan die spits.
Good Hopes sal dus sy storie moet ken Saterdag indien hulle enige resultate uit die wedstryd wil kry. Good Hopes RVK is gewoonlik baie hardkoppig op hul tuisveld, maar Wesbank sal egter ‘n berg te hoog wees om te klim eerskomende Saterdag. Wesbank RVK behoort weer hul talente ten toon te stel met n gemaklike oorwinning van meer as 15 punte.
Never Despair RVK speel gasheer vir Moorreesburg RVK. Hierdie wedstryd lewer gewoonlik hope vermaak vir die inwoners van Malmesbury asook besoekers op.
Albei spanne spog met jong talent, asook gesoute hardebaarde wat vir groot opwinding kan sorg. Never Despair het verlede Saterdag gewys dat hulle reg is vir besigheid deur die nuweling Wittewater Villagers RVK op sy tuisveld ‘n groot pak slae te gee. Moorreesburg RVK op sy beurt het gewys dat hulle self groot planne hierdie seisoen het met ‘n bonuspuntoorwinning teenoor Good Hopes RVK.
Dit was veral die jong vleuels Christo Januarie en Jason Damons wat gewys het hulle is gereed om hulle talente te wys in die Groot Uitdaagbeker. Saam met Speler van die Wedstryd Flippie Jacobs en die ervare senterpaar Ruan Van Rooy en Jehan Bonn was Moorreesburg RVK baie goed met die bal in die hand en by tye het Good Hopes RVK nie antwoorde gehad vir Moorreesburg RVK se aanvallende spel nie. Die gemoedere het egter by tye bietjie hoog geloop met die skeidsregter wat ‘n paar geel kaarte asook ‘n rooi kaart moes wys om die spelers te bedaar.
Moorresburg RVK lyk weer honger vir rugby en sal die Tier sommer vinnig terug in sy hok wil sit. Moorresburg RVK behoort die knoop net-net deur te haak met ‘n oorwinning van minder as 7.
Ná ‘n groot nederlaag, speel die span van Koringberg RVK gasheer vir die Lillies van Abbotsdale. Abbotsdale RVK het verlede naweek gewys dat hulle hierdie seisoen een van die groot gunstelinge sal wees deur Saron RVK met 50-20 te klop. Abbotsdale RVK was gelukkig om Bertram Gysenberg weer in sy geledere te hê en hy het nie teleurgestel met sy skoppe na die pale nie. Die klipharde Milroy Isaacs was ook weer ‘n yster met die bal in die hand en het Abbotsdale RVK geduring op die voorvoet geplaas. Saron RVK het net nie antwoorde op verdediging gehad vir Abbotsdale RVK se hardloop rugby nie en Sergio Prins en Curt Lee Claasen verdien ook elk ‘n pluimpie vir hul uitblinker-vertonings. Koringberg RVK sal wil opmaak vir sy nederlaag teen Darling RVK verlede Saterdag. Darling RVK het die wedstryd goed begin en twee vinnige drieë gedruk. Koringberg het egter terug geslaan met ‘n drie en doelskop deur Winston Lee van Wyk. Albei spanne het weer gaan druk en teen rustyd kon ‘n mens nog nie ‘n wenner voorspel nie. Koringberg RVK het egter in die tweede helfte vergeet hulle moet nog 40 minute rugby kom speel en was heeltemal platgeslaan met Darling RVK se verwoestende spel in die tweede helfte. Koringberg RVK het verwoed probeer terugveg met Gavin Claasens en Robin Jagers aan die spits, maar Darling RVK was net te goed. Dit is moeilik om te sien hoe Koringberg RVK eerskomende Saterdag vir Abotsdale RVK gaan stuit en die Lillies behoort te seëvier met ‘n oorwinning van meer as 10 punte.
Darling RVK reis Saterdag na Porterville RVK met sy stert in die lug na ‘n goeie oorwinning verlede naweek. Darling RVK se terugkerende kaptein Earl Lewis het van voor gelei met sy goeie vertoning op verdediging en op die aanval. Saam met die kragmanne Lood Lingeveld en Shane Sameuls het hulle Koringberg RVK in die tweede helfte gedurig op die agtervoet gehou. Die Warnick-skakelpaar van Darling RVK, Arnesto en Jemeel, het die wedstryd goed dikteer met hulle taktiese skopwerk. Dit het gehelp dat Koringberg RVK geen punte in die tweede helfte aanteken nie. Porterville RVK wie baie potensiaal getoon het in hul vriendskaplike wedstryde sal sy tuisveld goed wil benut om dinge vir Darling RVK moeilik te maak eerskomende Saterdag. Die verdedigende kampioen behoort egter te veel skietgoed in sy arsenaal te hê en Darling RVK sal wegstap met ‘n oorwinning van minder as 10 punte.
Soos gewoonlik beloof die Swartland Groot Uitdaag Beker weer goeie hardloop rugby op te lewer en hope vermaak te verskaf aan toeskouers. Sterkte aan al die spanne met hul voorbereiding vir die wedstryde. • Abri Adonis