Day: June 13, 2022

‘n Nuwe begin in Riebeek-Wes

• Jana du Plessis Müller

By Voortrekkerstraat 21 is daar ’n nuwe begin te sien in die gestalte van die Twintig 21 Nuwe Begin-sentrum wat eersdaags sy deure vir die publiek open.
Die aangrensende besigheid, Riebeek-Wes Garage – insluitende die welbekende Engen vulstasie en motorwerkswinkel – het in 2021 sy vyftigste bestaansjaar gevier met die afskop van die bouprojek.
“Die projek simboliseer nie net ’n nuwe begin vir ons nie, maar ook vir Riebeek-Wes en die gemeenskap hier,” sê eienaar Ella Blom.
Saam met Willem Coetsee het hulle die projek in 2021 van stapel gestuur met die oorhoofse doel om by te dra tot die transformasie van die dorp.
“Die naam van die sentrum spreek vanself oor iets nuut en vars,” voeg Coetsee by. “Met die onlangse verbeteringe in die dorp is die tyd ryp om voort te bou op die ‘nuut-maak’ van die dorp.” Die sentrum beoog nie net ’n nuwe begin vir die onmiddellike huurders en hulle besighede nie, maar ook vir bestaande besighede met die visie om heelwat voete na die aantreklike gebou te lok en sodoende die aandag op Riebeek Wes as dorp in sy geheel te fokus.
“Riebeek-Wes is ’n besigheidsdorpie waar die gemeenskap en omliggende boere hulle sake in die dorp kom doen en die koöperasie besoek, en dis hierdie insig wat ons in gedagte gehou het toe ons besluit het met watter besighede en huurders ons hande gaan vat,” sê Coetsee.
Dis nie net die besigheidsektor wat aan ’t verander is nie, maar die eiendomsmark sien ook groei. “Daar is heelwat beweging in die vallei; in beide Riebeek Wes en Kasteel kry ons gereeld navraag na eiendom,” sê Rainier Fourie van Pam Golding Riebeek Vallei. “Van Durban tot Dubai het nuwe eienaars onlangs behuising sowel as land aangekoop. Dis mense wat ’n ander lewenstyl soek weg van die stede – die country life wat die vallei bied is vir hulle aanloklik.”
Vir Ella Blom en Willem Coetsee is dit belangrik dat die Twintig 21 Nuwe Begin Sentrum besighede lok wat hulle visie deel. “Dit moet dienste of produkte bied wat deur die gemeenskap benodig word, en terselfdertyd moet die besighede die gemeenskap ondersteun deur dít wat hulle bied,” sê Coetsee.
Die groot wit gebou, eg aan die country life-gevoel, het soos ’n piek uitgerys in die hartjie van die besigheidskern van Riebeek-Wes – gereed om die gemeenskap te bedien.
Volg Twintig 21 Nuwe Begin Sentrum op Facebook vir meer inligting.

Riebeek Wes dra binnekort ’n nuwe baadjie… en broek!

Ella Blom en Willem Coetsee, die besigheidsbreine agter die Twintig 21 Nuwe Begin Sentrum-projek wil nie nou al die hele aap uit die mou laat nie…
Hulle deel hierdie brokkies van wat besoekers kan verwag.

’n Meubelwinkel met ’n kinkel: Erna Simon en haar dogter Melissa Vermaak sal verantwoordelik wees vir die tweedehandse meubelwinkel, maar dis nie net ’n meubelwinkel wat antieke items gaan aanhou en verkoop nie. Hulle besoek graag veilings waar hulle items bekom wat deur klante aangevra word, van klein benodigdhede tot groot meubels. Hulle dienste sluit ook aflewering in en hulle fokus op items wat deur die gemeenskap benodig word.

Theo en sy gereedskap: Theo Simon bring graag sy vaardigheid met gereedskap en sy vernuf met boumateriaal na die sentrum met Theo’s Toolbox. Van DIY-tipe gereedskap; tot sement en boublokke; en selfs die huur van items – dit alles word deur Theo behartig.
Die deli, die drukkery en die barista-koffiewinkel: “Die drie besighede wat aan die voorkant van die straat gaan intrek is ’n ‘kontrei’ deli, ’n drukkery en ’n koffiewinkel,” vertel Coetsee. “Al hierdie besighede gaan ’n gevoel van nostalgie skep en gaan sover moontlik plaaslik ondersteun en verskaf.”

Coetsee lap uit dat die koffiewinkel barista-styl koffie gaan aanbied sowel as etes en disse wat vir almal se smake voorsiening gaan maak.
Die verskeidenheid bied ’n aangename ervaring vir besoekers en klante; terwyl jou motor gediens word kan jy gaan asem skep met ’n flat white en vinnige WiFi óf wanneer jy op ’n Vrydag na werk stop vir brandstof kan jy gou die deli besoek vir jou naweek se braaivleisbenodighede en iets uit ouma se kombuis.
“Die sentrum is daarop gemik om vir die besige kern van die dorpie ’n mooi en unieke besigheids-ervaring te bied, terwyl ons terugploeg in die gemeenskap,” sê Coetsee.

KFC trek kleurvolle baadjie aan

Nuut: KFC op Malmesbury het verlede week sy deure geopen na ‘n splinternuwe winkel.

Die winkel beskik nou ook oor ‘n selfhelp-kiosk waar kliënte hul eie wegneemete kan bestel en hul ete by die toonbank afhaal. Die span van KFC Malmesbury het Vrydag opgewonde die kliënte verwelkom na dié gewilde kitskosrestaurant se splinternuwe winkel op Malmesbury.

Swartland-kadetgroep soek hulp

Die Swartland Gemeenskaps-Kadetgroep is ‘n geregistreerde organisasie sonder winsbejag en benodig die hulp en ondersteuning van die publiek.
Hierdie organisasie, gestig in Julie 2021, poog om gemeenskapsontwikkeling te bewerkstellig deur jeug te leer om verskeie musiekinstrumente te speel en te marsjeer.
Swartland Gemeenskapskadetgroep is tans in Kalbaskraal, Riebeek-Kasteel en Riebeek-Wes werksaam. Die groep beoog om binnekort uit te brei na ander dorpe soos Abbotsdale.
Die stigter van die organisasie, Chantal Snel, sê hul hoofdoel is om jeugontwikkelingsprogramme van stapel te stuur en ook om ‘n alternatief te bied vir die sosiale uitdagings wat die jeug in die gesig staar.
“Ons wil deur ons kadetgroep beter geleenthede vir jeug skep sodat hulle positiewe veranderinge in hul gemeenskappe kan bring. Ek wil graag met ander organisasies hande vat om ‘n groter impak te maak,” het Chantel gesê.
Besighede en organisasies wie met hulle in kontak wil kom kan vir Chantal by 0785477597 skakel.

Angusveiling behaal 100% verkoopsyfer

Die Wes- en Suid-Kaap Angusveiling is verlede week op Moorreesburg deur BKB aangebied.
Altesaam 14 bulle en 14 vroulike diere is te koop aangebied.
Daar was ook kommersiële vroulike diere te koop, wat bo verwagting goed gedoen het.
Die duurste Angusbul-lot, was Lot 6, wat aan JJ Posthumus van Bethlehem verkoop is vir R100 000. Die duurste rooi Angus, lot 26, is aan Bester Nooitgedacht Boerdery van Moorreesburg verkoop vir R85 000.
Die gemiddelde pryse is soos volg:
Angusbulle: R70 000
Rooi Angusbulle: R61 250
Angus Vroulike Diere: R39 750
Rooi Angus Vroulike Diere: R20 714.29.
Carl Malherbe het as afslaer opgetree en ‘n 100% verkoopsyfer behaal.

New homeowners receive title deeds

Executive Mayor, Harold Cleophas, handed over 24 houses to new beneficiaries in the De Hoop Housing Project. Over the past two months Swartland Municipality has handed over 70 houses. Many of the beneficiaries have waited for more than two decades for a house, a place that belongs to them and they can call their own.
“It has not been an easy road to get to here and even now, we are faced with challenges. That is why it is critically important that every new resident take ownership and commit themselves to taking care of their house and community”, said Mayor Cleophas. Mayor Cleophas also emphasised that this is the only opportunity these beneficiaries will get. If they sell it or trade it in any way, they will not qualify for a second opportunity. Beneficiaries are not allowed to sell their properties in the first eight years of receiving it.
For many beneficiaries, the handover was a very emotional day. For Magdalena Solomons and Josephine Turner, receiving their homes was a particularly significant. Both ladies have waited more than 20 years for a property to call their own. Mrs Turner, 81, said she cannot wait to move her furniture in and have her children and grandchildren visit. A very emotional Mrs Solomons said that receiving her own house was particularly important as she lost her husband a year ago due to COVID.
The Municipality is currently in the first phase of the De Hoop housing project. During the first phase 395 houses will be built. It is the Municipality’s priority to move beneficiaries in as soon as the houses are complete, to avoid illegal occupation and vandalism.
“Take pride in your new house and your community and please take care of your house. There are no second chances for receiving another house. Housing will continue to be a challenge and as we move forward our resources will be restricted. National and Provincial government has indicated on several occasions that the provision of houses will have to change in the future, so take care and invest into what you are getting today” said Mayor Cleophas.
The next handover of houses is schedule for the end of June.

Jo Black sing op Malmesbury

Die Afrikaanse sanger, Jo Black, het Vrydagaand ‘n stampvol NG Moedergemeente op Malmesbury aan sy lippe laat hang tydens sy optrede hier. Hy het van sy gewilde en bekende liedjies gesing, asook nuuter materiaal met die gehoor gedeel.

Van Olof Berg tot die Brinks op Groot Phesantekraal

Groot Phesantekraal buite Durbanville vier vanjaar hul 324ste bestaansjaar.
Hierdie plaas met sy ryk geskiedenis is een wat oor die jare heen aangepas en vernuwe het om by die tye en ontwikkeling te bly.
Goewerneur Simon van der Stel het die plaas in 1698 aan Olof Berg gegee.
Die Berg-familie het vir die volgende 120 jaar die plaas besit, tot hulle dit in 1818 aan die Louw-familie van Rawsonville-area verkoop het.
In April 1897 het Arend Brink die plaas gekoop, alhoewel hy oorspronklik van die Kaap was, was hy vroeër vir ‘n aantal jare ’n transportryer tussen Kimberley en Johannesburg. Met sy terugkeer na die Kaap het hy Phesantekraal gekoop.
Vandag boer die Brink-familie op die plaas.
“Wat vir my die lekkerste en bevredigendste is van ons boerdery, is dat ons almal saam as een kan saam werk, reg deur ons verskillende afdelings en dat ons elkeen ons eie dinamika het en ook so waarde kan toevoeg.
“Ek en my broer is in ‘n baie bevoorregte posisie om saam ons pa te boer en sal dit vir solank as moontlik koester.
“Ons is ‘n regte familie-besigheid en dit raak ‘n skaars opset en ons sal graag dit wil behou en uitbou,” vertel Rennie Brink.
Landbouers staar baie uitdagings in die gesig en op Groot Phesantekraal is dit ook geensins anders nie.
“Ek dink vanjaar se grootste uitdaging gaan ons hoë inset kostes wees, pryse het met 200-300% gestyg. Jou beplanning en bestuur moet nou dubbeld so goed wees. Een groot uitdaging is die koste van nuwe masjinerie, mens kan nie bekostig om agter te raak met vervanging nie, maar dit is n koste wat groot impak maak op n boerdery se marges,” vertel Rennie.

Groot Phesantekraal is ‘n gemengde boerdery, waarvan graan en vee die hoofvertakkings is. Hier word ook met wingerd geboer en bottel hulle hul eie wyn onder die Groot Phesantekraal-naam.
Hoe pas die legkaart van die familieboerdery en -besigheid in mekaar?
“Huidiglik is my pa, André Brink, hoof van die bestuurspan. Ek is verantwoordelik vir die graanproduksie afdeling asook vir die wingerd en my broer Jeandré vir die bestuur van al die vee. Ons produseer ook ons eie wyn.
“My ma, Ronelle, is baie betrokke by die bou van die handelsmerk asook, bemarking en uitvoere. Ons het ‘n suster, Marizanne, wat in bedryfsingenieur is wat tans buite die landbou werk maar ons voorsien dat sy binnekort haar insette met betrekking tot ons boerdery sal lewer.”
Hoe begin ‘n dag op Groot Phesantekraal vir die Brinks?
“Begin met koffie saam my pa by hom in die huis waar die dag se beplanning gedoen word, daarna kom ons saam ons personeel bymekaar waar die dag se take uitgedeel word, en van daar af beweeg ons maar tussen die spanne rond. Later sal daar bietjie in die kantoor ook gewerk word, ek glo baie sterk daarin om goeie rekord te hou van alles wat gedoen word, so kan mens jouself meet om te verseker dat jy altyd weet waar jy staan.”

Betrekkings

Nel en span op pad na CrossFit-spele

Lize Nel, oud-Rockie en inwoner van Malmesbury, neem eersdaags aan die CrossFit-wêreldkampioenskappe in Madison, Wisconsin in Amerika deel van 3 tot 8 Augustus.
Haar span, wat bestaan uit haarself, haar eggenoot Damian Burns, Jaco Brits en Mariska Smit, is die enigste span van Afrika wat hiervoor kon kwalifiseer.
Mariska is ook die kontinent se fiksste vrou.
Die kombinasie is die mees ervare span wat Suid-Afrika nog by dié spele verteenwoordig het.
Lize het aan dié sportsoort begin deelneem in 2013, toe sy op universiteit was.
“Nadat ek ophou aan skoolsport deelneem het, was daar ‘n leemte en draf of gewone gym, het nie vir my die satisfaksie gegee nie. Ek het ook ‘n paar kilogram opgetel en toe ontdek ek CrossFit. Dit was toe nog ‘n nuwe sport in SA, maar ek was onmiddellik mal daaroor. Elke dag was ‘n nuwe challenge en ek kon my kompeterende kant uitleef en weer aan spansport deelneem. Damian het op universiteit rugby gespeel en toe liggaamsbou gedoen. Nadat ons ontmoet het in 2018, het ek hom in 2019 uiteindelik oorreed om dit te probeer. Nes ek, was hy onmiddellik mal daaroor en kon weer al sy spansport drome uitleef.”
Vir Lize is die sport opwindend en uitdagend.
“Elke dag is anders. Dit raak nooit vervelig nie. Daar is ook ‘n groot sosiale aspek.
“Alles vind plaas in ‘n klas-formaat, so jy gesels, lag en kry saam swaar met die ander mense met wie jy iets in gemeen het. Almal is ook welkom.
“Maak nie saak van jou ouderdom of liggaamsbou nie,” vertel sy.
Volgens Lize het dit haar geleer hoe om swaar te kry en steeds vas te byt.
“Dit het my geleer dat jy enigiets kan regkry as jy die werk insit. Dit het ook vir my baie selfvertroue gegee – ek voel goed oor myself so dit verbeter my sosiale asook my professionele lewe.”
Die CrossFit-seisoen begin met die Ope wat uit drie oefensessies bestaan wat strek oor drie weke in Februarie.
Hier het hulle die eersteplek as ‘n span behaal.
Dit is aanlyn en enigiemand kan daaraan deelneem. Daar was vanjaar 300 000 deelnemers wêreldwyd wat hieraan deelgeneem het.
Daarna word slegs die top 10% gekeur om deur te dring na die kwarteindstryd om sodoende te probeer kwalifiseer vir die semi-finaal. Hier word slegs die top 20 mans, vroue en spanne toegelaat.
Hier het dié span ook die eerste plek behaal.
Verlede naweek het die span aan die semi-finaal in Stellenbosch op Coetzenburg deelgeneem.
Oor die drie dae moes hulle ses oefensessies doen wat fiksheid, krag, gimnastiek, spanwerk en meer getoets het.
Die span met die meeste punte aan die einde van die naweek, is die wenner.
Wêreldwyd is daar net 40 mans, vroue en spanne wat deelneem vir die wêreldspele.
Die sport is nog relatief nuut in Suid-Afrika en geniet nie baie blootstelling nie.
Daarom het die span ook nie borge om hul finansieel te ondersteun in hul tog na Amerika nie.
Om hier te gaan deelneem, kos elke deelnemer sowat R60 000.
“Dit moet uit ons elkeen se eie sak kom, so enige hulp en ondersteuning is baie welkom!”
Die groep oefen tans by Time2Train op Malmesbury en CrossFit Commit Okavango in Brackenfell.
“CrossFit se doel om fiks, sterk en gesond te word en jou alledaagse lewe te verbeter.
Crossfit is ‘n krag- en kondisioneringsprogram wat verskillende style in een oefensessie kombineer. Ons kombineer byvoorbeeld die beste van gimnastiek, kettlebell/dumbbell-oefening, Olimpic weightlifting, powerlifting en allerhande uithouvermoë-oefeninge.
“Danksy hierdie wye verskeidenheid bewegings verbeter ons al 10 sones van ons fiksheid. Die doel is om nie te spesialiseer nie. Deur die mees algemene fiksheid moontlik ontwikkel, berei jy jouself voor vir watter taak ook al op jou wag,” vertel Lize.
Die groep word afgerig deur Gerhard van der Merwe van CrossFit PBM in Pretoria.