Day: June 13, 2022

Wesbank buig die knie in Lillie-land

Die onoorwonne Abbotsdale RVK het Saterdag gasheer gespeel vir Wesbank RVK in Abbotsdale en toeskouers van beide klubs was onthaal met ‘n opwindende wedstryd wat letterlik beskou kan word as ‘n wedstryd van twee helftes.
Die wedstryd het teen ‘n reuse tempo begin met veral die voorspelers van beide spanne wat behoorlik onder mekaar ingeklim het. Abbotsdale, met die wind agter hul seile, kon hul gebiedsvoordeel in punte omskep met ‘n strafskop en twee skepdoele deur hul klein Generaal Wiam Syster wie hierdie seisoen kookwater rugby speel. Wesbank het hul hand oorspeel met swak hanteerwerk en swak lynstaanwerk maar het verwoed terug geveg. Gemoedere het ook hoog geloop tussen spanne en Milroy Isaacs van Abbotsdale en Jacquin Fortuin van Wesbank was gestraf met geelkaarte. Dit was egter Abbotsdale wat kort voor rustyd eerste bloed geruik het toe sy nommer 8 Brandon Koopman gaan druk het. Syster het toe die manne gestuur om te gaan rus met ‘n doelskop om die telling 16-0 te maak in die guns van die tuisspan. Na rustyd het Sir Dashton Wellman, Wesbank met slim taktiese spel op die voorvoet gehou. Wesbank was tweede helfte die beter span en het terug geslaan met drie drieë deur Hendrik Mattheusen, Leonell Pietersen en Bryson Albertus en ook ‘n doelskop om die telling 16-17 te maak in die guns van die besoekers.
Met die afskop het Abbotsdale egter n strafskop gekry vir onkantspel en Die Generaal Wiam Syster het met die strafskop geslaag om die wedstryd te beklink vir Lillies met 19-17.
Abbotsdale het dus sy onoorwonne status behou en sal met groot selfvertroue finaal wil wys dat hul die groot gunsteling is vir die titel hierdie seisoen wanneer hulle die verdedigende kampioen Darling RVK aanvat. Darling moes Saterdag hard veg om Saron op sy tuiste te klop.
Die besoekers het ‘n paar benoude oomblikke beleef maar het koelkop gebly en geslaag met drieë deur JP Smith (2), Jaden Lewis, Hubert Cleophas, Gerrit Carolus en Ryle Daniels. Earl Lewis se dodelike skopvoet was egter gemis op die dag nadat slegs twee drieë verdoel was. Saron RVK was baie goed op die dag en die wedstryd was in die weegskaal tot met die einde. Darling het egter ‘n broodnodige 5 punte opgetel wat hom steeds in die wedloop om die gesogde titel plaas. Abbotsdale RVK sal egter hierdie hoop wil beëindig die komende Saterdag en finaal sy stempel afdruk op die Liga deur Darling in ‘n naelskraap wedstryd met minder as 7 punte te klop.
Moorreesburg RVK het Saterdag straf uitgedeel op “Die Hof” in Moorreesburg toe hy Porterville RVK met ‘n bonuspunt oorwinning geklop het. Die wedstryd op Moorreesburg was ook ‘n wedstryd van twee helftes en Porterville het vroeg in die wedstryd die druk toegepas op Moorreesburg.
Moorreesburg het egter vuur met vuur geveg en ook hul ritme begin vind om Porterville se wiele te laat pap raak. Die tuisspan het die wedstryd voor en agterlangs begin domineer met die voorspelers Wilhelm Oktober, William Adonis en Charlton King wat die grondslag gelê het vir hul agterspelers om te baljaar. Die losskakel Emile Baron het ook die spel goed dikteer en goeie grondgebied vir die tuisspan bewerkstellig met sy taktiese spel. Die wedstryd was nog tot laat in die tweede helfte in die weegskaal maar ‘n goeie breekslag deur die slot William Adonis, wat sy vaart en kragspel ten toon gestel het, het die momentum in Moorreesburg RVK se guns geswaai. Die vlugvoetige vleuel het laat in die wedstryd Moorreesburg se bonuspunt drie gaan druk. Ander drieë was deur Jehann Bonn, wat week na week uitmuntende rugby speel, en ook Christo Januarie gedruk. Jehann Bonn het 3 van die 4 drieë verdoel en ook ‘n strafdoel behaal. Porterville RVK kan baie uit die wedstryd neem en hulle het hulle goed van hul taak gekwyt. Moorreesburg RVK was egter te goed op die dag en sal Saterdag met groot selfvertroue na Koringberg RVK reis. Koringberg RVK sit tans met sak en as met 7 verlore uit 7 wedstryde nadt hulle die vorige Saterdag teen Wittewater Villagers RVK vasgeval het. Die wedstryd wat op Piketberg gespeel was het met n hoë tempo begin en beide spanne wou gesag afdwing met die houtlepel op die spel. Wittewater het egter eerste gaan druk om momentum te bou en het ook die vaste fasette oorheers. Jaque Adams van Wittewater het egter groot kopsorge aan Koringberg met sy kragspel wat meters vir Wittewater gewen het, voordat die spanne strafskoppe uitgeruil het. Koringberg het kort voor rustyd ook gaan druk om die telling 15-8 te maak in die guns van Wittewater. In die tweede helfte het beide spanne weer hard onder mekaar ingeklim.
Beide spanne was egter sterk op verdediging en Wittewater kon slegs slaag met twee strafskoppe om die wedstryd te beklink 21-8. Koringberg se berg raak al hoe groter om te klim en hulle sal weet dat Moorreesburg geen genade sal toon wanneer hulle Saterdag die koring verder van die kaf wil skei.
Moorreesburg behoort hul momentum te behou en Koringberg te klop met meer as 10 punte.
Good Hopes RVK speel Saterdag gasheer vir Wittewater Villagers en sal wil voortbou op sy wedstryd verlede naweek teen Never Despair toe die besoekers eers laat in die wedstryd vir Good Hopes kon klop met 26-24. Good Hopes se drieë was gedruk deur Alwin Amerika en Ryan Horn en Reagan Matala het geslaag met 1 doelskop en 4 strafskoppe. Die voorspelers het goed opgeweeg teen meka ar en die wedstryd was in die weegskaal tot en met die laaste minute. Die flank Adlo Mentoor en Agsteman Fernando Poedel het weer kookwater rugby opgedis vir Good Hopes en agterlangs het Ryan Horn en Durwin Fortuin gedurig Never Despairs se verdediging aan die raai gehad. Good Hopes sal dus wil opmaak vir hul loesing deur Wittewater Villagers Saterdag te klop met meer as 7 punte.
In ander wedstryde speel Wesbank Saterdag teen Saron en behoort weer op die wenpad te kop om Saron te klop met meer as 10 punte. Never Despairs reis na Porterville en behoort ook genoeg skietgoed te om die tuisspan met minder as 10 punte te klop.
Hierdie week se wedstryde behoort weer vol aksie en opwinding te wees en toeskouers kan hul gereed maak vir ‘n paar moontlike opskuddings. Veral met 4 spanne wat dit tans uitveg om saam Abbotsdale RVK die eerste rondte in die twee top posisies te eindig en momentum te bou vir die tweede rondte.
•Abri Adonis