Day: July 21, 2022

Swartlanders skitter in water

Die Swartland-swemklub het die die afgelope naweek aan die Wes-Kaap-kampioenskappe 13 jaar en jonger deelgeneem. Altesaam 20 swemmers van die klub het aan hierdie gala deelgeneem. Die klublede het 55 persoonlike beste tye aangeteken. Die medaljewenners was Anouk Atkinson (brons 200m borsslag o.11 met ‘n tyd van 3:30.24), Emily Liebenberg (silwer 100m vlinderslag meisies 12-13 jaar met ‘n tyd van 10:33.92), Nicky Lategan (brons 800m vryslag seuns 11-13 met ‘n tyd van 10:33.92). Die meisies 12 tot 13 jaar aflosspan het in die 4x50m vryslagaflos ‘n bronsmedalje gewen. Hierdie span bestaan uit Mia Vorster, Ané Kemp, Lelanie Buhr en Emily Liebenberg. Die klub het ‘n algehele 15de plek vanuit die deelnemende 30 klubs ingepalm.
Foto: Annelda Buhr

Helder sig met Optic Edge en Lions

Die Malmesbury Lions het onlangs ‘n kranige rugbyspeler van die Flying Eagles-rugbyklub in kontak gesit met Marili Maritz, oogkundige by Optic Edge op Malmesbury. Donovan Nasonke het visieprobleme ondervind en klubbestuurder Henfré Brand het na die Malmesbury Lionsklub uitgereik vir hulp. Hierdie vorm deel van die klub se “Bright Sight’-projek. Nasonke se oë is deeglik getoets, hy het sy raam uitgekies en wag nou in spanning om sy nuwe uitkyk op die lewe te begin. Hier is hy saam met Gaylinth Hansen, ondervoorsitter van die Flying Eagles, Henfré Brand, voorsitter, Izélle Fouche, Malmesbury Lionsklub en Marili Maritz van Optic Edge. Foto’s: Alaster Currie

Fluffy die hond kyk na veiligheid

Weskus Distriksmunisipaliteit se Rampbestuur- en Gemeenskapsveiligheidskomponent het sy nuwe ‘Safety Mascot’ aan die gemeenskap bekendgestel.
Fluffy, ‘n Dalmation-ras, gebore op 10 Junie 2022, se doel is om bewustheid oor rampbestuur, gemeenskapsveiligheid en risikovermindering te skep en ‘n risikovermydings kultuur in die samelewing te kweek.
Deel van Fluffy se boodskap aan gemeenskappe is dat hy ‘n uiters hardwerkende en liefdevolle hond is wat mense en kinders liefhet. Sy oë is jou oë, om na jou om te sien en jou te beskerm. Sy ore is jou ore om te luister wat in jou gemeenskap gebeur. Sy neus is jou neus om die kwaaddoeners in jou gemeenskap uit te snuffel. Sy lewe is ook jou lewe.
Fluffy het sy eerste openbare verskyning gemaak by ‘n straatsport-geleentheid wat op Moorreesburg gehou is. Fluffy het die skare met sy danspassies vermaak, terwyl hy ook bewustheid oor verskeie risiko’s in gemeenskappe geskep het.
Nooi gerus vir Fluffy na jou gemeenskapsprojekte deur 022 433 8701 te skakel of ‘n e-pos te stuur na westcoastdmc@wcdm.co.za.

50 Jaar gelede

Die Swartlander van 14 Julie 1972 het sy pad na die kantoor van Swartland Joernaal gevind. Hier hou Pieter Roux die eksemplaar vas waarin hy op die agterblad gepryk het saam met Willem Oberholster, Louis van Greunen en Jannie du Plessies. Die vierstuks was ywerige en kranige renjaers en die berig vertel van die Duckhams-maanligtydren. Volgens Roux is dit ook maar goed dat die ren in die aand gehou is, want “as ons gesien het waar ons ry, sou ons seker nie klaargemaak het nie!” Roux is die enigste oorlewende lid van die vierstuks.

Toast bied kwaliteit koffie, tuisgemaakte etes en meer

As jy lus is vir kwaliteit koffie, heerlike tuisgemaakte etes en vrywei-bees en -vark, is die splinternuwe “Toast” in Rainierstraat net die plek waar jy moet aanklop.
Hierdie heerlike winkel is ‘n verlenging van die Toast-restaurant by Delsma-plaas buite Hermon wat naweke oop is en waar heerlike country cuisine-kosse gevind kan word. Hier word daar ook gefokus op families en het hulle ‘n kindervriendelike omgewing.
Toast op Malmesbury bied nou talle heerlike voorbereide, gevriesde disse wat jy in ‘n japtrap by die huis kan gaarmaak en ‘n glimlag op die familie se gesigte plaas met hierdie heerlike etes.
Gedurende die inperking het Pieter en sy vrou Elizma met die reeks Homemade at Toast begin.
Die twee het jare se ondervinding in die spysenierinngsbedryf, wat in 2020 tot ‘n stilstand gekom het.
“Met ‘n passie vir kos en ondervinding in produkontwikkeling het ons hierdie nuwe besigheid op die been gebring,” vertel Pieter Smuts.
Toast se leuse is eenvoudig: Kwaliteit.
Hierdie vars gevriesde kosse word gemaak van gehalte produkte. Free range vleis, droëwors en biltong, sonder enige preserveermiddels of gluten is net wat enige persoon in hulle huis benodig.
Pieter spog ook trots: “Ons het die beste koffie in die dorp.”
Toast wil meer fokus op gesonde tuisgemaakte kos asook ander gesondheidsprodukte.

Fondse vir toer

Die Samoa-rugbyklub het Saterdag ‘n “pottedag” op Moorreesburg aangebied. Die rugbyklub het die potjiekoskompetisie aangebied as deel van ‘n fondsinsamelingsinisiatief om geld in te samel vir die klub se toer na die Suid-Kaap later vanjaar. Foto: Ghida Visser

Landbouwerker van die Jaar – skryf nou in

Dis weer daardie tyd van die jaar wanneer die Swartland se landbouwerkers hul vernuf ten toon kan stel.
Die jaarlikse Swartland Landbouwerker van die Jaar se inskrywings is reeds oop.
Alle landbouwerkers mag hieraan deelneem – met ander woorde enige persoon wat deel vorm van en ‘n bydrae lewer tot die boerdery.
Die werkgewers, bestuur, plaas-werkerskomitee of mede-werkers kan persone vir die kompetisie benoem.
Die volgende kategorieë is beskikbaar:
Algemene Werker, Drywer, Administratiewe Personeel, Tegniese Operateur, Besproeiingspesialis, Diereproduksie, Sosiale Ontwikkeling, Landbou-verwerking, Voorman/-vrou, Junior Bestuur en Middel Bestuur.
Die derde plek hou prysgeld van R1200 in, die tweede R1500 en die wenner sal R2200 wen. Die persoon met die beste potensiaal sal R1000 huis toe neem en die streekwenner R2500.
Inskrywings sluit die 29ste Julie en die streeksfunksie vind plaas op 29 September 2022.
Vir meer inligting, kontak streekskoordineerder Jolene Janse van Rensburg by 022 487 1133 of stuur ‘n epos na swartlandinfo@westc.co.za

Betrekkings

Pret met funduro

Die Hoërskool Dirkie Uys op Moorreesburg het die naweek ‘n Funduro op Withoogte, buite Moorreesburg, aangebied om fondse vir die skool in te samel. Hierdie is ‘n jaarlikse instelling op die skool se dagboek. Foto: Isabel Crous