Author: admin

Ekspo vir eers uitgestel

As alles volgens plan verloop het, sou die omgewing hierdie week ‘n miernes van bedrywighede gewees het met die jaarlikse kykNET Buite Ekspo wat op die Môreson-plaas buite Malmesbury deur Trio Events aangebied word.

Dit is egter nie vanjaar die geval nie.

Weens die Covid19-pandemie se inperkings op sosiale bymekaarkomgeleenthede, is Marius Opperman, organiseerder, genoodsaak om die ekspo uit te stel tot ‘n latere datum.
Die ekspo sou oorspronklik vanaf 12 tot 14 Februarie plaasgevind het.
Die buitelug-ekspo is verlede jaar vir die 10de keer aangebied en dit sou vanjaar vir die agste keer op Môreson gehou wees.
Om so ‘n geleentheid te organiseer is geen maklike taak nie en volgens Opperman begin hulle reeds ses maande voor die tyd met die beplanning.
Uitstallers hoef egter nie bekommerd te wees nie, want die ooreenkoms tussen hulle en die organiseerder word net aangeskuif na die beskikbare datum.

“Ons kanselleer nie die geleentheid nie. Ons skuif net die datum aan.”
Volgens Opperman het die verskuiwing van datums groot finansiële implikasies op hulle, aangesien hulle nie ‘n inkomste kan genereer as hulle nie hul funksies aanbied nie.

Nuwe rokkie vir Hopefield se historiese stasie

• Madi Pieterse
HOPEFIELD – So kort voor die aanbreek van die Kersseisoen het vrywillige inwoners van Hopefield saamgespan om hulle stasie ’n ‘total make-over’ te gee.

Die voorvatter vir hierdie enorme taak was Lizelle Strydom, bestuurder van Hopefield Museum en jarelange inwoner van dié dorp (Lizelle doen die werk as bestuurder van die museum vrywillig en ontvang geen befondsing vir die oophou van die museum vanuit die streek nie. Sy het dit wel reggekry om ’n Eksterne Publieke Werke-kontrak met Moorreesburg Koringmuseum te bewerkstellig om iemand voltyds by die museum aan te stel).

Elkeen wat kon, het ’n bydrae gemaak, hetsy help skoonmaak en restoureer, eet- en drinkgoed verskaf aan die vrywilligers of deur skenkings van verf en skuurpapier en alles wat nodig was dat die werk gedoen kon word.
Ongelukkig het die stasie met tyd ’n uithangplek vir leeglêers geword. Higiëniese toestande was haglik, die strukture is verniel en plantegroei het oorgeneem – ’n seer oog en groot hartseer vir inwoners oor wat eens was.
Lizelle het maandelank met Transnet gekorrespondeer nadat plaaslike besigheidsmense aangedui het dat hulle die gebou wil koop of huur om ’n besigheid daarvandaan te bedryf. Selfs die plaaslike raadslid, Miranda Schrader, het probeer, ongelukkig sonder sukses. Selfs ’n afgevaardigde van die Gemeenskapspolisiëringsforum en voorsitter van die buurtwag kon geen hond haar-af maak nie.

Dit is in hierdie stadium dat inwoners besluit het om eienaarskap te neem en self skoon te maak. Sosiale media se werkinge is ingespan en vrywilligers maak hulself beskikbaar en verfdonasies kan opgelaai word.
Die eerste dag se werk was die moeilikste. Die stank van die gemors binne die gebou was byna onuithoudbaar, maar manne met mae van staal het deurgedruk en sowat vyf ure later is sakke en sakke gemors deur een van die besigheidsmanne van die dorp weggery. Die binnekant lyk sommer heel anders.

Dag twee se werk het behels om bosse en onkruid buite-om te verwyder. Weer ’n groot taak, maar met die hulp van ’n bossiesnyer, ’n trekker en bossieslaner word die taak aansienlik makliker. Een van die helpers is ’n 67-jarige inwoner wat nostalgies vertel hoe hy as jong man saam met vriende en familie die trein gehaal het by Koperfontein en gery het tot op Hopefield om inkopies te gaan doen.

Vrywilligers van Hopefarm spuit die naambord skoon met ’n hoëdrukspuit en begin sommer om die geboue ook skoon te spuit.
Maar die werk was vêr van klaar.
Nadat die gras en onkruid weggery is, lyk die perseel stukke beter.
Die afskuur van die gebou word gedoen met skrapers en skuurpapier en wat ookal vir die taak ingespan kan word. Een van die vrywilligers is ’n inwoner van 77 jaar oud, wat ook ’n bydrae wil lewer.

Die naambord by die stasie is ouer as 60 jaar en spog met ’n unieke stukkie geskiedenis. Dit dui die hoogte bo seevlak aan as 138 voet en die afstand Kaapstad toe as 87 myl. Al hierdie inligting word bewaar en mooi gemaak sodat die jonger geslag nog vir jare daarna sal kan kyk.

Die Vrydagmiddag van die eerste week se werk kry die projekspan ondersteuning uit ’n onverwagse oord. Transnet se streekshoof oor eiendomme, Phillip Zondo, maak kontak en daag later by die perseel op.
Hy is verstom oor wat die inwoners binne ’n paar dae reggekry het en bied terstond hulp en ondersteuning aan. ’n Werkspan van Transnet daag Maandag op om hand by te sit, ’n sekuriteitsbeampte word gereël en die verf wat benodig word, word deur die loop van die week afgelewer.
Tussen al die gesprekke deur word daar ook gevra vir ’n ou stoomtrein en eetwa om op die sylyn getrek te word as besienswaardigheid. Die aansoek hiervoor is per e-pos aan hom gestuur.

Phillip het sy eie stukkie nuus oor die gebou. Met die ontvangs van die eerste e-pos maande gelede is die besluit geneem om die gebou te sloop. Genadiglik het iemand by Transnet besef dat dit ’n erfenisgebou is en kon die besluit nie uitgevoer word nie. By die Hopefield Museum pronk foto`s van 1901 van die stasiegebou en die oorspronklike toestand daarvan, ’n bewys van die gebou se erfenisstatus.

Die werk wat elke dag by die stasie gedoen is, was op sosiale media gedeel en mense van heinde en vêr het kommentaar gelewer op die groot taak wat verrig word. Dit was juis een van hierdie kommentare wat aangedui het dat die “stasie ’n nuwe rokkie kry”.

’n Elektrisiën van Transnet het reeds die elektrisiteit herstel en alle ‘ogies is terug in hulle rame’.

Die suksesvolle transformasie van Hopefield se stasie kan nie aan een persoon toegeken word nie. Dit was voorwaar ’n poging deur die mense van die dorp, oud en jonk, man en vrou asook besigheidsmense wat gewys het dat hulle nie bang is om saam eb hard te werk nie.

Daar moet nog bietjie water in die see loop vir alles om gefinaliseer te word, maar dit blyk dat Hopefield Stasie se “nuwe rokkie” nie té vêr van klaar is nie.

Sport – Moorreesburg kroon rolbalkampioene

Francois van Zyl en Alta Vos is die klubkampioene in die mans- en dames enkelspel afdelings vir 2021.
Hulle het uitstekende spel gelewer maar die opponente het hulle goed laat werk vir die oorwinnings.

Francois is ook die Weskus enkelspel kampioen van die Weskus vir 2020.
Die goeie nuus is ontvang dat alle tipe spel van enkels tot vier-balle nou gespeel mag word onder Vlak 3 inperking en dus gaan Moorreesburg Rolbalklub se Besigheidsliga binnekort weer begin. Alle besighede word genooi om solank hulle spanne bymekaar te kry.

Jonk en oud is welkom om by die klub te kom rol. Julle het drie maande om dit uit te toets alvorens lidmaatskapgelde betaalbaar is. Kontak die President Johann Smuts by 076 693 1538 of die Wedstrydsekretaris, Kiewiet van Rooyen by 082 896 5826.

Stand van die Damme

Die damvlakke van die voorsieningskanaal van die Wes-Kaap het Maandag op 81.7% gestaan, in vergelyking met verlede week se 83.4% en verlede jaar dieselfde tyd se 69.3%.

Die Bergrivier se vlak het Maandag op 81.9% gestaan. Verlede week het die damvlak op 83.9% gestaan en verlede jaar dieselfde tyd op 84.4%.
Die Laer-Steenbras is nou 76.8% vol, in vergelyking met verlede week se 79.1% en verlede jaar se 75.6%.

Die Theewaterskloofdam het Maandag op 85.4% gestaan. Verlede week was die dam 86.6% vol en 62.8% verlede jaar op dieselfde tyd. Die Wemmershoekdam was Maandag 82.3% vol, waar dit verlede week op 84.2% gestaan het. Verlede jaar was die dam dieselfde tyd 69.9% vol.

Die Voëlvleidam was Maandag 76.2% vol. Verlede week het die dam se vlak op 78.5% gestaan en verlede jaar op 70.6%. Bron: www.capetown.gov.za

Abigail droom groot

Madi Pieterse

DARLING – In ’n deurmekaar wêreld van koronavirus, isolasie en maskers is daar ’n petite 17-jarige van dié dorp wat dit steeds waag om te droom, en doelgerig werk om haar droom te verwesenlik.

Wanneer Abigail Fortuin die eerste maal onder oë kom, lyk sy maar soos ’n kind, miskien so tien of elf jaar oud.
Maar die ware Jakob is ’n 17-jarige meisie wat in ’n kort tyd reeds uitstekende atletiekprestasies behaal het en met dryfkrag vorentoe beur om altyd daarop te verbeter.
S

y woon saam met haar ouers, Cornelius en Jolene en boetie en sussie op ’n plaas buite die dorp, waar haar ouers werksaam is.
Dit is hier op die wye oop vlaktes waar Abigail elke dag die plaaspaaie aandurf en gemotiveerd oefen om fiks te bly vir wanneer die grendeltyd gelig word en sy weer kompeterend kan hardloop.
Die meeste dae draf haar 13-jarige boetie, self ’n kranige atleet, saam met haar.

Abigail se droom is om aan die volgende Olimpiese Spele deel te neem. Mens wonder dadelik oor die bereikbaarheid hiervan vir haar, ’n kind van ’n plaas af buite ’n klein dorpie aan die Weskus van Suid-Afrika.
En jy onthou van Zola Budd, wat baie jare gelede teen alle verwagtinge in en met ongekende deursettingsvermoë internasionaal meegeding en uitstekende prestasies behaal het. En Caster Semenya, ’n atleet met ’n Godgegewe talent, wat elke dag haar pad moet oopveg om aan te hou hardloop net omdat sy “anders” is. Hierdie merkwaardige vrou is in 2019 benoem as een van Time Magazine se 100 Mees Invloedryke Persone. Haar geboorteplek is Ga-Masehlong, ’n nedersetting buite Polokwane in Limpopo.
Abigail het ’n groeiende ondersteuningsnetwerk.

Sover dit hul vermoë is, sorg haar ouers dat sy reg eet, motiveer haal en neem haar na kompetisies.

George April van Hopefield is haar bestuurder. Hierdie man het ’n passie om opkomende atlete by te staan en te ondersteun en steek hand in eie sak om te sorg dat Abigail van die dinge kry wat sy nodig het om haar loopbaan te bevorder. George het onlangs met twee groot kanonne in kontak gekom om Abigail by te staan.

Anton Mostert is ’n welbekende in atletiekkringe in Bloemfontein en verskaf oefen-inligting aan George en leer hom ook die fynere kunsies van afrigting.

Richard Aitken het onlangs van Durbanville af Darling toe verhuis, waar hy en George mekaar raakgeloop het.
Alhoewel Richard ruiterlik erken dat hy nie ’n groot kenner is van atletiek-afrigting nie, dra sy 30 jaar ondervinding as rugby-afrigter internasionaal en nasionaal groot gewig en gee hy raad met die regte dieët vir Abigail asook hoe sy fiks kan bly en haar spiere kan versterk om haar droom te help verwesenlik.

Die jong atleet het egter ook finansiële hulp nodig vir hardloopskoene wat gereeld vervang moet word en dat die regte kosse geredelik beskikbaar is.
Richard het benadruk dat sy haar liggaam baie skade kan aandoen indien sy meer energie verbrand as wat sy inneem, maar het ’n broertjie dood aan aanvullings van die moderne tyd wat eintlik nie veel vir atlete se algemene welstand beteken nie.

Om hiermee te help, gaan George en van sy vriende binnekort help om ’n groentetuin by die huisie op die plaas op te rig. Met die hulp van borge sal ander voedselsoorte ook vir haar beskikbaar wees.
Abigail se kennismaking met atletiek het in 2018 plaasgevind toe sy by haar nuwe skool op Riebeek-Kasteel aan verskeie items deelgeneem en baie goed presteer het. Ten spyte daarvan dat sy die kort afstande met gemak kafgedraf het, was dit die 1500 meter wedloop wat haar die meeste geval het. Later in die seisoen het sy oorgeskakel landloop toe en is binne ’n kort tyd aangewys as die o/15 en later as o/16 landloopkampioen.
Te midde van alles wat om haar gebeur, besef Abigail dat sy die een is wat die hardste moet werk om haar droom te verwesenlik. Maar sy geniet die hardlopery en sal geen moeite ontsien om haar doel te bereik nie.
En haar grootste motivering om ’n wêreldklas-atleet te word? “Om vir my ouers ’n beter lewe te kan gee.”

Dit blyk die moeite werd te wees om Abigail Fortuin van Darling se naam te onthou, die meisie van die Weskus wat baie groot droom.
• George April is ook verlede week aangewys as voorsitter van die nuutgestigte sokkerklub op Hopefield en hoop dat hy en sy span ’n positiewe bydrae sal kan lewer in die lewens van jongmense van dié dorp.

Katgriep

Katgriep hou Wes-Kaap se troeteldiere in sy greep

Die Parvo-virus, oftewel katgriep, het onlangs in groot getalle in die Wes-Kaap onder troeteldiere voorgekom.
Hierdie aansteeklike en dodelike siekte kan vermy word indien jou viervoetkind se immunisering op datum is.
Die Swartland Joernaal het by Dr NJ Heyns van Groenkloof Dierekliniek aangeklop vir kenner-insig.


“Honde word besmet deur direkte kontak met ander siek honde of indirek met besmette faeces. Die virus word ook oorgedra deur besmette grond, klere, hande en skoene. Vlieë kan die virus oordra, indien hulle in kontak met besmette faeces was. Parvo kan in die grond oorleef vir ten minste ‘n jaar,” waarsku Dr Heyns.
Volgens hom is die enigste voorkomingsmaatreel vir die virus die inenting van honde.


“Ons beveel inenting aan op ouderdom van 6, 10 en 14 weke en daarna jaarliks. Indien jou hond nie korrek ingeënt is nie, dit wil sê die volle kursus teen die korrekte intervalle en hy kom in kontak met ‘n dier wat besmet is met katgriep, is daar ‘n hoë risiko dat hy wel die siekte sal kry.”


Indien ‘n dier wel siek word en aangesien dit ‘n virale infeksie is, kan dit net simptomaties behandel word.
“Dit is hoë sorg behandeling en sluit in vloeistowwe (drip), anti-brakings middels en antibiotika om sekondêre infeksies te voorkom.”

Aanvanklike simptome kan insluit:
•Verlies aan eetlus, braking, diarree, lusteloosheid en swakheid.
“Indien bogenoemde simptome by u hond waargeneem word moet u onmiddelik veterinêre hulp kry. Dit is belangrik om te onthou dat die inkubasie periode ongeveer 8 tot 14 dae is en dat simptome eers gesien sal word ongeveer 8 tot 14 dae na blootstelling aan die virus.”
Die virus is nie ras-spesifiek nie, maar sekere rasse blyk meer vatbaar te wees soos Rottweilers, Duitse Herdershonde en Pitbulls.

“Indien u enigsins twyfel oor u hond se imuunstatus kontak u veearts vir meer inligting.”

Groenkloof Dierekliniek se kontak besonderhede:
Malmesbury: 022 487 1157
Riebeekvallei: 082 089 1234
Piketberg: 071 590 8064

Stand van die damme

Die damvlakke van die voorsieningskanaal van die Wes-Kaap het Maandag op 83.4% gestaan, in vergelyking met verlede week se 85.4% en verlede jaar dieselfde tyd se 70.6%.


Die Bergrivier se vlak het Maandag op 83.9% gestaan. Verlede week het die damvlak op 86.1% gestaan en verlede jaar dieselfde tyd op 84.4%.
Die Laer-Steenbras is nou 79.1% vol, in vergelyking met verlede week se 80.5% en verlede jaar se 77%.


Die Theewaterskloofdam het Maandag op 86.6% gestaan. Verlede week was die dam 88.4% vol en 64% verlede jaar op dieselfde tyd. Die Wemmershoekdam was Maandag 84.2% vol, waar dit verlede week op 86.2% gestaan het. Verlede jaar was die dam dieselfde tyd 71.8% vol.
Die Voëlvleidam was Maandag 78.5% vol. Verlede week het die dam se vlak op 81% gestaan en verlede jaar op 71.9%.
Bron: www.capetown.gov.za

Talisman Hire Malmesbury vier drie jaar

Talisman Hire Malmesbury vier op 8 Februarie hul derde verjaarsdag.
“By Talisman Hire Malmesbury laat ons jou voel soos familie en dat ons jou verwag het toe jy instap. Ons toerusting se kondisie is van so aard dat “down time” tot die minimum beperk word en sou daar ‘n “breakdown” onstaan stuur ons onmiddelik ‘n werktuigkundige met vervangingstoerusting sou hy dit nie op die perseel kon herstel nie. As ons dit nie het nie maak ons vir jou ‘n plan om dit te kry, ons eienaar besit ook die Talisman Hire Parklands sowel as Vredendal, dit maak dit net makliker sou ons uit toerusting hardloop,” sê Louis Smith, tak-koordineerder op Malmesbury.

Die tak het die afgelope drie jaar baie gegroei en van ‘n klein winkel in Truterstraat geskuif na ‘n groter perseel in Darlingweg.
“Ons het beperkte spasie gehad en is gedwing om die toerusting op verskillende plekke op die dorp te stoor. Ons het na twee jaar ons eie perseel in Darlingweg 7 bekom en het so nader aan die N7 beweeg.”
Gedurende die afgelope 12 maande het die span baie op die plaaslike bou-bedryf gefokus en hulle produkte en dienste aan hierdie mark blootgestel.
“Ons het geleer dat om te kan groei, beteken dat jy jouself sal moet strek.”
Die span van Talisman Hire Malmesbury is ingestel op uitnemendheid.
“Ons verseker altyd dat wat ookal jy soek, jy dit by ons sal vind. Diens, diens en diens is wat belangrik is.”

Gedurende die aanvanklike inperking is die boubedryf ernstig geraak en selfs hierdeur het die span gegroei en sterker aan die anderkant uitgekom.
“Ons was gelukkig om as ‘n noodsaaklike diensverskaffer geklassifiseer te wees. Ons kon voortgaan met ons werk op ‘n aangepaste manier. Ons kon na al die groot boupersele gaan. So kon ons die hernubare energie windplase bedien. Dit het ons deurgedra deur die streng inperkings.”
Die direkteure van Talisman Hire Malmesbury is Liesl Nienaber en Nic Kearney.

Die span van Talisman Hire Malmesbury bestaan uit Louis Smith (bestuurder), Magdel Nieuwoudt (admin), Adrienne Solomons (verkope/meganiese onderhoud) en Llewelyn Markus (verkope/eksterne bemarking).

Besoek Talisman Hire Malmesbury in Darlingweg 7 Maandag tot Vrydag van 07:00 tot 17:00 of Saterdag vanaf 07:30 tot 12:00 of kontak hulle by 022 487 1652.

World Cancer Day

On World Cancer Day, 4 February, the Cancer Association of South Africa (CANSA) and Union for International Cancer Control (UICC) encourages people to set and achieve personal goals enabling them to lower cancer risk and for cancer patients to optimise health, especially in the light of the COVID-19 pandemic. The global response to the COVID-19 pandemic has been all consuming, however, cancer control needs to remain a priority
Elize Joubert, CANSA CEO says, “Cancer continues to claim unnecessary lives. It’s important that despite the COVID-19 pandemic we do not lose sight of the needs of cancer patients, helping them to live a balanced lifestyle to safeguard their health and of the importance to continue raising awareness of the signs of cancer, early detection through screening and educating to lower cancer risk. We encourage cancer patients currently in treatment and others living with cancer to stay informed about COVID-19. Know what can be done to lower the risk for the virus, and on what to do if they should contract it. ”

For the past two years, World Cancer Day supporters around the world have been sharing their ‘I Am and I Will’ commitments – pledging bold and brave actions to reduce the impact of cancer.
Joubert puts out the challenge, “In 2021, CANSA celebrates a significant milestone of its 90th anniversary of educating and reducing the cancer risk and showing enduring support and care. We’re grateful that we are still making a difference in the lives of those affected by cancer. As part of World Cancer day, we challenge individuals, families, companies, schools, service organisations, to partner and work with CANSA to raise awareness of our vital services so that we can continue helping to build a world without cancer. And to let all cancer patients know that they are not alone.”

What You Can Do –
21 Days to Impact Challenge:
“If you’re not sure where to start, sign up for the World Cancer Day ’21 Days to Impact Challenge’. It takes the proverbial 21 days to create a positive habit. So, for 2021, whether you’re committing to improving your personal health and those of your loved ones, supporting someone you love with cancer, educating yourself about cancer, speaking out against cancer or making history by helping to eliminate cervical cancer, sign up to one of the five challenges to receive daily inspiration and practical guidance,” stated Joubert.

Know your body – be aware of changes and do regular self-examinations (skin, breast or testicular). Get to know the signs of cancer and symptoms.
Vaccinate against HPV and Hepatitus B viruses that may lead to cancer.
Do regular cancer screening and make an appointment at your local CANSA Care Centre for: Clinical breast examinations and Pap smears (cervical cancer screening test for early diagnosis); Prostate Specific Antigen (blood tests to assist with detecting prostate abnormalities); FotoFinder (skin examinations) and Faecal occult Blood Home-test kit (for early detection of colorectal cancer).

Eat smart – find information on CANSA website.
Take CANSA’s online Lifestyle Risk Assessment Tool that that can help identify health risks that you need to address –
Avoid carcinogens (cancer-causing agents) – avoid tobacco, alcohol and environmental carcinogens.
Support a cancer patient by offering practical support or referring them to CANSA – tell them about CANSA’s Tele Counselling service, iSurvivor, Metastatic Breast Cancer email support programme, pain management guides and Facebook support groups.

Wyndruifoes 2021

Volgens die jongste skatting deur SAWIS (Suid-Afrikaanse Wynbedryf Inligting en -Stelsels) en Vinpro word verwag dat die wyndruifoes in hierdie stadium ietwat groter sal wees as in 2020, maar steeds kleiner as die 15 jaar gemiddeld van 1.37 miljoen ton.

Die skatting in Januarie was die tweede van vyf jaarlikse beramings voordat die finale oesverslag in Mei vanjaar bekend gemaak sal word.
“Soortgelyke of ietwat groter opbrengste word in die meeste gebiede verwag danksy matige temperature en voldoende waterbronne wat tot goeie wingerdgroei aanleiding gegee het,” sê Conrad Schutte, bestuurder van Vinpro se konsultasiediensafdeling. Daar word verwag dat rypskade langs die Oranjerivier en koue en reënerige toestande aan die Kaapse Suidkus gedurende die blom- en setperiode die opbrengs in hierdie gebiede sal beïnvloed.

Die koue weersomstandighede wat die meeste gebiede teen die einde van die winter ervaar het, was voldoende om aan wingerde se kouebehoeftes te voldoen en bogemiddelde reënval en sneeu het riviere, strome, besproeiingsdamme en grondwatervlakke goed aangevul. Nadat wingerde laat, maar mooi gelyk uitgebot het, het koeler temperature en ʼn bogemiddelde reënval in die lente voortgeduur, wat verder bygedra het tot ‘n effens later, maar goeie blom en set. Wingerdboukundiges was veral in hierdie stadium tevrede met die hoeveelheid en groottes van druiwetrosse.
“Deurslaan was ook laat en stadig weens matige temperature sedert die begin van die somer, en ons het minder skielike temperatuurstygings gesien as gewoonlik wat sonbrandskade beperk en help om die geure te behou. Produsente moet egter op die uitkyk wees vir donsskimmel en witroes en dit proaktief bestuur,” sê Conrad.

Parstyd het ongeveer twee weke later as gewoonlik begin wat tot die bedryf se voordeel óf nadeel kan wees.
Vinpro is bly dat wynbesighede weer kan begin handel dryf met die onmiddellike opheffing van die verbod op plaaslike drankverkope, maar sal as prioriteit voortgaan met verskeie aksies om die bedryf se volhoubaarheid in die langtermyn te verbeter.
Wynbesighede kon sedert Maart 2020 reeds vir 20 weke altesaam geen inkomste uit plaaslike wynverkope verdien nie, wat tot ʼn algehele verlies van meer as R8 miljard uit plaaslike verkope gelei het en steeds ʼn bedreiging vir die voortbestaan van kelders, wyndruifprodusente en die lewensbestaan van 27 000 werknemers in die wynbedryfwaardeketting inhou.

“Die oopstel van wynverkope vir tuisverbruik van Maandag tot Donderdag, asook wynkelders vir verbruik in restaurante en proelokale regdeur die week en oor naweke sal help om van ons plaaslike wynverkope terug te bring na meer volhoubare vlakke,” sê Rico Basson, Vinpro-bestuurshoof.
“Hoewel ons bly is dat besighede weer ʼn inkomste kan verdien, lê ʼn baie lang en moeilike herstelpad vir wynverwante besighede voor en is dit selfs vir sommige besighede te laat.”

Vinpro bou as prioriteit voort op verskeie aksies waarvoor die organisasie hom oor die afgelope 10 maande beywer het.
“Ons moet eerstens verseker dat ons bedryf nie weer landswyd soos ʼn ligskakelaar aan- en afgeskakel word deur die regering ongeag verskille in die Covid-19 status in die onderskeie provinsies nie.”

Die organisasie sal daarom voortgaan met die aansoek wat op 27 Januarie 2021 by die Kaapse Hooggeregshof ingedien is om tussentydse regshulp aan te vra wat die premier van die Wes-Kaap die mag sal gee om van die algehele en landswye verbod af te wyk om die verkoop van drank op persele en vir tuisverbruik in die Wes-Kaap moontlik te maak. Soortgelyke verligting met betrekking tot die ander provinsies sal versoek word.
“Covid-19 bly egter ʼn ernstige realiteit wat die lewens en lewensbestaan van Suid-Afrikaners in gevaar stel.

“Ons as bedryf verbind ons daartoe om steeds voorkomende maatreëls van plaasvlak tot kleinhandel proaktief te implementeer om werknemers, verbruikers en breër wynbedryfgemeenskappe te beskerm. Ons bly ook deel neem aan gesprekke rondom ʼn risiko-aangepaste benadering om die ekonomie verder oop te maak en oop te hou,” sê Basson.

“Vinpro en ons lede beywer ons vir die verantwoordelike verbouing, produksie, bemarking, verkoop en verbruik van ons produkte, waarvoor ons wêreldwyd erkenning ontvang het,” sê Basson.
“Ons sal ons steeds tot die regering wend vir finansiële verligting om die lewensbestaan van ons 533 wynkelders, 2 778 wyndruifprodusente en 269 000 werknemers in die wynbedryfwaardeketting te beskerm,” sê Basson.
Uitgereik deur Vinpro