Category Archive : News

Stand van die damme

Die damvlakke van die voorsieningskanaal van die Wes-Kaap het Maandag op 80% gestaan, in vergelyking met verlede week se 81.7% en verlede jaar dieselfde tyd se 67.8%.

Die Bergrivier se vlak het Maandag op 79.9% gestaan. Verlede week het die damvlak op 81.9% gestaan en verlede jaar dieselfde tyd op 81.2%.
Die Laer-Steenbras is nou 74.6% vol, in vergelyking met verlede week se 76.8% en verlede jaar se 72.9%.

Die Theewaterskloofdam het Maandag op 83.9% gestaan. Verlede week was die dam 85.4% vol en 61.7% verlede jaar op dieselfde tyd. Die Wemmershoekdam was Maandag 80.5% vol, waar dit verlede week op 82.3% gestaan het. Verlede jaar was die dam dieselfde tyd 67.8% vol.
Die Voëlvleidam was Maandag 74.9% vol. Verlede week het die dam se vlak op 76.2% gestaan en verlede jaar op 68%.

Bron: www.capetown.gov.za

Simply Bee – Hopefield

Simply Bee is een van daardie handelsmerke wat jy al hoe meer raaksien. Nie net oor die oulike kenteken nie, maar oor die groei in die onderneming se gewildheid en ook beskikbaarheid elders en nie net op Hopefield nie.
Simply Bee produseer hul eie byewas-produkte met heuning, propolis en byewas, gemeng met essensiële olies.

Die onderneming het sy ontstaan gehad, ná eienaar Helena se pa in 1954 reeds met bye begin boer het. In 2008 het sy en Pierre van der Weshuizen die boerdery by haar pa oorgeneem en dit uitgebrei.
Helena het self ‘n sensitiewe vel en sy het in 2011 ‘n produkreeks ontwikkel wat by haar tipe vel sou pas. Dit het vinnig gegroei en is vandag in meer as 400 winkels regoor Suid-Afrika beskikbaar.

Simply Bee se produkte word selfs na vyf lande uitgevoer.
Gevra oor wat hulle produk uniek maak, kom dit neer op die natuurlikheid van die produk en wat dit bied.

“Ons produkte word is als natuurlik, die vel is mal daaroor en als word met die hand gemaak van begin tot einde. Dan het ons ook ‘n produktewinkel waar ons produkte aangekoop kan word, langs dit het ons ook ‘n bye-observasie waar almal meer kan leer oor die bye en dit is vir ons baie belangrik om meer te leer oor die gewaarwording van die by en wat die bye vir ons toekoms beteken. Langs die observasie het ons ook ‘n decor & geskenke winkel, ‘n Koffie winkel en ook ‘n Skoonheids salon oor kant die pad wat net met Simply Bee produkte velsorg behandelinge doen.”
Ook by Simply Bee het die Covid19-inperkings die pad vergemoeilik, maar het hulle geleer om aan te pas.

“Ons het geleer dat dit baie belangrik is om ten alle tye genoeg voorraad te dra. Ons was gelukkig om onder essensiële dienste te klassifiseer en kon dus aanhou besigheid doen. Ons het inderwaarheid ‘n groot groei in hierdie tyd getoon. Ons personeel het beurte gemaak om te werk, vir hul veiligheid. Ons is ook gelukkig om nog geen Covid-geval aan te gemeld het nie.”

Kontak Simply Bee by 022 723 0569 of besoek www.simplybee.co.za. Maak ‘n draai by die winkel in Kerkstraat 31A, Hopefield.

Sabino Canyon Spur

Talle ondernemings in die Swartland gaan gebuk onder die druk van die Covid19-pandemie.
Sabino Canyon Spur op Malmesbury is ook een van hierdie ondernemings, maar is beslis nie die enigste nie.
Oor die afgelope maande het die Swartland Joernaal berig oor ondernemings wat nuwe planne moes maak om hul deure oop te hou en hul personeel van werk te voorsien.
In die tyd het talle Swartlanders hul werk verloor en talle besighede hul deure gesluit.

‘n Nuwe normaal het sy plek in die samelewing gevind en dit is verblydend om te sien hoe Swartlanders saam staan en hul by die reëls en regulasies van die landswette hou.
Met die onlangse Malmesbury Sakekamer se jaarlikse aanwysing van die beste diensverskaffers op Malmesbury, het die plaaslike Spur ‘n tweede plek ingepalm, maar staan nou self met hul rug teen die muur weens die pandemie.
Eve Lakey, wat sedert 2012 hier werksaam is, het die toekenning ontvang. Sy het as ‘n kelnerin by die restaurant begin werk en haarself bemagtig en opgewerk tot ‘n bestuurder.

Maar ook hier is afleggings gedoen en aanpassings gemaak.
“Dit is nou die tyd wat ons moet boeke vat en kyk hoe en waar ons nog aanpassings kan maak, sodat hierdie konsessie op Malmesbury kan bly voortbestaan. Ons bly hoopvol en ons bly positief, maar die realiteit van die pandemie is soos ‘n glas yswater in die gesig. Dis iets wat ons op ons knieë hou, maar ons bid vir nuwe moontlikhede, nuwe idees en positiwiteit,” aldus Jopie, eienaar.

Besoek Sabino Canyon Spur op Malmesbury in Voortrekkerweg vir smullekker vleis, burgers, melkskommels en vele meer.

Plaasmol spog met talle interesanthede

By die Plaasmol-padstal op die R45 buite Hopefield, kan jy seker wees dat jy iets sal opspoor wat jou belangstelling sal prikkel.
Hier word heerlike tuisgebak, snuisterye, spys en drank, geskenke en vele meer aangetref.

Alhoewel Plaasmol ‘n padstal is, probeer hulle ook om groter groepe mense te akommodeer.

Die Plaasmol is bied kitskos, vir ‘n vinnige happie langs die pad.
Dit bied ook ‘n kort wegbreek uit die stad of die Weskus.

“Ons probeer goeie, gesonde, vars produkte hier te verkoop. So ook groente, kaas, lekkers, meel, konfyte, koeldranke en varsgebak soos ons heerlike pasteie.”

Die Plaasmol beskik ook oor ‘n kwekery, ‘n ‘petting zoo’, ‘n funksielokaal vir troues en selfs ‘n boskroeg vir ‘n drankie of twee.

Fransie Rossouw, eienaar van die Plaasmol, het tien jaar gelede die tog uit die Kaap geneem en in 2011 met ‘n troeteldierwinkel begin, maar vinnig besef dat besoekers koffie en ietsie om te ete soek.
Haar suster, Barbara Geldenhuys, het in 2018 die kwekery op die perseel begin.

Die nuutste toevoeging, die juwelierswinkel, is die breinkind van haar Fransie se dogter, Franselize.

Die begin van die Plaasmol was nie altyd maanskyn en rose nie.
“Ek het klein begin – deur goed op die plaas op te tel en dit dan te omskep in iets anders. Ek het besef dat die meeste items herwinbaar is en ons fokus sterk hierop.”
Die Plaasmol is ook rolstoel- en kindervriendelik.
As jy aangery kom, sien jy ‘n bekende baken – die vliegtuig wat eens op ‘n tyd by die Ratanga Junction-pretpark gestaan het. Een van die windplaas se lemme lê ook op die perseel, waar dit besigtig kan word.
“Ons het ook die grootste stole en pizza-oond in Afrika hier by ons.”
Die Covid19-pandemie het ook hier hard geslaan.
“Ons het vinnig besef dat die platteland ons sterk punt is. Ons het meer groente, vrugte, vleis, melk en botter begin aanhou. Alles van hoogstaande gehalte en alles vanaf plaaslike verskaffers. So het ons probeer om die plaaslike sakelui ook te ondersteun.”

Besoek die Plaasmol Padstal op die R45 buite Hopefield as jy na die opelug, iets heerliks te ete en drinke smag en jou sintuie iets wil gee om te onthou!
Kontak Fransie Rossouw by 074 924 8478.

Wen die Valentynsdag

Sondag is dit weer die tyd van die jaar waar blomme en sjokolade koning kraai. Waar liefdeswoordjies gefluister word en waar geliefdes mekaar bederf.

Dis reg, dis Valentynsdag!

Volgens Wikipedia is daar groot onsekerheid oor die ontstaan van Valentynsdag.
Valentynsdag is ‘n dag waarop geliefdes ekstra aandag aan mekaar gee deur geskenke, blomme of kaartjies uit te ruil. Valentynsdag word op 14 Februarie gevier, en is gewild in baie lande regoor die wêreld, alhoewel dit nie gewoonlik ‘n amptelike vakansiedag is nie. Die dag is vernoem na ‘n vroeë Christelike martelaar, Sint Valentyn, en is ingestel nadat Pous Gelasius I dit in 496 as die dag van die Heilige Valentyn verklaar het.
Aanvanklik is daar nie ‘n romantiese betekenis aan Valentynsdag gekoppel nie. Dit is eers in die laat Middeleeue tydens die bloeitydperk van hoofse liefde dat romantiese gebruike met hierdie dag geassosieer is.

Die gedigte van Chaucer word dikwels aangehaal as die eerste vorme van valentynsgedigte. Teen die vyftiende eeu het daar ‘n tradisie ontwikkel waarvolgens verliefdes vir mekaar blomme, lekkergoed, en kaartjies gestuur het. Dit het belangrik geword om ‘n gepaste valentynsgedig, of boodskap in die handgemaakte kaartjie te skryf. In die negentiende eeu, met die aanvang van meganisasie, is valentynskaartjies vir die eerste keer op grootskaal in fabrieke vervaardig. Hierdie gekoopte kaartjies het dan ook die vroeëre handgemaakte kaartjies gedeeltelik vervang.

Waaroor daar egter geen onsekerheid is nie, is dat een gelukkige leser ‘n groot prys gaan wen in vanjaar se Valentynsdagkompetisie. Met ‘n geskenkpak wat bestaan uit ‘n geskenbewys van Just Nails, die Herehuis, alkoholiese verversings deur Ultra Liquor, sowel as People’s Liquor, ‘n behandeling deur Just Relax-haarsalon en ‘n bos blomme van Malmesbury Kwekery, sal jy seker wees dat jy geliefd sal voel op 14 Februarie.

Al wat jy moet doen is om die slagwoord LIEFDE, saam met jou naam, van en tuisdorp te stuur na 061 555 0344 voor Donderdag om 15:00. Die wenner sal telefonies in kennis gestel word.

Roman’s Pizza Malmesbury

Ekspo vir eers uitgestel

As alles volgens plan verloop het, sou die omgewing hierdie week ‘n miernes van bedrywighede gewees het met die jaarlikse kykNET Buite Ekspo wat op die Môreson-plaas buite Malmesbury deur Trio Events aangebied word.

Dit is egter nie vanjaar die geval nie.

Weens die Covid19-pandemie se inperkings op sosiale bymekaarkomgeleenthede, is Marius Opperman, organiseerder, genoodsaak om die ekspo uit te stel tot ‘n latere datum.
Die ekspo sou oorspronklik vanaf 12 tot 14 Februarie plaasgevind het.
Die buitelug-ekspo is verlede jaar vir die 10de keer aangebied en dit sou vanjaar vir die agste keer op Môreson gehou wees.
Om so ‘n geleentheid te organiseer is geen maklike taak nie en volgens Opperman begin hulle reeds ses maande voor die tyd met die beplanning.
Uitstallers hoef egter nie bekommerd te wees nie, want die ooreenkoms tussen hulle en die organiseerder word net aangeskuif na die beskikbare datum.

“Ons kanselleer nie die geleentheid nie. Ons skuif net die datum aan.”
Volgens Opperman het die verskuiwing van datums groot finansiële implikasies op hulle, aangesien hulle nie ‘n inkomste kan genereer as hulle nie hul funksies aanbied nie.

Nuwe rokkie vir Hopefield se historiese stasie

• Madi Pieterse
HOPEFIELD – So kort voor die aanbreek van die Kersseisoen het vrywillige inwoners van Hopefield saamgespan om hulle stasie ’n ‘total make-over’ te gee.

Die voorvatter vir hierdie enorme taak was Lizelle Strydom, bestuurder van Hopefield Museum en jarelange inwoner van dié dorp (Lizelle doen die werk as bestuurder van die museum vrywillig en ontvang geen befondsing vir die oophou van die museum vanuit die streek nie. Sy het dit wel reggekry om ’n Eksterne Publieke Werke-kontrak met Moorreesburg Koringmuseum te bewerkstellig om iemand voltyds by die museum aan te stel).

Elkeen wat kon, het ’n bydrae gemaak, hetsy help skoonmaak en restoureer, eet- en drinkgoed verskaf aan die vrywilligers of deur skenkings van verf en skuurpapier en alles wat nodig was dat die werk gedoen kon word.
Ongelukkig het die stasie met tyd ’n uithangplek vir leeglêers geword. Higiëniese toestande was haglik, die strukture is verniel en plantegroei het oorgeneem – ’n seer oog en groot hartseer vir inwoners oor wat eens was.
Lizelle het maandelank met Transnet gekorrespondeer nadat plaaslike besigheidsmense aangedui het dat hulle die gebou wil koop of huur om ’n besigheid daarvandaan te bedryf. Selfs die plaaslike raadslid, Miranda Schrader, het probeer, ongelukkig sonder sukses. Selfs ’n afgevaardigde van die Gemeenskapspolisiëringsforum en voorsitter van die buurtwag kon geen hond haar-af maak nie.

Dit is in hierdie stadium dat inwoners besluit het om eienaarskap te neem en self skoon te maak. Sosiale media se werkinge is ingespan en vrywilligers maak hulself beskikbaar en verfdonasies kan opgelaai word.
Die eerste dag se werk was die moeilikste. Die stank van die gemors binne die gebou was byna onuithoudbaar, maar manne met mae van staal het deurgedruk en sowat vyf ure later is sakke en sakke gemors deur een van die besigheidsmanne van die dorp weggery. Die binnekant lyk sommer heel anders.

Dag twee se werk het behels om bosse en onkruid buite-om te verwyder. Weer ’n groot taak, maar met die hulp van ’n bossiesnyer, ’n trekker en bossieslaner word die taak aansienlik makliker. Een van die helpers is ’n 67-jarige inwoner wat nostalgies vertel hoe hy as jong man saam met vriende en familie die trein gehaal het by Koperfontein en gery het tot op Hopefield om inkopies te gaan doen.

Vrywilligers van Hopefarm spuit die naambord skoon met ’n hoëdrukspuit en begin sommer om die geboue ook skoon te spuit.
Maar die werk was vêr van klaar.
Nadat die gras en onkruid weggery is, lyk die perseel stukke beter.
Die afskuur van die gebou word gedoen met skrapers en skuurpapier en wat ookal vir die taak ingespan kan word. Een van die vrywilligers is ’n inwoner van 77 jaar oud, wat ook ’n bydrae wil lewer.

Die naambord by die stasie is ouer as 60 jaar en spog met ’n unieke stukkie geskiedenis. Dit dui die hoogte bo seevlak aan as 138 voet en die afstand Kaapstad toe as 87 myl. Al hierdie inligting word bewaar en mooi gemaak sodat die jonger geslag nog vir jare daarna sal kan kyk.

Die Vrydagmiddag van die eerste week se werk kry die projekspan ondersteuning uit ’n onverwagse oord. Transnet se streekshoof oor eiendomme, Phillip Zondo, maak kontak en daag later by die perseel op.
Hy is verstom oor wat die inwoners binne ’n paar dae reggekry het en bied terstond hulp en ondersteuning aan. ’n Werkspan van Transnet daag Maandag op om hand by te sit, ’n sekuriteitsbeampte word gereël en die verf wat benodig word, word deur die loop van die week afgelewer.
Tussen al die gesprekke deur word daar ook gevra vir ’n ou stoomtrein en eetwa om op die sylyn getrek te word as besienswaardigheid. Die aansoek hiervoor is per e-pos aan hom gestuur.

Phillip het sy eie stukkie nuus oor die gebou. Met die ontvangs van die eerste e-pos maande gelede is die besluit geneem om die gebou te sloop. Genadiglik het iemand by Transnet besef dat dit ’n erfenisgebou is en kon die besluit nie uitgevoer word nie. By die Hopefield Museum pronk foto`s van 1901 van die stasiegebou en die oorspronklike toestand daarvan, ’n bewys van die gebou se erfenisstatus.

Die werk wat elke dag by die stasie gedoen is, was op sosiale media gedeel en mense van heinde en vêr het kommentaar gelewer op die groot taak wat verrig word. Dit was juis een van hierdie kommentare wat aangedui het dat die “stasie ’n nuwe rokkie kry”.

’n Elektrisiën van Transnet het reeds die elektrisiteit herstel en alle ‘ogies is terug in hulle rame’.

Die suksesvolle transformasie van Hopefield se stasie kan nie aan een persoon toegeken word nie. Dit was voorwaar ’n poging deur die mense van die dorp, oud en jonk, man en vrou asook besigheidsmense wat gewys het dat hulle nie bang is om saam eb hard te werk nie.

Daar moet nog bietjie water in die see loop vir alles om gefinaliseer te word, maar dit blyk dat Hopefield Stasie se “nuwe rokkie” nie té vêr van klaar is nie.

Sport – Moorreesburg kroon rolbalkampioene

Francois van Zyl en Alta Vos is die klubkampioene in die mans- en dames enkelspel afdelings vir 2021.
Hulle het uitstekende spel gelewer maar die opponente het hulle goed laat werk vir die oorwinnings.

Francois is ook die Weskus enkelspel kampioen van die Weskus vir 2020.
Die goeie nuus is ontvang dat alle tipe spel van enkels tot vier-balle nou gespeel mag word onder Vlak 3 inperking en dus gaan Moorreesburg Rolbalklub se Besigheidsliga binnekort weer begin. Alle besighede word genooi om solank hulle spanne bymekaar te kry.

Jonk en oud is welkom om by die klub te kom rol. Julle het drie maande om dit uit te toets alvorens lidmaatskapgelde betaalbaar is. Kontak die President Johann Smuts by 076 693 1538 of die Wedstrydsekretaris, Kiewiet van Rooyen by 082 896 5826.

Stand van die Damme

Die damvlakke van die voorsieningskanaal van die Wes-Kaap het Maandag op 81.7% gestaan, in vergelyking met verlede week se 83.4% en verlede jaar dieselfde tyd se 69.3%.

Die Bergrivier se vlak het Maandag op 81.9% gestaan. Verlede week het die damvlak op 83.9% gestaan en verlede jaar dieselfde tyd op 84.4%.
Die Laer-Steenbras is nou 76.8% vol, in vergelyking met verlede week se 79.1% en verlede jaar se 75.6%.

Die Theewaterskloofdam het Maandag op 85.4% gestaan. Verlede week was die dam 86.6% vol en 62.8% verlede jaar op dieselfde tyd. Die Wemmershoekdam was Maandag 82.3% vol, waar dit verlede week op 84.2% gestaan het. Verlede jaar was die dam dieselfde tyd 69.9% vol.

Die Voëlvleidam was Maandag 76.2% vol. Verlede week het die dam se vlak op 78.5% gestaan en verlede jaar op 70.6%. Bron: www.capetown.gov.za