Tier storm voort

Tier storm voort

Never Despair het Saterdag gewys hoekom hy as een van die groot gunsteling beskou word vir die gesogde Swartland groot Uitdaag beker toe hy die verdedigende Kampioen Darling RVK op Malmesbury geklop het.
Never Despair, wie steeds onoorwonne is hierdie seisoen na 4 wedstryde, het weereens groot karakter getoon en seker gemaak die doellyn is iets wat Darling slegs kan oor droom op die dag. Hul verdediging was op standaard en die Tier se tande was vlymskerp op die aanval. Teen rustyd was die telling nog 9 -6 in die guns van die tuisspan. Never Despair het egter hul kanse beter benut en twee geelkaarte het ook Darling se poging erg in die wiele gery.
Never Despair het uiteindelik welverdiend uit die wedstryd as oorwinnaars getree en sal met baie selfvertroue hierdie naweek reis na Abbotsdale RVK, wie tans die top posisie beklee in die Swartland Groot Uitdaag Beker. Abbotsdale RVK het Saterdag hul vierde oorwinning behaal teen Good Hopes RVK. Abbotsdale RVK het baie goed begin en Good Hopes RVK onder geweldige druk geplaas, wat gelei het na twee goeie drieë deur die voormalige Good Hopes speler Bertram Guysenberg. Na die twee driëe het Abbotsdale egter op hul louere gaan rus en Good Hopes RVK het stelselmatig met goeie gebiedsvoordeel en ‘n paar strafskoppe die telling in hul guns geswaai. Die tuisspan kon egter nie die laaste spyker in Abbotsdale se kis plaas nie.
In die tweede helfte het Abbotsdale RVK egter weer bietjie ritme gekry maar moes hard veg om n naelskraap oorwinning te behaal teenoor Good Hopes. Die wedstryd tussen Never Despair RVK en Abbotsdale RVK beloof dus om vir groot opwinding te sorg die komende Saterdag. Wedstryde tussen hierdie spanne is gewoonlik baie naeslkraap met titaniese stryde wat in die verlede enige kant kon swaai. Never Despair se tier sal egter nog ‘n groot naam op sy kerfstok wil inpalm hierdie naweek met ‘n oorwinning oor die tuisspan met minder as 7 punte.
Wesbank RVK het Saterdag weer op die wenpad gekom met ‘n goeie bonuspunt oorwinning teenoor Villagers Wittewater RVK op Piketberg. Die tuisspan het in die eerste 20 minute groot karakter getoon en het Wesbank RVK goed in toom gehou.
Villagers Wittewater was ook goed op die verdediging en Wesbank RVK se vuurwarm agterlyn moes hard werk om punte aan te teken. Villagers Wittewater was baie goed op die dag met hul vurwarm kaptein Jaque Adams aan die spits. Ian De Mornay was ook baie goed met sy stelskoppe. Villagers Wittewater RVK kon egter slegs een keer agter die pale van Wesbank RVK gaan rus in die vorm van ‘n drie deur Chaslyn Goshai. Die laaste 20 minute was Villagers Wittewater RVK se wind egter uit hul seile, met Wesbank RVK wat die beter rugby gespeel het. Goeie balverspreiding het gelei na drieë deur Wesbank se senterpaar asook Reduwaan April, wie tans die voorste driedrukker is met 7 drieë in 4 wedstryde. Ander groot uitblinkers vir Wesbank RVK op die dag was die skakelpaar Bevan Abrahams en Dashton Wellman. Wesbank RVK speel Saterdag gasheer vir Moorreesburg RVK wie oorgehaal is om sy goeie vertonings voort te sit. Moorreesburg RVK het Saterdag hul derde bonuspunt oorwinning behaal deur Saron RVK op Moorreesburg te klop. Saron RVK het vroeg aangeval en Moorreesburg moes baie staal toon op verdediging. Na 15 minute se rugby en steeds 0-0 het die skeidsregter egter eers opgedaag en die instaan skeidsregter vervang.
Moorreesburg het eerste bloed geruik en goeie spel deur Euwen Persen en Edwayne van Wyk het gelei na die eerste drie deur William Adonis.
Moorreesburg het met goeie agterlyn spel nog ‘n drie gedruk deur Brendon Erasmus. Saron het egter terug geslaan met ‘n drie van sy eie. Dissipline was egter ‘n probleem aan beide kante en die skeidsregter moes kalmte bring met n paar geelkaarte. Teen rustyd was die telling 12 – 7 in die guns van die tuisspan en nie baie kon die twee spanne skei nie.
In die tweede helfte was daar egter nuwe diesel in die Formule 1 karretjies van Moorreesburg en goeie agterlyn het gelei na drieë deur Jaydon Markus, Jehann Bonn, Heinrich Boois en Jason Damonz. Dit was veral Edwayne Van Wyk wie die wedstryd op hom self geneem het my sy vlugvoetige systappe en rotsvas verdediging. Hy het op ‘n tyd die bal van die afskop gevang en deur die hele Saron gehardloop, en Saron moes met hande op die heupe toekyk hoe Moorreesburg RVK drieë druk vir die genot daarvan. Saron het laat in die wedstryd ‘n troosdrie gedruk, maar die koeël was reeds deur die kerk en Saron en sy ondersteuners moes met sak en as terug reis. Moorresburg RVK sal baie uit die wedstryd neem en sal weet dat Wesbank RVK hul grootste uitdaging sal wees van die seisoen sover.
Wedstryde tussen hierdie buurdorpe is gewoonlik vol opwinding en daar is nie baie te skei tussen Moorreesburg RVK en Wesbank RVK op die oomblik nie. Wesbank RVK sal sy tuisveld tot sy voordeel wil gebruik en Moorreesburg RVK weet dat indien hulle hul strategie goed uitvoer hulle die tuisspan kan ore aansit. Wesbank is egter ‘n moeilike kalant en sal die wedstryd naelskraap met minder as 5 punte wen.
Koringberg RVK het Saterdag gereis na Porterville RVK. Die tuisspan het hul eerste oorwinning behaal deur Koringberg RVK te klop. Beide spanne het hulle baie goed van hul taak gekwyt in die eerste helfte en teen rustyd was Koringberg RVK voor met 12 – 10. Porterville RVK het egter in die tweede helfte met meer dringendheid gespeel en het verwoed aangeval. Koringberg moes egter veg teen Porterville en die beseringspook. Porterville het in die tyd die drieë ingeryg. Koringberg het met ‘n paar taktiese skywe egter in die wedstryd probeer bly, maar hul verdediging was aan flarde. Koringberg sal egter baie uit die wedstryd neem en sal eerskomende Saterdag op hul tuisveld meer karakter wil toon wanneer hulle gasheer speel teen Good Hopes op Koringberg. Beide spanne is steeds opsoek na hul eerste oorwinning maar Koringberg sal op hul tuiste seker maak hul wen hul eerste wedstryd met minder as 7 punte.
Wittewater Villagers RVK reis Saterdag na Darling RVK wie nie lank sal wil treur oor hul loesing teen Never Depairs nie. Darling RVK sal wil opmaak en onmiddellik weer sy stempel afdruk op sy titel aanspraak. Dinge lyk nie so rooskleurig vir die besoekers nie en hul strewe na ‘n eerste oorwinning sal ten minste nog n week moet wag wanneer Darling gemaklik met meer as 15 punte sal wen.
Die derby-stryd teen Porterville RVK en Saron RVK op Saron sal ook vir groot opwinding sorg die komende Saterdag. Porterville sal wil voortbou op sy goeie oorwinning teenoor Koringberg RVK, maar Saron RVK is ‘n moeilike neut om te kraak op sy tuisveld. Saron sal wil opmaak vir sy loesing en behoort die Derby wedstryd naelskraap met minder as 7 punte te wen. Ons sien weereens uit na hope genot en vuurwerke op die Swartland rugbyvelde die komende Saterdag.
• Abri Adonis

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*