White kook ‘n storm los

White kook ‘n storm los

Volgens die 29-jarige Crescendo White van Malmesbury, het sy liefde vir bak en brou in sy ma en ouma se kombuis begin.
Dié jong sjef se hart het eintlik by onderwys gelê, maar soos gewoonlik het die heelal ander planne vir hom in die vooruitsig gehad.
Die geleentheid het hom voor gedoen in 2019, in die vorm van ‘n kook kursus wat deur die Werkloosheidsversekeringsfonds (UIF), in samewerking met Weskus Kollege, aangebied is.
Die befondsing en perseel was onderskeidelik deur die twee instansies voorsien.
Alhoewel die kursus oor ‘n bestek van 18 maande sou strek was hulle verplig om die teoretiese deel binne 6 maande te voltooi weens die uitbreek van die Covid-19 pandemie.
Crescendo het sy prakties by die destydse ‘Marvel Bistro’, huidiglik bekend as Hill View, in 2020 begin. Toe grendeltyd egter in plek gesit word was hy verplig om dit eers op ys te sit.
Hy het egter sy prakties intussen voltooi, en is tans die hoof sjef by Peaberry Café in Malmesbury.
Sy gradeplegtigheid het op 13 Mei 2021 by ‘The Barnyard Theater’ in Tyger Vallei plaasgevind, waar hy trots deur geliefdes ondersteun is.
‘n Bewonderenswaardige aanvulling tot sy storie is die feit dat Crescendo al vir jare geen geheim van sy seksuele oriëntasie maak nie.
Hy is al vir die afgelope 3 jaar in ‘n baie gelukkige en standvastige selfdegeslag-verhouding.
Hy noem dat hy reeds vanaf sy vroeë kinderjare besef het dat hy nie tot die skoner geslag aangetrokke was nie, maar het dit onderdruk en weggesteek.
Hy het besluit om homself aan niemand te verbind nie, en tot op die ouderdom van 21 was hy in geen romantiese verhoudings betrokke nie.
Crescendo se ouers het egter besluit om die eerste stap te neem.
Hulle het met hom gaan sit en meegedeel dat hulle hom oneindig baie lief het, en dat hulle hom aanvaar asook ondersteun net soos hy is.
Hy noem dat dit ‘n baie emosionele oomblik vir hom was aangesien hy homself vir soveel jare gekruisig het. Crescendo beoog om nog groot hoogtes te bereik en een van sy drome is om eendag sy eie restaurant oop te maak.
‘n Plek waar hy al die kennis en ervaring wat hy tans opdoen, kan uitleef.
Maar vir nou, kan mense sy lekker kos gaan proe by Peaberry Café, waar hy heerlike resepte op die proef stel, en die vryheid geniet om sy kreatiewe gees uit te leef.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*