Wilhelm Stols: Digdenkende jongman

Wilhelm Stols: Digdenkende jongman

•Leonita Coutts
Oppad na Wilhelm Stols tref die natuurskoon jou. Woonagtig op ‘n plaas, Môrelig, wat weggesteek lê in die Paardebergvallei.
Mens word glad nostalgies, en vind dit nie verbasend dat ‘n digter hier iewers bly nie.
Met die oogopslag tref die jongman ‘n mens met sy oop gesig en onweerstaanbare glimlag. Wilhelm lyk aanvanklik skaam, maar as hy eers begin gesels…
Hy noem dat sy liefde vir digkuns vroeg gedurende grendeltyd, verlede jaar, begin het.
Nou ‘n leerder aan Schoonspruit Sekondêr op Malmesbury, praat Wilhelm net met lof van die skool.
Hy noem dat Schoonspruit die perfekte leerplan in plek het.
Veral vir studente wat kunstig aangelê is.
Sy digbundel, Die Digdenkende Seun, het eers net met een klein gediggie begin.
Maar na bietjie navorsing asook die bemoediging van vriende, en sy mentor, Ashwin Arendse, het hy meer gedigte begin neerpen.
Wilhelm het aanvanklik sy omgewing gebruik om hom te inspireer vir gedigte, maar het besef dat hy ook sy emosies, en die mense wat hom daagliks aanraak, as materiaal kan gebruik.
Hy sien ‘n toekoms vir homself in die wêreld van digkuns en noem dat geen struikelblok te groot is om te oorkom nie.
Hy is van die opinie dat die jeug hulle oë moet fokus op dit wat hulle kan vermag en nie op dit wat hulle terug hou nie.
As ‘n passievolle jongman sluit Wilhelm af met die volgende woorde:
“Daar is geen verskoning meer vir luiheid nie, en om jou omstandighede as verskoning te gebruik is outyds. Die geleenthede is daar.
“Gryp dit aan en gebruik dit wat aan jou beskikbaar gestel word om iets in die lewe te vermag.”
Wilhelm se digbundel, Die Digdenkende Seun, wat deur LJ-Uitgewers uitgereik is, bevat 43 gedigte, en is beskikbaar teen R120 per boek.
Diegene wat belangstel om sy digbundel te koop, kan hom kontak per e-pos by stolswilhelm@gmail.com of via sy Facebookblad, ‘Stols Production’.

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*