Nuwe tegnologie vir beheer van bysiendheid

Nuwe tegnologie vir beheer van bysiendheid

Bysiendheid, ook genoem miopie, is ‘n oogtoestand wat globaal geweldig toeneem. So sê Neels Hattingh van Hattingh Oogkundiges op Malmesbury.
Daar word verwag dat teen 2050, ongeveer die helfte van die wêreld se bevolking bysiende kan wees.
Bysiendheid is wanneer ‘n persoon sukkel om ‘n ver voorwerp in fokus te bring. Indien bysiendheid slegs jou visie aantas sou die probleem nie so groot gewees het nie, aangesien bysiendheid maklik met ‘n bril- of kontaklense gekorrigeer kan word.
Met verhoging in die bysiendheid neem die voorkoms van katarak, retinale loslating en makulopatie ook toe – dus hoër voorkoms van swaksiendheid en blindheid by bysiende persone later in hul lewe.
Sodra bysiendheid eers begin, kan die brilvoorskrif in ‘n baie kort tydperk baie sterker word.
Die progressie van bysiendheid gaan gewoonlik aan tot ‘n ouderdom van tussen 18 en 24 jaar. Daar word gepoog om die vordering (progressie) van bysiendheid so jonk moontlik in die persoon se lewe te beheer.
Een van die nuutste en mees effektiefste maniere om dit te doen is deur vir ‘n jong persoon die nuwe MiyoSmart-lens voor te skryf.
Toetse het getoon dat deur hierdie lens te gebruik, dit die bysiendheidprogressie met 60 % kan verlaag.
Sodra die bysiendheid dan begin om te stabiliseer (18 – 24 jaar) sal die resulterende bysiendheid baie laer wees as wat dit sonder die gebruik van die MiyoSmart lense sou wees en die langtermyn effek daarvan aansienlik verminder.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*