Benut jou huis as ‘n bate

Benut jou huis as ‘n bate

Om vir die eerste keer ‘n huis te koop, kan ‘n skrikwekkende ervaring wees. Dit verg baie werk en beplanning om ‘n huis in die regte area, met genoeg ruimte en teen ‘n spesifieke prys te vind wat by jou behoeftes pas, en dan is daar die beleggingsfaktor.
“Jy dink miskien nie aan jou nuwe huis as ‘n belegging nie,” sê Karmen Wessels, van die aanlyn versekeringsplatform Sanlam Indie. “Dit is jou eerste plek, en jy wil vir ewig daar woon. Dit is waar jy jou kinders sal grootmaak, dit is waar jy jou vriende gaan vermaak en dit is waar jy oud gaan word. Waarom sou jy dus aan jou huis dink in terme van die geld wat jy kan verdien as jy nie die bedoeling het om dit ooit te verkoop nie?”
Dinge verander egter. “Dit lyk dalk nie nou so nie maar jy kan dalk ‘n onmisbare geleentheid in ‘n ander land kry of jou kinders kom dalk by ‘n skool in ‘n ander woonbuurt in.” Dit beteken jy moenie jou huis net as ‘n huis beskou nie maar ook daaraan werk om dit in ‘n groot bate te verander.
Indien jy ‘n eerstehuiseienaar is, is die kans goed dat jy jonger as 40 is. “Dit beteken moontlik ook dat jy ‘n bietjie beperk kan wees is in terme van wat jy kan bekostig om te koop. Namate jou finansies en leefstylbehoeftes verander en groei, moet jou huis ook groei. Pas dus die manier waarop jy oor hierdie plek dink aan, want jy gaan dit moontlik later wil verkoop om by jou leefstyl aan te pas.”
Ligging, ligging, ligging. Wessels raai potensiële huiseienaars aan om regtig te oorweeg dat ligging baie belangrik is. “Die slegste plek op die beste ligging het steeds die potensiaal om ‘n stewige belegging te word, en as jy minder daarop spandeer, sal jy meer geld oor hê vir opknappings.”
Dit is volgens Wessels ook belangrik om mooi te dink oor die veranderings wat jy aanbring. “Doen navorsing om ‘n tydlose voorkoms te vind.” Indien jy twyfel, hou eerder by neutrale kleure wat goed sal verouder, en potensiële toekomstige beleggers sal opgewonde maak eerder as om hulle af te skrik.
Indien jy jou eiendom eendag wil verhuur, is dit belangrik om te kyk na die tipe huurder wat jy sal wil lok. AirBnB is ‘n uitstekende manier om vinnig geld te verdien, maar as jy byvoorbeeld in ‘n kompleks woon, sal jy eers moet bevestig of die regspersoon dit sal toelaat. Bepaal of korttermynverhuring moontlik is en of jou huis en omgewing aantreklik genoeg vir ‘n langtermynhuurder. Wanneer jy ‘n huis koop, moet jy ook kyk hoe naby dit aan geriewe, skole, godsdienstige geboue en toeristeaantreklikhede is, want dit kan ook bepaal of jy jou huis suksesvol sal kan verhuur.
Daar is ook talle maniere om jou huis vir jou te laat werk terwyl jy daar bly. Jy kan ‘n tuisonderneming begin en ‘n deel van jou uitgawes van belasting verhaal, jy kan kamers of stoorplek verhuur of ‘n groentetuin begin en produkte aan die gemeenskap verkoop. “Dit verg net ‘n bietjie kreatiwiteit en om regtig mooi te kyk watter geleenthede jou eiendom bied.”
Daar is volgens Wessels selfs maniere om jou huisuitgawes te verander in geleenthede om welvaart te skep. “Deur byvoorbeeld ‘n lewensversekeringspolis uit te neem (wat jy beslis moet doen as jy ‘n huis koop) wat vir jou geld terug in jou sak kan besorg. Soek ‘n versekeraar wat ‘n ‘geld terug’ -bonus of dies meer bied.”

  • Nico Strydom

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*