Day: May 25, 2022

Kruger, Ferreira dra kroon

Theoné Kruger en Janko Ferreira is Dinsdagaand tydens die Hoërskool Swartland se ArtHSS aangewys as Mnr En Mej HSS vir 2022. Kayla le Grange is as die eerste prinses aangewys, met Brigitte Buys as tweede prinses. Jan Christiaan Smuts is die eerste prins met Tiaan le Roux as die tweede prins.

Borg ‘n bibberpakkie

Wil jy dalk deel raak van die projek om te verseker Malmesbury se kinders voel veel warm hierdie winter?
Cynthia Slingers, Malmesbury se filantroop en gewese predikantsvrou, loods hierdie week die Borg-‘n-Bibberpakkie-projek.
Wil jy graag deel wees van hierdie projek?
Pak ‘n kombers (kniekombers is ook reg), mussie, sokkies en boksie cup a soup binne ‘n mooi sakkie of boksie en merk of dit bedoel is vir ‘n seun of meisie, en of die inhoud Groot, Medium of Klein is. Afgeepunte is die dorp se twee biblioteke en die afsnydatum is 10 Junie.
Slingers en haar helpers beoog om die Bibberpakkies op Jeugdag (16 Junie) uit te deel aan die ongeveer 70 kinders wat gereeld by sewe veiligheidshuise op Malmesbury versorg word.
Indien daar meer as die beoogde 70 pakkies ingesamel word, sal hierdie bydraes volgens Slingers se styl van deursigtigheid en betroubaarheid bestuur word.

Resep vir die week

Gestoofde ribbetjies

Bestanddele
Skaapribbetjie heel of in stukkies opgesny
Worcestersous
Braaivleisspesery
2 uie
Suurlemoensap
Aartappels
Sout en pepper
Gekerfde groenboontjies
Rooiwyn

Metode
Braai uie in bietjie olie en voeg bietjie suurlemoensap by. Haal uit en braai ribbetjie in eie vet (kan ook suurlemonsap by gooi). Gooi uie terug en gooi aartappels by. Geur met sout en pepper. Voeg ook gekerfde groenbone by en laat hulle lekker met mekaar gesels. Jy kan ook rooiwyn byvoeg as jy wil.
Bron: liplekker.co.za

Wen salon-tyd met Ella Bella

Tayla Erntze, die ystervrou agter Ella Bella-skoonheidsalon op Malmesbury, gee hierdie week ‘n geskenkbewys ter waarde van R500 weg aan ‘n gelukkige leser.
Al wat jy moet doen, is om die antwoord op die onderstaande vraag, jou naam en van te WhatsApp na 061 555 0344 teen Vrydag om 12:00 om hiervoor in aanmerking te kom.
VRAAG: Wie is die eienaar van Ella Bella op Malmesbury?

Sportpark van R40 miljoen vir Dirkie Uys en Moorreesburg

Moorreesburg se Dirkie Uyssers is tans hard aan die fondse insamel vir die sportpark wat talle nuwe moontlikhede vir die skole en die dorp inhou.
Dit sal ook ‘n jarelange droom verwesenlik en ‘n groot bydrae tot die ekonomiese volhoubaarheid van die dorp bewerkstellig.
Die sportpark, met ‘n geskatte oprigtings-onkoste van sowat R40 miljoen, se ontwikkeling het reeds in Julie 2020 begin en vorder fluks, maar befondsing maak die voltooi hiervan stadiger as beplan.
Die sportpark bestaan uit ‘n astro-hokkieveld, gras-hokkieveld, rugbyvelde – waar krieket ook gespeel kan word – ‘n 25m-lange swembad asook atletiek afrigtingsgeriewe.
Die area is egter te klein om ‘n volledige atletiekbaan op te rig.
Die sportpark word agter en tussen Dirkie Uys se koshuise, Huis Botha en Huis Môrelig in Reservoirstraat gebou.
Die terrein sal gebruik word deur die hoër- sowel as laerskool, maar die idee is dat die park vir afrigtingsklinieke, byeenkomste en liga-wedstryde deur die hele Swartland en Weskus gebruik kan word.
“n Sportpark van so ‘n kaliber kan binne twee jaar voltooi wees, maar omdat die skole en dus die projek van befondsing afhanklik is, het ons vir onsself ‘n mikpunt van 5 tot 8 jaar gestel.”
Volgens die skole kan die sportpark ‘n enorme ekonomiese inspuiting wees vir die gemeenskap in terme van werkskepping en die behoud van plaaslike besighede.
“Met die daarstel van die sportpark is die moontlikhede baie groot. Skole van die Swartland en Weskus kan hul sportdae hier aanbied, ons kan ligas begin en groot toernooie kan hier aangebied word. Met ons koshuise reg langs die sportpark bied dit geleenthede vir klubs en selfs provinsies om toer-toernooie hier aan te bied waar verblyf benodig word,” – aldus ‘n woordvoerder van Dirkie Uys.
Wat die projek nou ‘n bietjie kniehalter, is befondsing en doen die skole ‘n beroep op alle besighede, weldoeners, ondersteuners en oud-leerders om die projek te ondersteun met donasies.
Besighede en individue wat hierin wil belê, sal ook van ‘n artikel 18A-kwitansie voorsien word, wat weer vir belastingdoeleindes gebruik kan word.
Die projek benodig ook spesialiste met kundigheid rondom die tipe ontwikkeling om hul kennis en kundigheid beskikbaar te stel.
Kontak enige van die volgende persone met navrae, of as jy betrokke wil raak.

Neem kennis dat hierdie ontwikkeling op Departement grond geskied en dat die skole met elke fase van die ontwikkeling die nodige goedkeuring van die Departement ontvang om voort te gaan. Fase 2 is goedgekeur deur die departement.

Nuwe uitrustings

Saterdag het die Flying Eagles-rygbyklub van Malmesbury hulle eerste wedstryde in hul nuwe truie gespeel teen Windriders. Die tellings was: Flying Eagles 1ste span – 60; Windriders – 3; Flying Eagles 2de span – 24 Windriders – 5. Eerskomende Saterdag, 28 Mei 2022, speel die Flying Eagles teen Steenberg’s Cove van St Helenabaai op Wesbank se C-veld. Wedstryde begin om 14:45 met die eerstespan se wedstryd wat om 16:00 afskop.

Jongboer van die Jaar wink vir Lochner Eksteen

Lochner Eksteen van Eksteen Boerdery buite Piketberg is vanjaar ‘n finalis aan die Agri Wes-Kaap se Jongboer van die Jaar-kompetisie.
Lochner is die sewende geslag Eksteens wat op dié deel van die familieplaas boer.
Hier plant hulle koring en teel stoet-Nguni en Bonsmara-beeste.
Jaarliks word dieselfde aantal koring geplan.
“Ons plant nie agter die prys aan nie. Ons hou ons oorhoofse kostes laag en doen baie van die werk op die plaas self, saam met ‘n klein werkersmag. Enige huurkope word ook so gou as moontlik afbetaal,” vertel Lochner se pa, Hannes. Volgens hom is elke jaar verskillend en is daar jaarliks nuwe uitdagings en geleenthede wat hulle pad kruis.
“Dis die onvoorspelbaarheid wat dit interessant maak. Dis die nuwe kalwers van die nuwe seisoen, die soms vinnige verhandeling van diere en kommoditeite, die oes wat soms baie beter is as wat jy verwag het en jy werk vir jouself.”
As die Eksteen-familie hul nalatenskap kon bepaal, sal hulle onthou wil word as die mense wat nie net vir hulself geboer het nie, maar wat ‘n verskil in die omgewing en gemeenskap probeer maak het.

Hoe gemaak met vernuwing van ‘n bestaande tuin

  1. Begin deur ‘n basiese raamwerk saam te stel deur na die volgende belangrike dinge te kyk:
    1.1 Die klimaat van die omgewing asook na die mikroklimaat van dié deel van die tuin wat gaan bepaal watter plante gebruik gaan word. Is dit winderig of lekker beskut? Hoeveel son of skaduwee? Het jy baie spasie of is dit ‘n klein hoekie? Die humiditeit: is dit nat en klam of droog?
    1.2 Dan kom ons by die voorbereiding van die grond – Baie belangrik!
    Indien die tuingedeelte klein is, dan is dit maklik om die grond te verbeter en die spesiale toestande te skep vir die spesifieke plante wat u daar wil plant.
    Indien die area baie groot is, raak die projek net groter en meer arbeidsintensief. Die byvoeg van baie kompos en ander produkte, soos beenmeel, langfos, supers, rapid raiser en nog baie meer is die regte resep. Pasop: Onthou wanneer jy fynbos soos Proteas, Tolbos en Speldekussings plant – gebruik net kompos
  2. Gebruik die volgende beginsels van tuinontwerp.
    2.1 Skep balans – Die indruk wat die tuin skep is belangrik, soos is daar ‘n aangename balans?
    2.2 Eenheid – Onthou die tuin is ‘n verlengstuk van die huis, bv. wanneer jy by ‘n venster uitkyk, moet dit soos ‘n baie mooi skildery lyk.
    2.3 Verhouding – die groottes van komponente in die tuin.
    Hierdie eerste drie is die belangrikste beginsels, maar kyk ook na die volgende:
    • Vorm – Sal dit by die geheel inpas?
    • Tekstuur – Te veel van een tipe is vervelig
    • Te veel verskeidenheid is te besig
    • Kleur of kontras – te veel van dieselfde kleur of tipe loof kan oordonderdend wees.
    • Gebruik verskeie blaarvorms en kleure om goeie kontras te bereik
    • Sagte kleure laat ‘n area groter vertoon, maar baie sterk kleure omvou ‘n mens en laat dit beknop lyk. Hoë mure kan met ‘n sagte gedempte kleur soos byvoorbeeld blou/groen geverf word om saam te smelt met die agtergrond.
    • Skep ‘n illusie van ruimte. Die oog moet mislei word – gebruik ‘n mooi uitsig om die tuin te vergroot en onthou, strak lyne word versag met plante. Selfs spieëls kan ook in die tuin gebruik word om die illusie van diepte te skep of ‘n vervelige hoekie meer interessant te laat lyk met die weerkaatsing.
    Die wateroppervlak van ‘n poeletjie of visdam kan ook die lig weerkaats en só ‘n illusie van diepte skep.
    Selfs ‘n traliewerk teen ‘n muur of selfs ‘n “deur” geverf teen ‘n muur, skep ‘n illusie van ruimte (en maak jou nuuskierig – wat is aan die anderkant?)
    ‘n Padje wat deur ‘n tuinbedding kronkel na ‘n deur of ‘n hek (selfs al lei dit na nêrens) lei dit die oog verder as die werklike ruimte.
    Volgende keer (29 Junie) kyk ons na die tuinplan.
    Bronne geraadpleeg: “Pragtuine op kleinskaal in Suid-Arika – struik.
    Groetnis
    George Retief

Tyd vir Classic Clashes

Hierdie naweek is dit weer tyd vir die jaarlikse FNB Classic Clashes, waar die rugby- en netbalspanne van Schoonspruit Sekondêr van Malmesbury en Piketberg Hoërskool mekaar die stryd aansê. Vanjaar word die kragmeting op Piketberg aangebied. Dit is die eerste keer sedert 2019 wat dié gewilde byeenkoms aangebied word en beloof om opwindende sport op te dis. Swartland Joernaal is die uitgewer van die amptelike program, in samewerking met FNB Classic Clashes. Dit is ook ons gesoute bemarker, Karin Neethling, se 15de keer wat sy hierdie programboek onder haar vlerk neem en seker maak dat hy die lig sien.

Betrekkings