Category Archive : Sport

Swem

Swem:

Die Swartland Swemklub het die naweek gasheer gespeel vir die jaarlikse uitnodigingsgala. Altesaam 24 klubs en 421 deelnemers het in die swembad meegeding. Swartland het 55 deelnemers gehad en het ‘n algehele eerste plek behaal met 3108.5 punte, waarvan 1371.5 deur die seuns en 1357 deur die meisies aangeteken is. Al het moeder natuur nie haar volle samewerking gegee nie, het die swemmers nie onder die ekstra druk geswig nie en hul goed van hul taak gekwyt. Vanaf 15 tot 18 Desember word die WC Long Course-kampioenskappe ook op Malmesbury aangebied. Hier sal 11 swemmers die Swartland-klub verteenwoordig.

Fietsryklub: Rekords spat in M2C

Saterdag het die fietsry-entoesiaste die pad vanaf Malmesbury na Yzerfontein aangedurf in die Malmesbury-fietsryklub se jaarlikse M2C-uitdaging. Vanjaar  het  ‘n  rekordget- al van 67 fietsryers hieraan deelgeneem. Ashlin Nicholas is aangewys as King of the Mountain.
Marisa van der Merwe het die titel van Queen of the Mountain ingepalm.Vanjaar het ook die meeste vroulike inskrywings gesien en selfs die jongklomp het deelgeneem. Om by die klub aan te sluit, beloop R100 per jaar.

Vir meer inligting, asook inskrywingsvorms, besoek die klub se web-tuiste op www.malmesburyfietsryklub.co.za

Opel-klubs reik uit na gemeenskap

MOORREESBURG – Die Opel Performance Klub en die Opel Society Klub, twee liefdadigheids-motorklubs het verlede naweek ’n besoek aan Moorreesburg gebring waar hulle kospakkies   en    skoolbehoeftes  aan sowat 150 kinders van die gemeenskap oorhandig het.
Geskenke is ook al oorhandig aan plekke soos Siyabonga, Huis Hadassa, Huis van Heerde en die koshuis op Aurora.


Die hoofdoel van die klubs is om ten minste elke tweede maand ’n organisasie te identifiseer om die las te help verlig. Hulle is ook baie betrokke by sopkombuise oraloor. Die klubs word ook ondersteun met bydraes van toiletware van Weskus Mall en Opel-ondersteuners maak gereeld skenkings sodat voortgegaan kan word met skenkings aan minderbevoorregtes.
Die klubs hou ook gereeld fondsinsamelings, gebruik die maandelikse  ledegeld  en  verhuur die voertuie vir troues en matriekafskeidgeleenthede om hulle onbaatsugtige taak aan die gang te hou.
 
Die voorsitter van die Opel Perfomance Klub, Miles Diedericks, het sy dankbaarheid uitgespreek teenoor die Here vir die geleenthede wat hulle kry om minderbevoorregtes van hulp te wees en ook dankie gesê aan al hulle ondersteuners en ander bydraers. Opel-entoesiaste is  welkom  om by die een van die klubs aan te sluit by whatsappnommer 063 405 3158 of 062 397 9491 te skakel om deel te word van die liefdestaak wat hulle so na aan die hart lê.
– Madi Pieterse

Dorings

Die Dorings Rugbyklub se afrigting span het Saterdag, 24 Oktober 2020 met die klub se voorsitter, Klaas Maarman, byeengekom om ‘n nuwe strategiese beplanning vir aanstaande jaar se rugby seisoen. Spelers wat belangstel om by die klub aan te sluit kan die wedstryd sekretaris, Julie September of die spelersverteenwoordiger kontak via whatsapp of facebook. Julie September (whatsapp) 065 275 2187 of Johnatin Baron (whatsapp)
079 650 7688.
Agter is Johan Julies (B-span voorspelers spanbestuurder), Johnatin Baron (spelersverteenwoordiger). Voor: Julie September (wedstrydsekretaris), Laurent Myburgh (Hoofafrigter), Klaas Maarman (voorsitter), Adam Maarman (hulpafrigter), Jason Marthinus (klubkaptein), Evan September en Wilfred Cupido was afwesig tydens die fotosessie

Toutrek: Nasionale junior-kampioene ding mee op Malmesbury

Die 2021-nasionale junior toutrek- kampioenskap vind Maartmaand op Malmesbury plaas.
Dit beteken dat ongeveer 1500 atlete en hul ouers die dorp sal besoek.
“Buiten die 280 spanne wat reeds hierheen kom, nooi ons ook internasionale spanne om hier deel te neem,” verduidelik die sameroeper, Bennie Geldenhuys.
“Malmesbury Toutrekklub het nege jaar gelede ook die junior kampioenskap suksesvol aangebied en beleef hoe 5000 tot 8000 besoekers ‘n finansiële inspuiting gebring het.”
Bennie is self ‘n bekende in SA toutrekkringe nadat hy as skoolseun in HTS Drostdy op Worcester by toutrek betrokke geraak het.
Hy het 12 jaar lank in groen en goud tougetrek, internasionaal deelgeneem en sedertdien is hy op alle vlakke by die sport betrokke.
As visepresident van die Suid-Afrikaanse Toutrekvereniging, nasionale afrigter en internasionale skeidsregter, vind mens hom deesdae op ‘n Saterdag op die Malmesbury skougronde aan, sorgsaam aan’t gras voorberei vir die byeenkoms van 25-28 Maart 2021.
“Malmesbury Toutrekklub se seniorspanne het 2005 tot 2011 baie sterk vertoon en nege Springbokke opgelewer.
“Ons hoop om weer Malmesbury se seniorspanne in hierdie totaal nie-rassige sport te laat herleef.”
Die Toutrekbestuur reël tans ‘n aandbyeenkoms vir 5 November as bekendstellingsgeleentheid en om borgskapgeleenthede te bied.
Besighede wat meer inligting verlang, kan ‘n epos stuur na sa2021tow@gmail.com, of skakel Rentia (060 508 5144) of Bennie (083 412 3069). Die nasionale kampioenskap vind op die Malmesbury Skougronde plaas in samewerking
met die Malmesbury Landbougenootskap.