40 kersies op die koek en ‘n
Cleaver-toekenning vir Darling Meat

Tien kinders…
Agt broers wat elkeen ‘n slaghuis gehad het en twee susters wat elk met ‘n slagter getrou het…dis waar die storie van Darling Vleismark begin het.
Darling Vleismark, ‘n bekende handelsmerk op ‘n praggebou op die hoek van die straat, staan onder die eienaarskap en bestuur van die vierde geslag Kriel-naamgenote.
Dit het alles begin met hul oupagrootjie, Alexander en sy tien kinders.
Sy seun, Parker Kriel, het as ‘n jongman van 16 jaar in ‘n slaghuis begin werk en in 1982 Darling Vleismark, oftewel Darling Meat Market, tot stand gebring.
Vandag is hy steeds betrokke by die daaglikse werke van die slaghuis en grap dat hy “net hier langsaan woon en nog ‘n sleutel vir slaghuis” het!
En hy is baie trots op sy kleindogter van 8 jaar wat reeds begin rondspeel in die slaghuis en touwys gemaak word.
Sy seun Stephen en later Kevin, het ook by die slaghuis aangesluit en naderhand hul pa, wat steeds ‘n wakende ogie hou, uitgekoop.
Die Kriel-broers het sedert kindsbeen in die slaghuise deurgebring.
Op hoërskool het die seuns in die slaghuis gewerk, net soos Parker se broers destyds.
Hy vertel hoe sy broer Piet destyds in die moeilikheid beland het toe hy nie gretig was om die dag voor skool die rekeninge af te gee by kliënte nie.
Namate het die kliënte begin navraag doen en het die Kriel-egpaar besef hy het die rekeninge daardie oggend in die riviertjie gegooi.
“Piet het nooit weer in sy lewe so iets gewaag nie! Hy het daarna altyd betyds die rekeninge afgelewer,” vertel Mnr Kriel.
Volgens hom werk sy seuns baie goed saam.
“Daar duik maar soms probleme op, soos dit met enige besigheid en familie gebeur, maar dis hoe jy dit hanteer wat die verskil maak. Ek is steeds deel van dit wat aangaan en die seuns voel steeds dat hulle soms na my kan draai vir raad en leiding, wat ek dan met groot graagte gee. Dis hoekom ons suksesvol is. Ons het ‘n passie vir wat ons doen, ons mense, ons produk en ons familie. Dis wat ons hier is,” vertel Mnr Kriel opgewonde.
Met Swartland Joernaal se besoek aan Darling Vleismark, was daar deurentyd ‘n gevoel van opgewektheid, samehorigheid en warmte. Die deur het elke paar minute oop en toe gegaan soos kliënte binnegekom, of uitgegaan het. Almal het geselsies aangekoop, geskerts, inkopies gedoen en gegroet. ‘n Slaghuis soos van ouds.
Kevin is lief vir kompeterende skiet, terwyl Stephen lief is daarvoor om resepte te ontwikkel.
Hy maak ook sy eie whisky tuis.
Die oorspronklike Darling Boerewors-resep is deur my oupa aan ons oorgelewer. Ons het nou onlangs maar eers die ‘fancier’ goedjies ingebring.”
Die slaghuis is ‘n miernes van bedrywighede as jy agter die skerms loer.
In elke afdeling word daar ‘n ander vleissnit voorberei of ‘n ander produk vervaardig.
Die personeel is opgewek, vriendelik en trots op dit wat hulle daar maak.
Hulle wys trots waarmee hulle besig is.
Of dit nou verpakking, opsny of algemene take is, elkeen handel dit met ‘n glimlag op die gesig af.
Trots op dit wat hulle gemaak het.
Wat is Mnr Kriel se gunsteling dis?
‘n Tjoppie natuurlik – antwoord hy opgewonde.
Die Kriel-broers skerts ook dat hulle die liefde vir vleis hier voortsit in hulle gesinne.
“Dit sou beslis nie gewerk het as ons met ‘n meisie getrou het wat nie van vleis gehou het nie.”
Ons neem dan aan dat die een belangrike vraag wat op die eerste afspraak dan moes wees: Eet jy vleis?

  • Darling Meat Market het ook onlangs stof in die oë van die kompetisie geskop toe hulle ‘n gesogte Cleaver-toekenning ontvang het.