60 strate in CK en CEA herseël

60 strate in CK en CEA herseël

Oktobermaand is Vervoermaand in Suid-Afrika en in die Swartland is dit ook glad nie anders nie.
Die Swartland Munisipaliteit belê nou R34 miljoen om paaie in en rondom die dorpe in die streek in stand te hou.
Swartland Munisipaliteit se padnetwerk beslaan ‘n totaal van 401km. Dit sluit ‘n kombinasie van 331km teerstrate en 70km grondstrate in. Binne die munisipale grense is daar ook 23km provinsiale paaie wat gereguleer word deur die Paaie Ordinansie, Ordinansie 19 van 1979. Die ordinansie bepaal onder andere dat die eienaarskap en verantwoordelikheid vir onderhoud van hierdie paaie by die Wes-Kaapse Provinsiale Regering berus.
Oor die afgelope vyf jaar, is die volgende instandhouding voltooi:
• 80.69 km munisipale paaie is herseël teen ‘n koste van R 71 miljoen
• 4.5km is opgradeer teen R 19.860 miljoen
• 14km nuwe paaie is gebou in behuisingsprojekte met die hulp van departement van Menslike Nedersettings
• 5198 slaggate is herstel
Volgens woordvoerder Mart-Marie Haasbroek, is die munisipaliteit bewus van inwoners se ontevredenheid met die toestand van sekere provinsiale paaie binne die ruimte van die munisipaliteit.
“Piet Retiefstraat in Riebeek-Kasteel is veral vir ons ‘n uitdaging en ons het op meer as een geleentheid met die Provinsie hieroor vergader. Provinsiale paaie se onderhoud en bestuur berus by die Provinsiale Regering. Die onderhoudskoste word op ‘n 80/20 basis gedeel met die Munisipaliteit. Met ander woorde, die Provinsie moet 80% van hierdie onderhoudskoste betaal en die munisipaliteit 20%. Dit is belangrik om te let dat die toekenning wat ontvang word vir provinsiale paaie versprei moet word oor die hele 23 kilometer van Provinsiale Paaie. Vir die huidige finansiële jaar het ons slegs R175 000 van die provinsie ontvang vir werk aan provinsiale paaie en ons het onderneem om die grootste deel hiervan aan Piet Retiefstraat op Riebeek-Kasteel te spandeer. Intussen bly ons druk uitoefen op die Provinsie om dringend aandag te gee aan die paaie waarvoor hulle verantwoordelik is.”
As alles volgens plan verloop, sal daar tussen Moorreesburg en Malmesbury teen Desembermaand 60 strate herseël wees.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*