Abigail droom groot

Abigail droom groot

Madi Pieterse

DARLING – In ’n deurmekaar wêreld van koronavirus, isolasie en maskers is daar ’n petite 17-jarige van dié dorp wat dit steeds waag om te droom, en doelgerig werk om haar droom te verwesenlik.

Wanneer Abigail Fortuin die eerste maal onder oë kom, lyk sy maar soos ’n kind, miskien so tien of elf jaar oud.
Maar die ware Jakob is ’n 17-jarige meisie wat in ’n kort tyd reeds uitstekende atletiekprestasies behaal het en met dryfkrag vorentoe beur om altyd daarop te verbeter.
S

y woon saam met haar ouers, Cornelius en Jolene en boetie en sussie op ’n plaas buite die dorp, waar haar ouers werksaam is.
Dit is hier op die wye oop vlaktes waar Abigail elke dag die plaaspaaie aandurf en gemotiveerd oefen om fiks te bly vir wanneer die grendeltyd gelig word en sy weer kompeterend kan hardloop.
Die meeste dae draf haar 13-jarige boetie, self ’n kranige atleet, saam met haar.

Abigail se droom is om aan die volgende Olimpiese Spele deel te neem. Mens wonder dadelik oor die bereikbaarheid hiervan vir haar, ’n kind van ’n plaas af buite ’n klein dorpie aan die Weskus van Suid-Afrika.
En jy onthou van Zola Budd, wat baie jare gelede teen alle verwagtinge in en met ongekende deursettingsvermoë internasionaal meegeding en uitstekende prestasies behaal het. En Caster Semenya, ’n atleet met ’n Godgegewe talent, wat elke dag haar pad moet oopveg om aan te hou hardloop net omdat sy “anders” is. Hierdie merkwaardige vrou is in 2019 benoem as een van Time Magazine se 100 Mees Invloedryke Persone. Haar geboorteplek is Ga-Masehlong, ’n nedersetting buite Polokwane in Limpopo.
Abigail het ’n groeiende ondersteuningsnetwerk.

Sover dit hul vermoë is, sorg haar ouers dat sy reg eet, motiveer haal en neem haar na kompetisies.

George April van Hopefield is haar bestuurder. Hierdie man het ’n passie om opkomende atlete by te staan en te ondersteun en steek hand in eie sak om te sorg dat Abigail van die dinge kry wat sy nodig het om haar loopbaan te bevorder. George het onlangs met twee groot kanonne in kontak gekom om Abigail by te staan.

Anton Mostert is ’n welbekende in atletiekkringe in Bloemfontein en verskaf oefen-inligting aan George en leer hom ook die fynere kunsies van afrigting.

Richard Aitken het onlangs van Durbanville af Darling toe verhuis, waar hy en George mekaar raakgeloop het.
Alhoewel Richard ruiterlik erken dat hy nie ’n groot kenner is van atletiek-afrigting nie, dra sy 30 jaar ondervinding as rugby-afrigter internasionaal en nasionaal groot gewig en gee hy raad met die regte dieët vir Abigail asook hoe sy fiks kan bly en haar spiere kan versterk om haar droom te help verwesenlik.

Die jong atleet het egter ook finansiële hulp nodig vir hardloopskoene wat gereeld vervang moet word en dat die regte kosse geredelik beskikbaar is.
Richard het benadruk dat sy haar liggaam baie skade kan aandoen indien sy meer energie verbrand as wat sy inneem, maar het ’n broertjie dood aan aanvullings van die moderne tyd wat eintlik nie veel vir atlete se algemene welstand beteken nie.

Om hiermee te help, gaan George en van sy vriende binnekort help om ’n groentetuin by die huisie op die plaas op te rig. Met die hulp van borge sal ander voedselsoorte ook vir haar beskikbaar wees.
Abigail se kennismaking met atletiek het in 2018 plaasgevind toe sy by haar nuwe skool op Riebeek-Kasteel aan verskeie items deelgeneem en baie goed presteer het. Ten spyte daarvan dat sy die kort afstande met gemak kafgedraf het, was dit die 1500 meter wedloop wat haar die meeste geval het. Later in die seisoen het sy oorgeskakel landloop toe en is binne ’n kort tyd aangewys as die o/15 en later as o/16 landloopkampioen.
Te midde van alles wat om haar gebeur, besef Abigail dat sy die een is wat die hardste moet werk om haar droom te verwesenlik. Maar sy geniet die hardlopery en sal geen moeite ontsien om haar doel te bereik nie.
En haar grootste motivering om ’n wêreldklas-atleet te word? “Om vir my ouers ’n beter lewe te kan gee.”

Dit blyk die moeite werd te wees om Abigail Fortuin van Darling se naam te onthou, die meisie van die Weskus wat baie groot droom.
• George April is ook verlede week aangewys as voorsitter van die nuutgestigte sokkerklub op Hopefield en hoop dat hy en sy span ’n positiewe bydrae sal kan lewer in die lewens van jongmense van dié dorp.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*