ADHD: Mite of feit?

ADHD: Mite of feit?

Pediater gee raad

Die afgelope jaar was ‘n moeilike jaar en met die inperking is dit asof ouers hulle kinders met nuwe oë beskou. Daar word al hoe meer versoeke gerig vir kinders om op Ritalin of ekwivalente medikasie geplaas te word vir hiperaktiwiteit.
Aandag-tekort-hiperaktiwiteit-steurnis (Attention-deficit-hyperactivity-disorder, ADHD) is egter meer as net ‘n baie besige kind en benodig ‘n spanbenadering om ‘n diagnose te maak.
Die belangrikste is om te besef wat ADHD nie is nie. Dit sluit in: angs, depressie, leerprobleme en autisme.
Kinders onder 6 jaar oud kan tans nie met ADHD gediagnoseer word nie.
Die DSM-5 (The Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders (DSM–5) word gebruik as riglyn vir die diagnose van ADHD en het baie spesifieke kriteria. Die simptome moet in meer as een van die lewensruimtes (bv. skool en tuis) teenwoordig wees.
Dit is ook belangrik om te let daarop dat kinders aandag afleibaar kan wees, maar nie noodwendig hiperaktief nie.
Simptome van ADHD is in twee groepe verdeel (afleibaarheid en hiperaktiwiteit) en sluit die volgende in:
Gee nie noukeurig aandag aan detail nie
Ervaar probleme om volgehoue aandag aan take te gee
Ervaar probleme om take of aktiwiteite te organiseer
Maklik afleibaar deur prikkels uit die omgewing
Vroetel met hande of voete/kriewel in sitplek
Is altyd “aan die gang” of tree op asof “voortgedryf” word
Praat buitengewoon baie
Blaker antwoorde uit voordat vrae behoorlik gestel is
Ervaar probleme om beurt te wag
Baie word gesê oor die medikasie (Ritalin, Concerta, Neucon of Contramyl) en nie alle opinies is vleiend teenoor die medikasie nie.
Die feit is egter dat hierdie medikasie in werklikheid ‘n neurostimulant is, maar dat die uitwerking daarvan kinders laat konsentreer en fokus.
Uiteraard is geen medikasie sonder newe-effekte nie en die potensiaal om neurostimulante te misbruik is baie groot. Dit is juis hieroor dat daar streng beheer en voorskrif riglyne is vir die medikasie.
Die effekte van Ritalin en soortgelyke medikasie is wel gedokumenteer in verskillende studies en sluit die volgende in:
Verbeterde vlakke van konsentrasie
Verhoogde vlakke van aktiwiteit in mense wat nie ADHD het nie, maar verlaagde vlakke van aktiwiteit in mense met ADHD
Aptyt onderdrukking
Toename in asemhalingspoed
Meng in met slaappattroon
Langtermyn gebruik van medikasie kan egter ook aanleiding gee tot:
Verbeterde akademiese prestasie
Verbeterde impulsbeheer
Verbeterde sosiale funksie
Verbeterde selfbeeld
Dit is nie altyd ‘n maklike besluit om ‘n kind op medikasie te begin nie, en daarom word ‘n spanbenadering gevolg. Die span sluit in die arbeidsterapeut, psigoterapeut, opvoedkundige sielkundige, onderwyers, dokter, sowel as die ouers en kinders self.
Dit is ook belangrik om te onthou dat medikasie alleen nie die probleem sal oplos nie, maar dat volgehoue terapie en positiewe ondersteuning die wêreld se verskil kan maak.

• Saamgestel deur Dr Irma Kruger, pediater op Malmesbury. Kontak haar by 060 361 3951 met navrae of jou spruit se afspraak.

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*