Arendse se woorde kry nuwe lewe

Arendse se woorde kry nuwe lewe

Wanneer ‘n mens al verskeie uitdagings in die lewe moes trotseer het jy ‘n uitlaatklep nodig om aan al daardie emosie uiting te gee, en Bradley Arendse het sy uitlaatklep in woorde gevind.
As ‘n kranige skrywer van kortverhale, asook gedigte was dit altyd vir hom ‘n aspirasie om sy werk te publiseer.
Hierdie doelwit het hy uiteindelik bereik en sy digbundel, ‘Woorde uit Bloed’, sal binnekort op die rak wees. Hierdie unieke bundel is gevul met kos vir die siel en is beslis ‘n moet lees.
Bradley is oorspronklik van Abbotsdale, en het ‘n groot deel van sy kinderjare daar deurgebring.
Omstandighede was nie altyd maklik nie, en hy moes reeds vanaf ‘n baie jong ouderdom leer om met min oor die weg te kom.
Hy noem dat baie ‘spoke’ van destyds, hom nog steeds volg en dat hy dikwels worstel om hulle ten ruste te lê.
Sy gedigte weerspieël hierdie emosies en is rou en karaktervol.
Bradley vertel dat sy stryd met nierversaking, waarmee hy in 2013 gediagnoseer was, ook ‘n groot bydrae gelewer het tot sy digbundel.
Met soveel tyd op jou hande, asook frustrasie, wat telkens kop uitgesteek het, het hy sy toevlug in die skryf van gedigte gevind.
Dit was ‘n moelike en uitdagende pad, maar hy het nie moed opgegee nie, en noem dat sy vrou, Sandy, deurentyd, sy steunpilaar was.
Sy is die een wat hom inspireer en ‘n hele paar van die gedigte het hy aan haar opgedra.
Emosie lê vlak en die opwinding is groot aangaande sy debuut digbundel. Daar is nog projekte in die pyplyn, waarvan een ‘n boek is, maar hierdie is meer langtermyn doelwitte.
Die feit dat een van Bradley se kortverhale onlangs in die Junie/Julie uitgawe van ‘Kuier’ verskyn het, het ook net weer aan hom bevestig dat hy sy hart moet volg. As wenner van die 2021 Straatligdigterskompetisie, kan Bradley inderdaad trots wees op hom self.
Hy spreek sy dank uit teenoor sy uitgewer, Elsabe van der Westhuizen, Groep 7 Drukkers, Straatligdigters asook almal wat hom gereeld ondersteun en bemoedig.
Bradley noem dat ‘n boek bekendstelling in die pyplyn is, maar dat mense voorlopig direk sy digbundel by hom kan aankoop.
‘Woorde uit Bloed’ is beskikbaar teen R180 per kopie.
Vir enige navrae of bestellings kan mense hom kontak by 079 606 3688 of via e-pos by bradleyarendse76@gmail.com.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*