Begroting: Wat jy moet weet

Begroting: Wat jy moet weet

Daar is altyd ‘n gevoel van afwagting voor die toespraak van die Minister van Finansies, Tito Mboweni, en hierdie keer was dit nie anders nie. Inteendeel, die afwagting was waarskynlik hierdie keer meer intens as gewoonlik,  aangesien die begrotingsrede met ‘n week uitgestel is. Maar soos ons nou gewoond geraak het, het die Minister van Finansies onder die omstandighede ‘n redelike matige begroting gelewer, sonder enige groot verrassings. Die  minister het aangevoer dat ons nou in ‘n soortgelyke posisie is as wat die ekonomie hom in 1994 bevind het
– dat daar uitdagings is, maar dat daar groot potensiaal is.
Ekonomiese groei het hierdie jaar in duie gestort, nie uitsluitlik as gevolg van die pandemie nie, maar hoofsaaklik as gevolg daarvan.
Hoewel die Nasionale Tesourie ‘n skerp herstel in ekonomiese groei in die laaste kwartaal van 2020 verwag, sal  die  ekonomie  na verwagting steeds met 7,8% inkrimp (slegter as  die  Minister  se Junie-vooruitkatting). Hierdie onopwindende vooruitsigte beteken dat die dubbele doelstelling om fiskale besparingsmaatreëls in te stel, terwyl daar gepoog word om die ekonomie vinniger te groei, ‘n uitdaging sal bly.
In die konteks van SA se openbare finansies, bly die groot vraag wat  gedoen  gaan  word  aan die enorme skuldlas. Daar word verwag dat SA se skuld-tot- ekonomiese groei (BBP) verhouding sy hoogtepunt sal bereik op 95.3%

teen die jaar 2023/4, terwyl die verwagting vroeër was dat dit die hoogtepunt sal bereik op 87.4%. Dit is weereens ‘n voorbeeld van hoe die doelwitte aanhoudend geskuif word. Ander brandende kwessies soos die loonrekening van die openbare sektor, en die bedrywighede van staatsbeheerde instellings is bloot in die verbygaan aangeraak sonder om enige noemenswaardige hervormings of planne van aksie te bespreek.
Beleggers in aftreefondse sal wel verlig wees om te verneem dat voorgeskrewe bates waarskynlik nie gebruik gaan word om staatsinstellings of -infrastruktuur te finansier nie.
Ten spyte hiervan het die regering daarin geslaag om nog R10,5 miljard vir die SAL te voorsien en is daar steeds slegs lomp praatjies rakende die loonrekening van die openbare sektor. Dit voel asof pogings om dit te verminder ongeveer soveel kans het op sukses as die vervolging van politici wat van staatskaping beskuldig word.
As ons vorentoe kyk, bly ons toegewyd om ons beproefde prosesse en beleggingstrategieë  te volg, wat goeie vrug afgewerp het ten spyte van hierdie onstuimighede in die ekonomie en markte.
Die vooruitsig bly uitdagend, maar daar is beslis munt te slaan uit hierdie onsekerheid, beide in SA en ook in die buiteland.

Jac de Wet CFP® MComm PSG Wealth

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*