Beleggings op MRB

Beleggings op MRB

Die inwoners van Moorreesburg kan uitsien na groot beleggings in die toekoms van hul dorp.
Die nuwe beleggings wat vir die dorp beplan is, gaan verskeie geleenthede skep en sal Moorreesburg in die komende maande en jare ondersteun.
Swartland Munisipaliteit het hierdie inligting met die Moorreesburg Sakekamer gedeel op ‘n spesiale (COVID-19 onderhewig) vergadering op 25 Augustus 2021.
Die munisipaliteit, as gasheer, het inligting gedeel oor eie projekte terwyl verteenwoordigers van SANRAL en die Wes-Kaapse regering ook genooi was om hul projekte met inwoners te deel.
Die Munisipaliteit is tans besig met een van die grootste kapitaalprojekte in die geskiedenis van Moorreesburg. Die opgradering van die afvalwateraanleg het reeds in Oktober 2020 afgeskop en sal na verwagting in Januarie 2023 voltooi word. Die begroting vir die projek beloop R122 miljoen (BTW uitgesluit) en sal die ou fasiliteit wat uit 1975 dateer vervang. Die bestaande fasiliteit het die einde van sy funksionele leeftyd bereik. Die nuwe aanleg se kapasiteit beloop 1,5Ml/d. Die tegnologie wat ingespan word, word wêreldwyd gebruik en staan bekend as ‘n denitrifiserende geaktiveerde slykstelsel en sal ‘n meganiese ontwateringstelsel insluit.
Die Wes-Kaap se regering is tans besig met die bou van ‘n nuwe hoërskool in die dorp. Die behoefte aan ‘n hoërskool is reeds ‘n geruime tyd ‘n prioriteit vir die inwoners van Moorreesburg en die nuwe skool sal voorsiening maak vir meer as 880 leerders. Die skool sal beskik oor 24 algemene klaskamers, 1 veeldoelige klaskamer, ‘n spesiaal ingerigte klaskamer vir fisiese en chemiese wetenskap, ‘n multimedia sentrum, ‘n skoolsaal, administrasiegebou en ‘n toekoms sportveld. Die totale geraamde koste van die projek beloop R63.3 miljoen. Die eerste graad 8 en 9 leerders sal reeds in Mei 2022 na die nuwe skoolgebou toe kan skuif.
SANRAL begin ook eersdaags met die opgradering van die N7 tussen Rooidraai en Moorreesburg. Die werk behels die opgradering van die padoppervlak, die verbreding van die pad in strategiese areas en die opgradering van strategiese kruisings op die roete. Hierdie opgraderings is veral belangrik vir ons plaaslike landbouers wat hierdie pad elke dag gebruik en staatmaak op die pad vir veilige en betroubare vervoer van hul produkte van en na die plase. Die werk sal ongeveer 36 maande duur en SANRAL sal na verwagting in September 2021 met die mobilisering begin.
Al hierdie projekte gaan ook gebruik maak van plaaslike inwoners vir werksgeleenthede. Burgemeester Van Essen het by die geleentheid gesê: “Nie net word daar belê in die kritiese infrastruktuur vir van ons dorpe nie, maar daar word ook werksgeleenthede vir ons inwoners geskep in hierdie baie uitdagende ekonomiese klimaat”. Munisipale bestuurder, Joggie Scholtz, het beklemtoon dat belegging in, en onderhoud van infrastruktuur die belangrikste werk van ‘n munisipaliteit is om seker te maak ons dorpe bly ekonomies lewensvatbaar en aanloklik vir verdere belegging en groei.
Soos die projekte vorder, sal daar ook deurlopend met die inwoners gekommunikeer word deur die onderskeie rolspelers. Dit is ‘n opwindende tyd vir die inwoners van Moorreesburg wat definitief baie baat sal vind by hierdie verwikkelinge.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*