Booysen vir talle ‘n kampvegter

Booysen vir talle ‘n kampvegter

Amber Booysen het reeds vanaf 12-jarige ouderdom ‘n passie gehad om van diens te wees aan ander.
Sy het as jongeling aangesluit by die ‘Girl Guides’ en eerbiedig vandag nog die eed wat sy toe afgelê het.
As boorling van Malmesbury, is Amber bekend onder die inwoners, grotendeels weens die onbaatsugtige opoffering van haar tyd om probleme in die gemeenskap, asook geregtelike kwessies, op te los.
Amber noem dat sy gebore is om ‘n aktivis en spreekbuis vir ander te wees. Sy het reeds vanaf haar tienerjare ‘n belangstelling gehad in menseregte en het daarvan gehou om regsnavorsing te doen.
Sy het Malmesbury op 19-jarige ouderdom verlaat toe sy by Metrorail in Kaapstad begin werk het.
Sonder matriek was die uitdagings groot, maar sy het nie toegelaat dat dit haar onderkry nie.
Sy is trots op die feit dat die kennis en ondervinding wat sy met ander deel toegeskryf kan word aan toewyding, asook die magdom ure wat sy alleen moes deurbring in biblioteke en argiewe om navorsing te doen.
Alles het egter in 1999 begin, toe sy deur haar ouers en familie gevra was om hulle te help met aansoeke, aangaande grondeise, wat hulle destyds moes inhandig.
Vir drie jaar het Amber navorsing gedoen oor die uitleg van Malmesbury, voordat eise fisies ingedien was.
Vyf jaar later het sy presies geweet hoe om elke regsdokument te lees, asook op te stel.
In 2005 het sy haar terug in Malmesbury bevind, nadat dit onder haar aandag gebring was dat 90 pensionarisse, nie hulle Sassa uitbetalings ontvang het nie, en sodoende nie hul rekeninge kon betaal.
Dít het haar bewus gemaak van hoe groot die behoefte in die plaaslike gemeenskap was om mense by te staan asook te bemagtig, wanneer dit by hulle regte kom.
Alhoewel sy toe nog in Kaapstad gebly het, het sy gereeld advies verleen aan mense van Malmesbury en het sy hulle dikwels op die treinstasie in Kaapstad ontmoet.
In 2018 was daar egter ‘n keerpunt in Amber se lewe, nadat ‘n beroep op haar gedoen was om ondersoek in te stel oor die heffing van plaaslike nutsdienste.
Sy het vir drie weke aan hierdie ondersoek gewerk en het daarna, nie weer teruggegaan Kaapstad toe nie.
Van daar, het die liefde en passie om haar gemeenskap te dien, net gegroei en met haar spontaniteit en sterk persoonlikheid, is dit ‘n wen kombinasie.
Sy het destyds ook ‘n organisasie, die Swartland Aksie Groep, gestig wat daarop fokus om swak dienslewering en ander plaaslike ongeruimdhede op te volg en aan te spreek.
Hierdie organisasie is ‘n spreekbuis vir baie, veral dié uit voorheen benadeelde gemeenskappe, maar sy noem dat almal welkom is om haar te nader vir hulp.
Amber het oor die afgelope 10 jaar baie goeie verhoudings met plaaslike owerhede, asook rolspelers van verskillende politieke partye opgebou.
Sy noem dat die prentjie en wanopvatting wat mense het dat sy met plaaslike owerhede baklei, heeltemal verkeerd en buitensporig is.
Met ‘n glimlag vra sy of dit dan logies sou wees om met mense te baklei, as jy ‘n oplossing soek of graag wil hê dat hulle jou tegemoet moet kom.
Haar benadering is dat niks deur ‘n bakleiery opgelos sal word nie.
Dit is ooglopend dat haar aktivisme werk oor die afgelope tien jaar uiteindelik begin vrugte afwerp.
Amber is ‘n aktiewe lid van die CapeXit Groep wat daarna strewe om die Wes-Kaap onafhanklik te verklaar.
Sy is onlangs deur haar mentor genader asook aangemoedig om die politieke wêreld te betree.
Sodoende het sy vir drie maande met ‘n politieke party se leier ontmoet en onderhandel.
Amber is as lid opgeteken en ‘n tak van die Vryheidsfront Plus is onlangs hier op Malmesbury geopen.
Die Swartland Aksie Groep sal egter nie ontbind nie, en sal nog steeds aktief in die gemeenskap betrokke wees.
Sy noem dat dit nog altyd vir haar gegaan het oor die bediening van die gemeenskap en dus was dit vir haar belangrik om by ‘n politieke party aan te sluit wat fokus op 70% selfbeskikking en 30% politiek.
‘n Besige en uitdagende pad lê vir Amber Booysen voor, nié dat dit nog nooit was nie.
Daarom gee sy ook erkenning aan al haar aktiviste, wat verskriklik hard werk en haar daagliks ondersteun. Asook die gemeenskap wat gereeld bydraes en hulp verleen.
Sy sluit af deur te noem dat sy altyd sal glo in regverdigheid en die feit dat elkeen ‘n plekkie in die son verdien en terwyl sy haar passie kan uitleef deur haar gemeenskap te dien, is sy geseënd.
Vir enige navrae kan mense Amber kontak by 071 445 2121 en e-posse kan gerig word aan: Swartlandaksiegroep@outlook.com.

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*