Brotherhood-buurtwag

Brotherhood-buurtwag

Die Brotherhood-buurtwag op Malmesbury is een van die eerste oorde na wie persone in ‘n penarie hul wend as hulle die slagoffers van misdaad is.
Hierdie buurtwag het ‘n nederige ontstaan gehad en die drie aanvanklike lede het gegroei na ‘n groot groep wat hulle bywer vir misdaadvoorkoming op dié Swartlandse dorp.
“Ons is gewone mense met ‘n passie vir misdaadvoorkoming. Daar was ‘n toename in die misdaadsyfers van die dorp en ons kon nie net terugsit en sien hoe dit gebeur en groei nie,” vertel Manie Allie, oftewel Manie 006, soos hy in die gemeenskap bekend staan.
Om die inwoners van Malmesbury en ook die plaaslike polisiekantoor by te staan, is nie aldag ‘n maklike taak nie en die buurtwag het talle uitdagings wat hulle daagliks in die gesig staar.
Een van die grootste struikelblokke, is vervoer.
“Met die petrolprys wat so hoog is, is dit baie moeilik vir ons om daagliks patrollie te kan doen,” vertel hy. Volgens Allie is die veiligheid van die dorp en sy mense vir Brotherhood geweldig belangrik. Die buurtwag beskik ook oor ‘n liefdadigheidskomponent waar hulle omsien na behoeftige persone se pleidooie.
Die buurtwag werk hand aan hand met die Malmesbury-polisiediens, so ook die MPS-sekuriteitsmaatskappy, asook die breër gemeenskap en hulle het talle suksesse ervaar, maar een hiervan staan kop en skouers uit bo die res.
“Op Vrydag 24 Julie 2020, toe die groot ontsnapping vanuit die Malmesbury-gevangenis plaasgevind het, het ons, saam met die polisie, sekuriteitsmaatskappy en ander buurtwagte asook die gemeenskap, saam gewerk om 68 ontsnapte gevangenes binne 48 uur weer veilig agter tralies te sit. Dit was vir ons ‘n groot eer en voorreg om so te kon omsien na die veiligheid van Malmesbury en sy mense.”
Volgens Allie poog Brotherhood om gesinne in nood te help, om verlore kinders by hul ouers terug te besorg en om hawelose mense ‘n “warm kossie” te kan gee. Hierdie is net ‘n paar van die aspekte wat hulle aanraak.
Volgens hom is die buurtwag afhanklik van die hulp en ondersteuning van die gemeenskap.
“Indien jy enige ongerymdhede opmerk, meld dit dadelik aan. Ons het ook altyd skenkings vir die buurtwag se liefdadigheidsprojek nodig en ons as buurtwag self het die finansiële ondersteuning van ons gemeenskap broodnodig.”
Brotherhood is ‘n vrywillige organisasie wat bestaan uit mense van Malmesbury, vir die mense van Malmesbury.
Indien jy ‘n helpende hand wil uitreik, kontak enige van die volgende bestuurslede:
Moegamat van Schalkwyk (voorsitter) – 061 466 1687, Morne Daniëls (onder-voorsitter) – 073 213 3477
Abduraghman Allie (media-beampte) – 083 559 3792 of
Christolene Filander (sekretaresse) – 074 090 2971.
Raak deel van die WhatsApp-groep of die Facebook-blad, as jy meer wil weet van die veiligheid van Malmesbury en Brotherhood se werksaamhede.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*