CK se Gershwin oor (die) Afgrond

CK se Gershwin oor (die) Afgrond

Aan talentvolle mense, is daar geen tekort in Malmesbury. Die voorreg was myne toe ek onlangs met Gershwin Cloete, te sien in die sepie, ‘Afgrond’, kon gesels.
Hy vertolk die rol van ‘Boetie Manie’ en dit word tans gebeeldsend op kanaal 144 op Kyknet & Kie.
Hierdie rustige en beskeie jongman is ‘n trotse boorling van Malmesbury. Sy liefde vir drama het begin blom gedurende sy hoërskool jare.
Hy vertel trots en praat met lof van mnr. Peter-John Davids, wat direk daarvoor verantwoordelik was. Gershwin het destyds by die dramagroep van mnr. Davids, ‘Utando for Theater’, aangesluit waar hy baie ondervinding asook blootstelling aan die kunste ervaar het.
In 2011 voltooi hy sy skoolloopbaan aan Schoonspruit Sekondêr en raak terselfdertyd betrokke by projekte by SA Films.
Hy sluit aan by die agentskap ‘Blue Star’ en kry die geleentheid om verskeie kontakte in die industrie op te bou.
Terwyl hy in 2018 ‘n rol losslaan in die sepie ‘Die Byl 2’, kom alles in sy lewe kort daarna tot stilstand met sy ma se siekbed.
Hy moes voltyds na haar omsien, maar is dankbaar vir die tyd wat hy saam met haar kon deurbring. Na haar dood was hy weer beskikbaar om oudisies te doen.
Alhoewel dit hom besig hou en help om rekeninge te betaal, erken Gershwin dat sy groot liefde eintlik lê by die teater. Die interaksie van ‘n lewende gehoor is baie meer vervullend.
Die opname van ‘Afgrond’ het reeds in 2020 plaasgevind waarvan groot gedeeltes in Kalbaskraal verfilm was. Hy vertel dat die opneem van tonele baie harde werk is en somtyds lang ure kan beteken. Maar almal op die stel is gewoonlik baie vriendelik.
Dit is baie duidelik dat daar ‘n baie rooskleurige toekoms vir Gershwin voorlê.
Uit ons gesprek kon ek aflei dat hy sy voete ferm op moeder aarde het. ‘n Selfversekerde, selfstandige asook nederige jong man.
Hy begin op 29 Maart met opnames vir nog ‘n toekomstige sepie, ‘Alles Malan’. Ons wens hom alle voorspoed en sukses toe op sy pad vorentoe.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*