Daniël, Dawie en June dra rolbalkroon

Daniël, Dawie en June dra rolbalkroon

Die afgelope week het dit behoorlik gekook op Malmesbury se rolbalperk soos die lede die enkelspel kampioenskappe afgehandel het.
In die mans novice kompetisie halfeindstryde klop Dawie Horn vir Jehan van Niekerk, en Jeff Petersen vir Ricardo Rickett. Jehan maak aan die begin die pap dik aan, en na 9 skofte loop hy 11-7 voor, maar Dawie kry hierna sy ritme en plaas kwaai druk op sy teenstander om in 17 skofte met 21-11 te wen.
In die taai stryd tussen die voormalige en die huidige skoolhoofde van die Riebeekvallei Vaardigheidskool loop Ricky 9-3 voor, met Jeff wat terugveg tot 9 elk na 12 skofte.
Na 21 skofte is Ricky 16-13 voor, maar Jeff delf diep om sy opvolger te wys ervaring geld maar oral, en kry hom uiteindelik na 27 skofte onder met 21-16. In die eindstryd klop Dawie vir Jeff 21-11 na ‘n taai begin met die telling 6 elk na 6 skofte.
Donderdag het moontlik die beste kwarteindstryde in jare opgelewer toe daar groot opskuddings plaasgevind het. Daniël Griebenauw teen SG Basson se wedstryd skop af met 3 skote vir Daniël, en na 5 skofte trek hulle gelyk 4 elk. Toe Daniël tot verhaal kom na 16 skofte, was SG stewig in die saal met 17-6.
Maar Daniël het nie verniet al WP o/30 gespeel nie, en veg verbete terug met skitterende spel om na 27 skofte gelyk te trek met 20 elk. Net om die sout in te vryf tel hy 3 skote op die laaste skof om deur te gaan na die halfeindstryd.
Rainier van Zyl en Brian Howell se telling het heeltyd naby mekaar gebly, met Rainier 15-18 agter loop na 18 skofte. Met goeie druk en trekskote verander die telling na 20 -18 in sy guns na 21 skofte,net om te swig en op die laaste skof 3 skote af te staan, met Brian wat 21-20 seëvier vir die eerste opskudding.
Roux Vermeulen en Paul Rossouw was slaags in ‘n titaniese stryd waar die voorloper gereeld verwissel het, en die telling 4 keer gelykop was, met 18 elk na 20 skofte.
Paul het egter die laaste sê en skuif die witbal met die laaste bal van die wedstryd om 1 skoot te verander na 3 skote in sy guns en deur te dring na die halfeindstryd.
In die wedstryd tussen Altus Myburgh en Marius Huysamen loop Marius gou 5-0 voor, en na 14 skofte is hulle gelykop op 10 elk. Met ‘n 11-13 agterstand trek Altus toe los en wen uiteindelik gemaklik 21-13.
In die halfeindstryd is twee totaal verskillende wedstryde gesien.
Daniël is vanaf die eerste bal dodelik en verspil min tyd om Altus in 14 skofte 21-4 uit die kompetisie te boender nie, en sodoende te verseker dat hy in die wedloop bly om sy derde titel te wen. Paul en Brian dis egter ‘n spannende wedstryd op wat redelik gelykop verloop tot 5 elk na 6 skofte. Maar Brian skakel na ‘n hoër rat en loop 15-6 voor na 12 skofte.
Paul byt egter vas om na 17 skofte 15 elk gelykop te trek. Toe raak die wedywering weer taai, met Brian 19-18 voor na 21 skofte. Op die volgende skof verseker Paul egter sy plek in die finaal deur 3 skote op te tel vir ‘n 12-19 oorwinning. Op 75 die oudste finalis ooit, wat maar net weer bewys dat alle ouderdomme in rolbal teen mekaar kan kompeteer. Maar helaas, in die finaal bly Daniël se voet op die pedaal en troef hy vir Paul binne 15 skofte met 21-6. ‘n Welverdiende oorwinning met Paul wat ‘n waardige verloorder is wat die vrugte pluk van baie oefening en toewyding.
In die dames finaal het June Rickett en Zelda Jordaan, die verdedigende kampioen, mekaar die stryd aangesê. In ‘n wedstryd waar June deurentyd erg gefokus was, maar Zelda net nie aan die gang kon kom nie, wen June in 19 skofte 21-11. June is nog ‘n novice in haar tweede jaar, en was deur die hele kompetisie van ‘n dubbel rondte onoorwonne.
Dr Roux Vermeulen

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*