Darling, Abbotsdale gee pas aan

Darling, Abbotsdale gee pas aan

Darling Rvk en Abbotsdale Rvk is nou die enigste spanne wie 3 uit 3 oorwinnings behaal het in die Swartland Groot Uitdaagbeker en gee tans die pas aan. Alhoewel albei spanne hard moes werk vir
‘n oorwinning, kon hulle die knoop deurhaak en hulle onoorwonne status behou. Dit was veral
die verdedigende kampioen, Darling, wie weer eens gewys het dat sy tuisveld geen speelpark vir
besoekers is nie. Sy teenstaanders, Good Hopes, wie steeds sonder ‘n oorwinning voortveg, het
egter hard terug geveg en die dag vir die tuisspan moeilik gemaak. Darling het in die eerste helfte
gesukkel teen ‘n begeesterde Good Hopes en teen rustyd was die telling 5-5.
Darling het egter in die tweede helfte beter gespeel en hul ritme gevind, maar Good Hopes
was steeds ‘n moeilike neut om te kraak. Dit was drieë deur Juwell Samuels, Lood Lingeveldt en
Earl Lewis wat uiteindelik die knoop deur kon deurhaak vir die verdedigende kampioen.
Darling speel eerskomende naweek teen ‘n moeilike Never Despairs RVK, wie gelykop
gespeel het in die derby-wedstryd teen Wesbank RVK. Never Despair beskik oor die nodige
ammunisie om Darling hul eerste loesing toe te dien, maar Darling sal oorgehaal wees om hul
momentum te behou met nog ‘n oorwinning.
Die wedstryd behoort ‘n titaniese stryd te wees, veral agterlangs waar Sherwin Dyason tans uitstekende
rugby vir Never Despair opdis. Sy tweestryd met die talentvolle Jaden Lewis behoort vir groot opwinding te sorg. Darling behoort hierdie wedstryd net-net met minder as 7 punte te wen.
Wesbank RVK sal wil opmaak vir sy gelykop uitslag in die derby-wedstryd teen Never Despair wanneer hy Saterdag na Villagers Wittewater reis – wie tans ‘n nagmerrieseisoen beleef. Villagers Wittewater weet dat hulle sal moet keer vir hulle lewe, aangesien Wesbank se hoofdoel sal wees om weer op die wenpad te kom. Wesbank beskik oor ‘n paar vuurvreter-spelbrekers agterlangs en sal met die bal wil hardloop, sodat hulle indrukwekkende vleuels Reduwaan April en Luke van der Westhuizen weer soos in die eerste paar
wedstryde kan tent opslaan agter die tuisspan se doellyn. Villagers Wittewater was verlede Saterdag heeltemal uitoorlê deur Moorreesburg en sal veral hul verdediging moet opskerp indien hulle enigsins in die wedstryd wil bly teen ‘n begeesterde Wesbank RVK. Wesbank behoort egter gemaklik met meer as 20 punte te wen teen Villagers Wittewater.
Moorreesburg RVK het Saterdag hul tweede oorwinning van die seisoen behaal toe hulle Villagers Wittewater gemaklik ore aangesit het op Moorreesburg. Die tuisspan het egter nie baie goed begin nie en die spelers was bietjie te oorgretig en baie hanteringsfoute gemaak.
Na mate die tyd aangeloop het, het Moorreesburg se enjin uiteindelik aan die gang gekom met die voorspelers wat die grondslag gelê het vir die agterspelers om met die bal in die hand te baljaar. Dit was veral die agterspelers Jehan Bonn, Jaydon Markus, Christo Januarie en Jason Damons wat ‘n paar prag-drieë gedruk het. Jason Damons, wie ook aangewys as speler van die wedstryd, het ‘n driekuns van drieë behaal met sy vlugvoetige spel wat sy teenstaanders omtrent laat bontstaan het. Dit was egter die ervare
voorspelers Brian Klaase en Wilhelm Oktober wat voorlangs baie hard gewerk het.
Die hoofafrigter van Moorreesburg, Havelin Hanekom, wie voorheen vir Villagers Wittewater afgerig het, was ná die wedstryd baie trots op sy span se bonuspuntoorwinning en sal wil voortbou die komende Saterdag, wanneer Saron RVK besoek aflê. Saron het ook verlede Saterdag hul tweede oorwinning behaal van die seisoen toe hy Koringberg RVK net-net geklop het op Saron.
Moorreesburg bied egter ‘n heel nuwe uitdaging vir die besoekers van Saron en Moorreesburg sal
weer sy tuisveldvoordeel tot goeie voordeel gebruik, wanneer hy Saron met meer as 10 punte
klop.
Koringberg RVK is steeds opsoek na sy eerste oorwinning. Die span wat bekend staan as Korries,
het Saterdag op Saron baie beter rugby gespeel en kan homself skop dat hy nie die knoop deurgehak het nie. Saron was egter die beter span in die eerste helfte met twee vinnige drieë en twee strafskoppe wat Koringberg onmiddellik op die agtervoet geplaas het. Saron het in die tweede helfte weer vroeg gaan druk en dit het gelyk of dit ‘n lang middag vir besoekers gaan wees. Koringberg se plaasvervangers het egter nuwe vuur in die span geblaas met veral Lyle Adams wat goeie spel gelewer het om Grant
Mcdillon deur te stuur vir ‘n drie onder die pale.
Na afskop het Koringberg weer verwoed aangeval en die plaasvervanger-haker, Andrew Smith, het in die hoekie oorgeduik vir nog ‘n drie. Met Koringberg wat ‘n oorwinning begin ruik het, het Saron egter kalm gebly en die wedstryd beklink met ‘n drie wat gekom het deur ‘n swak aangee deur Koringberg.
Koringberg reis Saterdag na Porterville wat ook geen oorwinning op sy kerfstok het vir die seisoen nie. Albei spanne sal oorgehaal wees vir hul eerste oorwinning, maar Porterville RVK, wie Saterdag net-net verloor het teen Abbotsdale RVK, sal op sy tuisveld verdere sout in Koringberg se wonde wil vryf met ‘n naelskraapse oorwinning van minder as 7 punte.
Abbotsdale het Saterdag gasheer gespeel vir Porterville RVK op Abbotsdale se sportgronde.
Abbotsdale was weereens uitstekend op sy tuisveld, maar Porterville het hom goed van sy taak
gekwyt om kompeterend te bly in die wedstryd.
Porterville het met skitterende spel die Lillies uit die staanspoor onder druk gehad. Die besoekers
se voor- en agterspelers het goeie samespel bewerkstellig en Abbotsdale se verdediging ’n
paar keer oopgekloof. Porterville het die bal die praatwerk laat doen en na goeie kreatiewe spel is hul met die eerste drie van die wedstryd beloon. Met beter afronding deur Porterville kon die rustydtelling van 12 – 3 veel anders lyk, maar met die wind van agter sou dit ’n groot terugvegpoging van die Lillies veg om die wedstryd in hul guns te swaai. Abbotsdale moes hul ervare plaasvervangers Eschel Josias, Sheldon Appollis en Wium Syster op die veld stuur om bietjie ritme te verskaf. Abbotsdale se voorspelers het
stelselmatig die oorhand begin kry en kon Abbotsdale beter gebiedsvoordeel geniet. Na volgehoue
druk is die heelagter Draigh Schierhout oor vir ’n drie om die telling 19 -15 te maak in die guns van Porterville.
Met vyf minute speeltyd oor druk Abbotsdale nog ’n drie om vir die eerste keer die voortou te neem in die wedstryd. Porterville het egter nie gaan lê nie en met ’n minuut speeltyd oor is Porterville se agterlyn weer deur Abbotsdale se verdediging. Met ’n oop doellyn voor verbrou die besoekers ’n gulde geleentheid wat die wedstryd in hul guns sou swaai. Abbotsdale sal dus gelukkig wees met hul naelskraapse oorwinning van 20 – 19 teenoor Porterville en sal die komende naweek teen Good Hopes wil opmaak. Good Hopes wie tans nog geen ligapunte op die telbord het nie, sal Abbotsdale ‘n goeie wedstryd wil gee maar die Lillies sal wil blom op Riebeek die naweek met n oorwinning van minder as 10 punte.
Ons sien weereens uit na hope genot en vuurwerke op die Swartland rugbyvelde die komende Saterdag.
Abri Adonis

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*