Darling en Wesbank pak mekaar

Darling en Wesbank pak mekaar

Darling Rvk speel Saterdag gasheer vir Wesbank Rvk met albei spanne wat weet dat ‘n loesing hulle planne erg in die wiele kan ry.
Darling is tans vol selfvertroue, ná hulle Wittewater Villagers ‘n behoorlike les geleer het. Die krane was omtrent oopgedraai in die eerste helfte en Wittewater Villagers moes keer vir al wat hulle werd was. Teen rustyd was die telling reeds 45-0 in die guns van Darling en het Wittewater-ondersteuners gebid vir die dag om verby te gaan. Darling het die tweede helfte nie so goed begin soos die eerste nie en ‘n paar sagte drieë afgestaan, maar later was dit weer eenrigting-verkeer en Darling het die wedstryd gewen met 64-26. Vir Darling was Shane Samuels en Jaden Lewis die groot uitblinkers wie onderskeidelik ‘n driekuns en tweekuns van drieë behaal het. Die kaptein, Earl Lewis, se korrel na die pale was ook weer reg, ná hy 8 van 9 drieë verdoel het en ook ‘n strafskop oorgeklits het. Darling Rvk weet egter Wesbank bied hierdie naweek ‘n heel nuwe uitdaging en met die spanne wat onderskeidelik 2de en 3de in die liga lê, sal nie een van hulle terug wil staan nie. Wesbank wroeg steeds oor sy naelskraapse oorwinning oor Moorreesburg die vorige Saterdag. Wesbank was basies gebêre deur ‘n oorgehaalde Moorreesburg, maar teen die einde van die wedstryd het hulle verwoed aangeval en na ‘n hele paar strafskoppe, het die kaptein heeltyd geskrum, maar toe die skeidsregter weer ‘n strafskop aan Wesbank toedien, het Gurdwill le Fleur ‘n vinnige tikskoppie geneem om die wedstryd vir Wesbank te beklink. Wesbank sal egter nie weer so ‘n wedstryd wil beleef teen Darling op Darling se tuisveld nie en sal wil opmaak daarvoor. Darling is oorgehaal om sy stempel af te druk en behoort die wedstryd met minder as 10 punte te wen.
Moorreesburg Rvk, wie in die vierde plek is en ‘n goeie seisoen beleef, speel Saterdag gasheer vir Abbotsdale Rvk wie in die eerste plek onoorwonne voortveg. Moorreesburg kan hom self ongelukkig ag, ná hy die vorige Saterdag beter rugby teen Wesbank gespeel het, maar steeds verloor het met die tyd reeds verstreke. Die wedstryd tussen Moorreesburg en Wesbank het teen ‘n hewige pas begin, met veral Wesbank wat die pas aangegee het, met ‘n drie en strafskop. Moorreesburg het kop gehou en was ook kort daarna op die telbord. Toe die manne gaan water drink, was daar niks te skei tussen die twee spanne nie met die telling op 11-11.
Die afrigters moes baie hard gepraat het en albei spanne het in die tweede helfte weer verwoed aangeval met die klein Generaal Jaydon Markus aan die spits. Markus se vlugvoetigheid en flinke denke, het dit moeilik gemaak vir Wesbank op verdediging. Moorreesburg se 8-tal was ook op die dag uitmuntend en het Wesbank Rvk by tye hoofbrekens besorg. Dissipline was egter ‘n spanner in die werke vir Moorreesburg.
Vir Moorreesburg het Jehann Bonn en Brendon Erasmus weer agter die pale gaan kuier. Moorreesburg sal egter baie uit hierdie wedstryd neem, wanneer hulle Saterdag besoek ontvang vanaf die voorloper Abbotsdale Rvk. Abbotsdale het die vorige Saterdag ‘n Never Despair-span aangedurf wie nog vol selfvertroue was, aangesien hulle in die vorige wedstryd die span van Darling geklop het. Die wedstryd tussen hierdie twee aartsvyande het glad nie teleurgestel nie en het teen ‘n vurige tempo begin. Dit was veral die voorspelers van beide spanne wat behoorlik onder mekaar ingeklim het en selfs in die skrums was daar min te kies tussen die spanne.
Abbotsdale kon egter hulle gebiedsvoordeel in punte omskep toe die binnesenter Linkem Josephs met brute krag die verdediging van Never Despair oopgekloof het om onder die pale te druk. Abbotsdale se kaptein, Millroy Isaacs, het kort voor rustyd weer agter die pale gaan kuier om die telling 14-0 te maak in die guns van die tuisspan.
In die tweede helfte het Never Despair baie beter gespeel met die taktiese skoppe van Sherwin Dyson wat hulle op die voorvoet gehou het. Delano Baarman en Henry Jeffries was puik vir Never Despair in die vaste-los en het telkemale oor die voordeellyn gekom. Abbotsdale het egter koelkop gebly en die plaasvervanger-flank, Shane Niemand, is oor vir Abbotsdale se derde drie. Never Despair kon laat in die tweede helfte twee drieë druk. Abbotsdale sal baie lugtig wees vir ‘n Moorreesburg-span wie nog nie die seisoen op sy tuisveld geklop is nie. Die stryd tussen hierdie twee spanne behoort weer vir groot opwinding te sorg met Moorreesburg wat vir ‘n groot opskudding sal sorg om Abbotsdale met minder as 7 punte te klop.
Saron Rvk het Saterdag gasheer gespeel in die derby-stryd teen sy buurdorp, Porterville. Die gemoedere het omtrent hoog geloop tussen hierdie spanne en met die afskop het die hulle mekaar beter leer ken met ‘n paar vuishoue en kophoue wat rondgeswaai was. Die wedstryd het voortgegaan en was ‘n titaniese stryd tussen die twee aartsvyande. Die senter, Luwellyn Titus, en die skrumskakel, Martin Gordon, was weer uitmuntend vir Saron. Losskkakel Jesriel Engelbrecht het ook Saron op die voorvoet gehou. Hulle pak voorspelers het ook ‘n goeie dag beleef met hulle vurige kragspel en verdediging met veral Conley van Ryhn wie Porterville groot kopsere besorg het. Saron was op die dag baie beter as Porterville en het 5 drieë gedruk teen die 2 van Porterville. Saron reis Saterdag na ‘n Good Hopes span wie die vorige Saterdag sy eerste oorwinning behaal het teen Koringberg Rvk op laasgenoemde se tuisveld.

Good Hopes Rvk sal wil voortbou op sy oorwinning en behoort sy tuisveld tot sy voordeel gebruik wanneer hy Saron naelskraap sal klop met minder as 5 punte.

Koringberg Rvk reis Saterdag na Never Despair steeds opsoek na hul eerste oorwinning. Die Tier is tans in ‘n ontstuimige bui en Koringberg sal sy storie moet ken in hul poging om die Tier se stert te knoop.
Koringberg het Saterdag teen Good Hopes weer ‘n droom begin gehad en binne die eerste 10 minute reeds 14-0 voorgeloop. Good Hopes het egter die damwal van Koringberg gebreek en ook gaan kuier agter die pale. Koringberg was na Good Hopes se drie baie beter op verdediging. Koringberg het weer op al sy silinders gevuur met kaptein Jeandre de Wee en Robin Jagers aan die spits. Albei spanne het heeltyd drieë gedruk en daar was nie baie te skei tussen die spanne op verdediging en op die aanval nie. Met die telling op 35-33 in die guns van Good Hopes het Koringberg weer verwoed aangeval en met nog ‘n aanval was die senter van Koringberg in sy spore gestuit met Good Hopes wat omgekeerde balbesit bewerkstellig het en die doodskoot geplant het om die wedstryd te beklink met 53-33. Koringberg sal dus homself wil skop dat hulle nie die knoop deurgehak het nie. Die taak raak net groter vir Koringberg wanneer hulle Never Despair besoek met Spairs wat verdere sout in Koringberg se wonde sal vryf met ‘n oorwinning van meer as 7 punte.

Wittewater Villagers Rvk reis Saterdag na Porterville Rvk wie sal wil opmaak vir sy loesing teen sy buurspan Saron. Wittewater Villagers is steeds sonder ‘n oorwinning en sal hom regmaak vir ‘n opskudding. Dinge lyk egter nie so rooskleurig vir die besoekers nie en hul strewe na ‘n eerste oorwinning sal ten minste nog ‘n week moet wag wanneer Porterville gemaklik met meer as 10 punte sal wen.
Ons sien weer uit na hope genot en vuurwerke op die Swartland rugbyvelde die komende Saterdag.

• Abri Adonis

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*