De Beer reg om moue op te rol

De Beer reg om moue op te rol

‘n Vrou met murg in haar pype en die geloof van ‘n mosterdsaadjie … dít is ons onder burgemeester, Anet de Beer.
Sy is gebore in Durban waar ‘n groot deel van haar kinderjare afgespeel het, maar was bevoorreg om in verskeie plekke regoor Suid-Afrika te woon.
Anet het egter kom wortelskiet in Malmesbury, en woon al vir die afgelope 18 jaar hier.
As ‘n ma van drie kinders verstaan sy die uitdagings wat vroue (getroud of ongetroud) daagliks moet trotseer met die balans wat gehandhaaf moet word tussen werk, huis en hul persoonlike lewens.
Sy noem dat dit egter baie belangrik is om tyd te maak vir jou gesin.
Om jou kinders te leer om selfstandig en verantwoordelik te wees met die regte waardes, sodat hulle altyd respek vir hulself en ander sal hê.
Vroue moet onthou dat hulle sterk, passievol, vreesloos en kosbaar is.
Hulle is die drywers van verandering in hul gemeenskappe en moet dus hul stem hef en voluit leef.
Met die deursettingsvermoë en stille krag wat vroue besit kan hulle selfs dit wat onmoontlik lyk, oorkom.
Die nuwe amp wat Anet beklee het egter nie sonder harde werk en opofferings gekom nie, en een van die opofferings wat sy moes maak is tyd vir haarself.
Omdat sy die gemeenskap dien en hulle verteenwoordig moet sy ten alle tye beskikbaar wees.
Sy noem dat sy dikwels geterg word oor haar selfoon wat konstant in haar hand is.
Maar dit is belangrik om nou en dan jou batterye te herlaai, en dit doen sy wanneer sy die kans kry om bietjie weg te glip plaas toe, sodat haar siel weer kan asemhaal.
Die volgende vyf jaar as onder burgemeester gaan uitdagend wees, maar Anet was nog nooit bang om haar moue op te rol en skouer aan die wiel te sit nie.
Sy noem dat daar baie is wat sy wil aanpak en wil vermag, solank dit net ‘n positiewe impak tot gevolg sal hê.
Beloftes gaan sy nie maak nie, behalwe om te belowe dat sy altyd haar beste sal probeer.
Dus, sal sy fokus op klein goedjies wat ‘n groot verskil kan maak … daarna kan sy probeer om berge te versit.
Soos Charles Dickens gesê het: “A small key will open a heavy door…”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*