De Hoop-begunstigdes trek eersdaags in

De Hoop-begunstigdes trek eersdaags in

Die eerste begunstigdes van die De Hoop projek sal eersdaags hul intrek kan neem.
Die eerste huise in die projek is nou amper klaar en binne die volgende paar weke sal die goedgekeurde begunstigdes die sleutels ontvang.
Daar is onlangs begin met die verf van die huise en die uitvoerende burgemeester van die Swartland Munisipaliteit, raadsheer Harold Cleophas het die geleentheid benut om hand by te sit en het van die heel eerste huise help verf.
Die konstruksie van die eerste 200 huise in die De Hoop-projek het in Oktober 2022 begin. Die nood vir behuising in Swartland is enorm, soos in die res van die land, en strek regoor ons 11 dorpe.
“Nou is daar meer as 14500 name op ons behuisingswaglys. Dit is onmoontlik om aan al die behoeftes te voorsien, maar die vordering wat gemaak is by De Hoop sal verligting bring aan inwoners wat al jare wag.”
Behuising bly ‘n moeilike uitdaging vir Munisipaliteite om te bestuur.
“Dit is nie ‘n munisipale funksie nie maar berus by die nasionale en provinsiale regering. Munisipaliteite is slegs die uitvoerende agente. Met ander woorde, die begroting en goedkeurings vir behuisingsprojekte word deur die Nasionale en Provinsiale regerings besluit en as Munisipaliteit moet ons daardie besluite dan implementeer en uitvoer. As plaaslike owerheid dra ons egter steeds ons inwoners se belange op die hart en is ons deurlopend in gesprek met die besluitmakers om soveel as moontlik behuisingsgeleenthede te ontgin en te laat realiseer.”
Die volgende projek in ons behuisingspyplyn is ‘n gesubsidieerde behuisingsprojek in Darling. Die projek sal fokus op die voorsiening van huise vir inwoners wat in die sogenaamde GAP-mark val.
Dit is inwoners wat te veel verdien om ‘n ten volle gesubsidieerde huis te ontvang, maar wat genoeg verdien om vir gedeeltelike finansiering en subsidie te kwalifiseer.
Die Munisipaliteit wag egter nog om van die Departement van Menslike Nedersettings die finale goedkeuring te kry voor die projek kan voort gaan.
“Ons hoop is dat die siviele ingenieursdienste teen Junie 2022 voltooi sal kan word en dat die konstruksie reeds in die laaste deel van 2022 sal kan begin. Die Munisipaliteit begin ook binnekort met inligtingsessies oor presies hoe die Finansiering Gekoppelde Subsidie Program (FLISP housing) gaan werk en wat die wat belangstel moet doen om in aanmerking te kom vir die projek. Die munisipaliteit is ook besig met groot maat dienste beplanning vir toekomstige behuising geleenthede in Moorreesburg in ag genome die beskikbare fondse van die Nasionale en Provinsiale Departement Behuising.
“Behuising is ‘n basiese mense reg. As deel van Menseregte maand is ons baie bly dat die eerste begunstigdes hierdie maand hul intrek sal kan neem by De Hoop.
“Ons is egter deeglik bewus daarvan dat daar steeds ‘n ernstige tekort is. Die Provinsiale Departement van Menslike Nedersettings het ook op verskeie geleenthede beklemtoon dat dit onmoontlik is om aan elke behoeftige persoon behuising te bied.
“As Munisipaliteit fokus ons dus nie net op die bou van huise nie, maar ook op gedienste erwe in ag genome die kriteria en beskikbare fondse van die Nasionale en Provinsiale Departement. Ons werk nou saam met alle vlakke van regering om soveel as moontlik geleenthede vir ons inwoners te skep,” aldus Cleophas.

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*