Deon Jooste: Stem het stil geword…

Deon Jooste: Stem het stil geword…

Die nuwe stam van die Covid-19-virus het weer ‘n geliefde in die Swartland geneem. Skielik en sonder waarskuwing het nog ‘n stem stil geword en die leemte wat hy laat, is groot.
Deon Jooste se passie was gegrond op sy beroep, maar sy anker was beslis sy liefde vir sy gesin en familie.
Die gemeenskap asook sy kollegas, sal hom onthou as iemand wat 110% van homself aan sy beroep gegee het.
Maar, vandag wil ons die man onthou, en het Swartland Joernaal met sy vrou, Connie, gesels om hulde aan hom te bring.
Die romanse het 15 jaar gelede by ‘n kursus in die Paarl begin.
Hulle oë het vir ‘n oomblik ontmoet en albei het geweet dat hul saam hul lewe sal leef. Dit was God se plan en bestiering sê sy.
Connie glimlag en vertel hoe sy eers daarteen baklei het, maar die liefde het oorwin en vinnig geblom. Binne ‘n jaar was hulle getroud.
Sy noem hom haar ‘forever’ en raak nostalgies wanneer sy oor hom begin gesels…
Deon was ‘n ‘ouma’-kind. Na sy ouers se dood het hy en sy jonger broer by sy ouma groot geword.
Daar het hy op die ‘ou manier’ die belangrikheid van waardes en beginsels geleer en het dit regdeur sy lewe saam met hom gedra.
Op 21 jarige ouderdom sluit hy aan by die polisiediens en die passie wat hy vir sy werk gehad het, word gereflekteer deur sy bevordering tot kaptein.
In 2019 begin hy by die Moorreesburg-polisiekantoor, waar hy hierdie rang tot sy dood beklee het. Connie noem dat Deon nooit doekies omgedraai het nie en so streng as wat hy by die werk was, was hy by die huis.
Reëls was reëls, maar alles was altyd in liefde gedoen. Sy liefde vir sy vrou en kinders is duidelik sigbaar in die herinneringe wat hulle saam met hulle dra.
Die feit dat sy na hom verwys as haar ‘bederwer’ spreek boekdele hiervan.
Familie en vriende sal Deon altyd onthou as iemand wat daarvan gehou het om te braai, potjiekos te maak en te kuier met musiek in die agtergrond.
Almal wat hom geken het sal kan getuig van sy merkwaardige persoonlikheid. Stil, maar sterk … Ferm, maar regverdig en streng, maar liefdevol.
‘n ‘Mense’-mens wat sy familie, vriende, kollegas asook gemeenskap gedien het omdat dit hom gelukkig gemaak het.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*