‘Deur saam te werk kan ons seëvier’

‘Deur saam te werk kan ons seëvier’

Uit die kantoor van die uitvoerende burgemeester van die Swartland Munisipaliteit – Raadsheer Tijmen van Essen
Maart 2020 – ons lewe verander handomkeer. Die virus is hier – ons is nie seker wat om te verwag en watter impak dit gaan hê nie.
Ons hou die nuus dop, sien die statistiek, mense word siek, sommige sterf, maar dit raak ons nie, want toe was dit net syfers op ‘n tabel.
Nou is dit 2021 – weer begin die getalle klim, maar hierdie keer is dit anders, hierdie keer is dit persoonlik.
Ons sien name wat ons ken, ons neem afskeid van familie, vriende, kollegas, bure. Op Facebook en WhatsApp sien ons daagliks boodskappe van medelye – nog iemand is weg.
Ons weet almal van iemand in kwarantyn, in isolasie, in die hospitaal.
Die virus is baie erg, ons is bekommerd, selfs bang. Ons bid, ons ondersteun, ons reik uit.
Vandag wil ons graag, uit die diepte van ons harte, aan elke persoon en familie wat as gevolg van hierdie virus iemand aan die dood afgestaan het, ons innige simpatie oordra.
Aan elke persoon of gesin wat in isolasie is, of was, wens ons beterskap toe. Wees verseker dat julle in ons gebede is.
Ons glo en vertrou dat die Swartland se mense, soos altyd, met Genade van ons Hemelse Vader, met ons sterk deursettingsvermoë en kenmerkende saamstaan gesindheid, hierdie vyand sal verslaan.
Wees veilig, dra julle maskers ten alle tye buite jul huise, was en saniteer gereeld, handhaaf sosiale afstand en bly so ver moontlik tuis. Deur saam te werk kan ons seëvier.

Namens die munisipale raad van die Swartland.

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*