Die amper skoutyd op Moorreesburg

Die amper skoutyd op Moorreesburg

Ná ‘n afwesigheid van twee jaar, is Moorreesburg weer reg vir skou hou met die jaarlikse Swartland Skou.
Hierdie skou is vir talle die hoofinskrywing in die jaar se kalender en jy kan nou ‘n aantekening maak vir 7 tot 10 September, wanneer hierdie Swartlandse dorp ‘n miernes van bedrywighede sal wees.
Die Swartlandskou het ontstaan as ‘n klein samekoms van boere in die omgewing wat idees uitgeruil het oor saaimetodes en hoe om beter oesresultate te verseker.
In die twintigerjare is die eerste skoubyeenkoms van perde in Hooikraal, noord van Moorreesburg gehou.
Die terrein het later te klein geword en is in 1933 as die Moorreesburg Skouvereniging verskuif na die ou amptelike skougronde, oos van Rosenhof by die Piketberg-ingang.
Daar was weinig geriewe en ‘n pawiljoen is opgerig met die kombuis en eetsaal daaronder. Vertoners het self sinkplaat stalle opgerig en die pluimvee-, vark-, skaap- en beesafdelings saamgeflans.
Diere wat geskenk is vir die skou was deur die mans geslag en deur die vroue verwerk. In die buite kombuis was houtstowe waarop alle kosse gaar gemaak en brood en roosterkoek gebak was. Hier was dit warm en is baie hard gewerk.
Die kroeg was onder die bloekombome. Die huisvlytafdeling was in ‘n klein geboutjie en die dames het destyds baie sterk teen mekaar kompeteer met ‘n hele jaar se insette. Van verskillende soorte tuisgemaakte seep tot plaasprodukte, die ligste pasteideeg en netjiesste naaldwerk- te veel om te noem. Baie dames moes hier punte verwerf vir hul beoordelaarsertifikate as gevolg van die hoë standaarde waaraan hierdie huisvlytafdeling gekoppel was. Die VLV het hierdie gesogte afdeling in samewerking met die skou aangebied.
Jare gelede het Ben Mostert met 80 trekperde na die skou gekom, Koos du Toit met 30 perde en Frikkie Serdyn met twee spanne muile plus nog heel wat ander deelnemers – almal plaaslik. Vandag is daar min plaaslike deelnemers en die voedingsbron is meestal van buite. Die perde-afdeling was ‘n miernes van bedrywighede en die klasse is aangekondig met die klap van ‘n sweep.
Dit was nie ongewoon om agt wa-spanne en tienwa-spanne met muile op die Moorreesburgskou te sien nie. In die vroeë dertigerjare tot die laaste vyftigerjare was trekdiere volop op plase gebruik. Die koms van meganisasie het die trekperd getalle sodanig laat afneem dat dit vandag uitsonderlik is om ‘n wa-span van agtperde op die skou te sien – ‘n tradisie wat met alle mag aangemoedig en vertroetel moet word.
Bron: Swartland Skou

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*