Dining with D at Nic’s Nibbles

Dining with D at Nic’s Nibbles

Op die plein op Riebeek-Kasteel, in die Riebeekvallei, in die hartjie van die Swartland, is daar ‘n klein koffiewinkel wat ietwat anders is as die koffiewinkels waaraan ‘n mens gewoond is.
Hier bestel jy, geniet jy en gaan jy.
Daar is geen sitplek vir jou nie, geen gesit en gekuier nie. Jy bestel, geniet en gaan.
Hoekom?
Want dit is hoe dit in Italiƫ gedoen word!
En Nic’s Nibbles is die naaste wat jy aan ‘n opregte Italiaanse koffiewinkel in die Swartland kan kry!
Die klein winkeltjie-eienaar het groot drome.
Amper so groot soos die smaak van hulle smaaklike items wat te koop is.
Hier kan jy teug aan ‘n heerlike beker Lavazza-koffie, terwyl die geure van die varsgebroude koffie in die lug hang.
Wat egter die spreekwoordelike kersie op die koek is, is hulle heerlike sjokolade truffels en opregte Belgiese wafels.
Om nie eens te praat van hulle handgemaakte nougat nie.
Die sjokolade truffels is klein balletjies van heerlikheid wat gevul is met sjokolade genache, gemaak van Belgiese sjokolade.
Daar is drie verskillende geure naamlik melk, wit en donker-sjokolade. Dit smelt letterlik op jou tong en jy is spyt as daardie balletjie lekkerte weg is.
Dan gryp jy die pakkie en soek na nog.
Die nougat is sag, smaaklik en die verskillende opsies maak dit vir jou moeilik om net een te kies, so koop sommer almal!
En die wafels! Hierdie wafels is pof-balletjies-gevul-met-suikerklontjies.
Jy maak hom net vinnig in die rooster warm en geniet. Die suikerklontjies ontplof in jou mond met elke hap en jy kan nie wag om nog en nog en nog te proe nie.
Lig, vullend en smaaklik.
Besoek Nic’s Nibbles, langs Pam Golding, op Riebeek-Kasteel vir dekadente sjokolade, nougat en truffels. Jy sal nie spyt wees nie!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*