Dr NJ Heyns oor hondsdolheid

Dr NJ Heyns oor hondsdolheid

Na twee bevestigde gevalle van hondsdolheid in Kaapstad wil Dr NJ Heyns van Groenkloof graag meer inligting oor hierdie gevreesde siekte gee:
‘n Diagnose wat geweldig moeilik is om aan honde of kat liefhebbers oor te dra is hondsdolheid (Rabies). Die rede hiervoor is dat sodra hierdie siekte gediagnoseer word is die dood van daardie dier onvermydelik.
Hondsdolheid is ‘n geweldige ernstige virussiekte wat voorkom by soogdiere en deur die sentrale senuweestelsel versprei. Hondsdolheid is ‘n ‘zoönotiese siekte’ wat beteken dat oordrag kan plaasvind van dier na mens. Dit word deur die speeksel van die besmette dier of gasheer oorgedra.
‘n Byt deur die gasheer-dier is die mees waarskynlike en algemene manier vir ‘n dier of mens om hondsdolheid te kry. Hierdie besmette speeksel beweeg deur die senuwees en rugmurg na die brein. Kontak met die oë, neus of mond kan ook tegnies die virus oordra, maar hierdie gevalle is skaars. Hondsdolheid word gekenmerk deur drie stadiums van infeksie, breedweg beskryf as die inkubasietydperk, die prodromale tydperk en die akute neurologiese tydperk.
Afhangend van die spesie, inkubeer die virus in die liggaam vir weke tot maande, sonder simptome. Wanneer simptome wel verskyn kan mens oplet na die volgende tekens ;‘n dier sal geneig wees om die teenoorgestelde van normale gedrag te toon. Byvoorbeeld, n vredeliewende hond kan aggressief word enn aggressiewe hond kan stil en slaperig word. Daar is egter nie slegs een spesifieke reaksie op hondsdolheid nie, ander tekens om voor op te let is die onvermoë om te sluk en erge speekselvloei.
Sodra die brein deur hondsdolheid besmet is, versprei die virus na die speekselkliere en verskyn die simptome van hondsdolheid. Die virus, ook bekend as die lyssavirus, beweeg dan verder deur die netwerk van senuweeselle. Simptome vererger progressief soos die virus geleidelik die brein en sentrale senuweestelsel binnedring. Aangesien die inkubasie periode so lank kan neem kan jy onder geen omstandighede wag vir tekens van die siekte om te verskyn nie.
Onmiddellike behandeling is noodsaaklik sodra jy gebyt of gekrap word deur ‘n dier wat vermoedelik hondsdolheid het.
Belangrik om ook in ag te neem is dat daar n wanpersepsie is dat hondsdolheid geneig is om by honde veel meer algemeen te wees as by ander diere. Katte het gewoonlik ‘n hoër blootstellings moontlikheid. Daar is egter die mening dat katte dikwels onder-gediagnoseer word en dat hierdie getalle nie altyd beskikbaar is nie.
Onthou, sodra hondsdolheid simptome begin verskyn, is die infeksie altyd noodlottig. Die enigste voorkomende behandeling is inenting.

Kontak gerus Groenkloof Dierekliniek indien u verdere inligting benodig.
Groenkloof Malmesbury 022 4871157
Groenkloof Riebeek 082 089 1234
Groenkloof Piketberg 071 590 8064

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*