Ds Lourens Hugo trap diep spore

Ds Lourens Hugo trap diep spore

Eerwaarde Lourens Toerien Hugo: Vader van Laurie Hugo Primêre Skool
Eerwaarde Lourens Toerien Hugo is gebore op 8 Augustus 1886 te Porterville.
Die enigste kind van Johan Wilhelm Hugo en Susanna Johanna Hugo.
Hy het ‘n goeie opvoeding gehad en het op jong ouderdom goeie besigheidsbeginsels aangeleer. Hy is in 1914 toegelaat tot die bediening en op 4 Januarie 1924 word hy as leraar bevestig in Moorreesburg.
Ds Hugo het die onderwys op die hart gedra. Gedurende 1961 is die plaaslike laerskool deur die Departement van Onderwys vernoem na hom.
Liefde en nederigheid was een van die beginsels wat hy hier in sy bediening openbaar het. Onder leiding van Eerwaarde Hugo word die Sendingkerk, wat vandag bekend staan as die museum, gebou. Die hoeksteenlegging het plaasgevind op 12 Mei 1929.
Hy was ook een van die voorstanders wat hom beywer het om fondse in te samel vir die skool vir blindes en dowes te Worcester. Tien jaar na die inwyding van die kerk besluit die kerkraad om die galery aan te bou. Ekstra banke en ‘n orrel word ook aangekoop vir die kerk. Die inwyding was bepaal vir 27 Augustus 1939.
Dit sou egter nie vir die leraar gegun word nie. Terwyl hy besig was met kooroefeninge in die kerk, het hy onverwags beswyk op 6 Augustus. Sy heengaan het die mense wat klaar gemaak het om fees te vier, in rou gedompel.
Op 8 Augustus 1939 is hy voor die sendingkerk, museum vandag, begrawe. Net voordat die museum geopen het in die ou Sendingkerk gebou, in 1978, is sy graf verskuif na die ou begraafplaas in Rivierstraat.
Hy was getroud met Alida Johanna van Biljon by wie hy 6 kinders gehad het.

Bron: Moorreesburg Koringbedryfmuseum

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*