Eerste kopers: Hoe om te spaar en te begroot

Eerste kopers: Hoe om te spaar en te begroot

Om vir die eerste keer ‘n huis te koop kan senutergend wees juis omdat daar baie faktore is wat in ag geneem moet word.
Vir talle jong Suid-Afrikaners is dit nie noodwendig moontlik om ‘n huis te koop nie aangesien hulle salarisse te klein is om ‘n huislening te bekom, of omdat hulle nie derduisende rande het wat rondlê om oordragskoste te betaal nie.
Karmen Wessels van die digitale lewensversekeraar Sanlam Indie is van mening dat alhoewel die toestande beslis uitdagend is vir jong mense wat die eerste keer eiendom wil koop, dit tog nie heeltemal buite hulle bereik is nie. Sy raai voornemende huiskopers aan om eiendomswebwerwe dop te hou om ‘n idee te kry van die tipe eiendom waarin hulle belangstel, en van wat eiendomspryse in verskillende woonbuurte is.
“Dit is ook belangrik om onmiddellik te begin spaar indien jy dit nog nie begin doen het nie, hetsy vir ‘n deposito of die ander kostes wat aan huiskoop verbonde is,” sê Wessels. “Hoe groter die deposito is wat jy kan betaal, hoe minder sal jou maandelikse verbandterugbetalings en algehele langtermynkoste wees.”
Dubbel die inkomste beteken dubbel die kans om vir ‘n verband te kwalifiseer. “As jy wel kies om ‘n eiendom saam met ‘n vennoot of vriend te koop, maak seker dat jy ‘n kontrak opstel om beide van julle te beskerm in die geval van ‘n argument, die verkoop van die eiendom, of die afsterwe van een van die partye,” sê Wessels.
Wanneer ‘n reusebelegging soos om ‘n eiendom te koop, oorweeg word, is dit tyd om jou maandelikse begroting en finansiële situasie op ‘n veel holistieser wyse te beskou, meen Wessels. “Oorweeg besparing op ander gebiede, soos om jou motor af te gradeer of om ‘n paar luukses uit die begroting te sny waarsonder jy vir ‘n jaar of twee kan klaarkom.”
Wanneer jy uiteindelik jou droomhuis gevind het, is dit tyd om ‘n aanbod te maak en ‘n bank vir ‘n lening te nader om die koopprys of ‘n gedeelte daarvan te verseker. Lethabo Mashishi, vennoot en akteprokureur by die regsfirma Adams & Adams, wys egter daarop dat dit nie die enigste finansiële uitgawe is wat jy in ag moet neem wanneer jy eiendom koop nie.
Daar is bykomende koste wat in gedagte gehou moet word, en waarvoor vooraf begroot moet word soos oordragkoste, verbandregistrasiekoste en prokureurskoste.
Wanneer jy uiteindelik ná registrasie ‘n trotste nuwe huiseienaar is, is daar egter ook ander koste om aan te dink. Dit sluit in eiendomsversekering, munisipale tariewe en belastings, elektrisiteit-, water- en sanitasiekostes asook heffings.
“Dit is noodsaaklik om deeglike finansiële beplanning te doen wanneer jy beoog om ‘n eiendom te koop. Daar is aansienlike koste-implikasies om aan te dink voordat jy ‘n huiseienaar word. As jy dit verstaan, sal jy in staat wees om jou finansies noukeurig te beplan. Dit is raadsaam om vooraf behoorlike navorsing te doen, of alternatiewelik om ‘n kundige in die eiendomsreg te raadpleeg om ‘n duidelike begrip te kry van die kostes en proses daaraan verbonde wanneer eiendom gekoop word.”
Bron: https://finansies.solidariteit.co.za/

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*