Eiendom: Jou huurder en sy kennisperiode

Eiendom: Jou huurder en sy kennisperiode

Huurder: “Ek gee jou 20 dae kennis om my huurkontrak te beëindig”.
Verhuurder: “Maar die huurkontrak sê jy moet twee kalendermaande kennis gee!”
Mag die huurder dit doen?
Om hierdie regsvraag te beantwoord moet verbruikers bewus wees van die relevante bepalings in die Verbruikersbeskermingswet 68 van 2008, beter bekend as die Consumer Protection Act (CPA).
Die eerste vraag is altyd of CPA op die spesifieke huurkontrak van toepassing is. In meeste gevalle is die CPA van toepassing op huurkontrakte, al verhuur jy net een eiendom. Daar is natuurlik uitsonderings, maar vir die doeleindes van hierdie berig, aanvaar ons dat die CPA wel van toepassing.
Indien die CPA wel van toepassing is, is die tweede vraag of Artikel 14 van die CPA op die spesifieke huurkontrak van toepassing is.
Artikel 14 is slegs van toepassing op vastetermyn huurkontrakte en word uitdruklik uitgesluit wanneer ‘n huurooreenkoms tussen twee regspersone (maatskappy, beslote korporasies, trusts, ens) aangegaan word, ongeag hulle jaarlikse omset. Artikel 14 is dus van toepassing op die meerderheid residensiële huurkontrakte en sommige kommersiële huurkontrakte.
“Maar die huurkontrak sê jy moet minstens twee kalendermaande kennis gee!”
Indien die CPA van toepassing op ‘n huurkontrak is, kan ‘n verhuurder nie uit die bepalings van die CPA kontrakteer nie. Indien die CPA van toeapssing op ‘n huurkontrak is is dit onderhewig aan die relevante bepalings, ongeag of daar ander bepalings in die huurkontrak is.
In terme van Artikel 14(2)(b)(i)(bb) van die CPA mag ‘n huurder sy/haar huurkontrak enige tyd gedurende die huurtermyn en vir enige rede kanselleer met 20 besigheidsdae skriftelike kennis aan die verhuurder. Die skriftelike kennis kan in enige toelaatbare vorm gestuur word, selfs ‘n WhatsApp of SMS-boodskap, maar die inhoud moet duidelik wees.
Huurders moet egter versigtig wees wanneer hulle besluit om ‘n huurkontrak in terme van Artikel 14(2)(b)(i)(bb) van die CPA te kanselleer.
In terme van Artikel 14(3)(a) en (b) van die CPA is ‘n huurder steeds aanspreeklik vir alle huur- en verwante gelde in terme van die huurkontrak en die verhuurder is geregtig om ‘n redelike kansellasie fooi van die huurder te eis op datum waarop die kansellasie in werking tree.
Die redelike kansellasie fooi kan op twee maniere bepaal word.
Die huurder en verhuurder kan met die ondertekening van die huurkontrak ooreenkom op ‘n minimum kansellasie fooi wat dan die redelike kansellasie fooi is of, indien geen voorafgaande ooreenkoms bereik is nie, deur middel van Regulasie 5(2) van die CPA, welke Regulasie ‘n lys faktore bevat om die redelike kansellasie fooi te bepaal. Regulasie 5(3) bepaal egter dat in beide gevalle die redelike kansellasie fooi nooit so hoog mag wees om die huurder sodanig af te skrik dat hy nie sy reg kan uitoefen om die huurkontrak te kanselleer nie.
Wat “te hoog” is hang van elke situasie af en kan nie in hierdie berig met duidelikheid uitgelê word nie.
Dit is dus baie belangrik dat huurders en verhuurders die implikasies verstaan wanneer ‘n besluit geneem word om ‘n huurkontrak in terme van die CPA te kanselleer.
Behoorlike advies deur ‘n prokureur of verhuringsagent is dus van noodsaaklike belang om te verseker dat jou huurkontrak en besluit aan die bepalings van die CPA voldoen.
Hierdie berig is deur William Koch van William Koch Prokureurs saamgestel. Indien jy enige vrae het kan hy gekontak word by 022 125 0610 of stuur ‘n e-pos aan william@kochlaw.co.za.
• Hierdie berig word slegs vir algemene doeleindes gepubliseer en vorm nie regsadvies nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*