Esmé is SA se #1-agent vir Justine

Esmé is SA se #1-agent vir Justine

Esmé van Reenen is ‘n vrou met ‘n passie vir mense, dit wat sy doen en haar produk.
Hierdie vrou met die omgee-hart, die sagte stem en goeie opinie oor almal, het haarself oortref en bewys dat sy Suid-Afrika se beste Justine-agent is.
Esmé, wat reeds die afgelope vier dekades hierdie produk op Malmesbury bemark en verkoop, is onlangs aangewys as die beste agent vir die skoonheidsreeks in Suid-Afrika.
Hiermee het sy ‘n heerlike vakansie vir haarself losgeslaan.
Sy het voorheen die nommer 2-posisie beklee, maar nie daarop gefokus om hierdie leer te klim nie.
Esmé, wat onder talle bekend is Juffrou Esmé, die naaldwerkjuffrou van Wesbank Sekondêr, vertel dat hierdie besigheid, soos talle ander, ook sy uitdagings het.
“Dit is soms senutergend as dit kom by geld invorder as die bestellings reeds gelewer is. Ek het al slapelose nagte daaroor gehad. Ek het al so baie gebid vir hulp en leiding, dat ek op ‘n stadium gedink het ek kan nou nie meer vra nie. Ek het ook my trots. Ek het mos darem ‘n vel oor my gesig.”
Esmé, wat gegrond in haar geloof die lewe aanpak, bly altyd positief en streef daarna om die beste diens aan haar kliënte te lewer en so die handelsmerk van Justine te vergroot.
“Dis vir my lekker om met mense te werk. Dis lekker om te sien hoe produkte wat ek vir hulle aanbeveel, hulle help. Of dit nou is om die plooitjies onder bedwang te bring, of om ‘n olie te gebruik wat hulle help slaap.”
Jy sal haar nooit sonder ‘n glimlag sien nie en sy sal altyd vra hoe dit gaan – haar unieke manier.
“Hoe gaan dit met jou skatjie…”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*