Furlo, Hilletje gee grasie en hulp

Furlo, Hilletje gee grasie en hulp

Izélle Fouché
‘n Jongman wat positief bly ten spyte daarvan dat hy in ‘n fratsongeluk verlam is en ‘n vrou met ‘n hart en glimlag van goud – dit is die suksesspan van Furlo Theron en Hilletje Wiehahn wat die meesterbreins agter Grace Adapted Clothes and Aids is.
Furlo, ‘n kranige sportman wat sy dorp op die rugby- en krieketveld verteenwoordig het, se lewe is in ‘n oogwink verander toe hy in ‘n fratsongeluk in ‘n rugbywedstryd in 2016 beseer en verlam gelaat is. Hilletje is die arbeidsterapeut wat Furlo help aanpas het.
Na sy ontslaan uit die rehabilitasiesentrum het hy egter besef dat sy klere van voorheen problematies was en moes hy sy klerekas aanpas om in sy spesifieke behoeftes te voldoen – en dit het teen ‘n baie duur prys gekom.
“Ek moes my klere laat aanpas en dit het ‘n arm en ‘n been gekos. Dis hoe ek en Hilletje besef het dat dit nie net ‘n probleem vir my is nie, maar dat dit een is waarmee baie persone met gestremdhede opgeskeep sit,” vertel Furlo.
Grace Adapted Clothes and Aids fokus op klere en hulpmiddels vir gestremdes – net soos die naam aandui.
Klere om menswaardigheid en selfvertroue te verbeter en ook hulpmiddels om onafhanklikheid te verbeter.
Vir Furlo is dit ‘n riem onder die hart om ‘n verskil in mense se lewens te kan maak op hierdie manier.
“Hopelik wys ons reis dat enigiets moontlik is, maak nie saak wat die omstandighede is nie.”
Toe Furlo destyds die tyding kry dat hy verlam is, het hy gevoel dat sy lewe verby is.
“Ek het ‘n hele paar emosies gevoel. Woede, hulpeloosheid, oorwin, ‘n las vir ander. Ek weet dit klink soos n cliché, maar die dag toe Hilletje by my kamer in storm en my soos n normale mens behandel het alles verander. Sy het uitdagings vir my gestel, en dit het my trots gemaak wanneer ek die uitdaging bereik het, en so het ek dit my werk gemaak om elke dag die silwer randjie van elke donkerwolk te soek en daarop te fokus.”
Furlo het die Jo Dolphin-sentrum op Malmesbury gereeld besoek en het ook hand by gesit by dié organisasie wat omsien na persone met gestremdhede.
“My besoek en werksaamheid by Jo-Dolphin het ook baie gehelp. Ek het besef dat elkeen elke dag ‘n battle fight. Jy kan kies om jouself jammer te kry of die beste van die saak te maak en te fokus op dit wat jy kan doen.”
Furlo se lewe het ook ‘n splinternuwe silwer rand gekry toe hy op 26 September 2019 die oom geword het vir Gia.
“Ek het voor dit nie die betekenis van onvoorwaardelike liefde verstaan nie, maar sy maak my lewe soveel beter.”
By Grace Adapted Clothing and Aids speel die twee elkeen ‘n integrale rol in die daaglikse bestuur. Furlo is verantwoordelik vir administrasie, bemarking, finansiële verslae en verkope, terwyl Hilletje ontwerp, produkte maak, konsultasies hanteer en dan ook die bestuurder is!
Furlo is natuurlik ook die proefkonyn as hulle nuwe produkte ontwikkel.
Die twee streef daarna dat hulle klein besigheid ‘n een-stop-winkel en ook die eerste naam moet moet wees wat mense aan dink as daar van aangepaste klerasie en hulpmiddels gepraat word.
“Ons droom ook om personeel met versillende gestremdhede aan te stel, sodat diegene wat moontlik moedeloos voel, kan voel hulle het ‘n doel in die lewe,” vertel Furlo.
Die twee is altyd besig met nuwe spalke, ontwerpe en slagspreuke vir hul t-hemde en wil ook so die publiek inlig oor die fisiese en sielkundige uitdagings wat persone met gestremdhede daagliks moet oorbrug.
Vir meer inligting, kontak Furlo by 071 682 6107 of Hilletje by 084 549 8443 of stuur ‘n epos na _graceadapted@gmail.com.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*