Geen punt skei Lillies en Darling

Geen punt skei Lillies en Darling

Abbotsdale het Saterdag teen Darling op die Abbotsdale Sportgronde te staan gekom. Albei hierdie spanne word as groot aanspraakmakers vir die ligatitel bestempel en die toeskouers het ’n naelbyt-stryd tussen die twee spanne verwag.
Darling het goed begin met ’n vroeë strafskop deur hul losskakel Earl Lewis. Die blitsige vleuel van Darling, Hubert Cleophas, het ’n agterlyn-beweging van Abbotsdale soos ’n boek gelees, die bal onderskep en sowat 50 meter gehardloop om die besoekers se eerste drie te druk wat ook deur Lewis verdoel was. Ná nog ’n puik strafdoel deur Lewis was Darling 13 – 0 en was die druk op die tuisspan.
Alhoewel Abbotsdale baie balbesit gehad het, het baie van hulle agterlynbewegings skipbreuk gelei met Darling wat verskeie teenaanval bewegings geloods het as gevolg van hierdie ongedwonge foute van Abbotsdale.
Darling was ook baie goed op verdediging. Na volgehoue druk deur Abbotsdale, het Bertrum Gysenberg met ’n strafskop geslaag om die tuisspan se eerste punte aan te teken. Dit was uiters belangrik vir Abbotsdale om binne trefafstand te bly en Lillies se skrumskakel, Eldine Hein, is kort voor rustyd oor die doellyn om die rustydtelling 13 – 8 in die guns van Darling te maak. Na rustyd het Abbotsdale se voorspelers stelselmatig in die wedstryd gekom en dit was veral Gurshwin Swarts, slot, wat telkemaal suiwer lynstaanbal vir Abbotsdale gewen het.
Nadat Darling ’n speler vir 10 minute moes afstaan as gevolg van ’n geelkaart, het Lillies se voorspelers ’n goeie rolmaalbeweging begin en hul haker, Shelton Appolus, het oorgeval vir ’n drie om die telling 15 – 13 te maak in Abbotsdale se guns. Darling se voorspelers het glad nie terug gestaan nie en na ’n rolmaal van byna 15 meter het Darling verwoed aangeval voor Earl Lewis die verdediging geflous het om oor te duik vir ’n verdoelde drie wat die besoekers met 20 – 15 die voorsprong gegee het. Net toe dit lyk of Darling die knoop sou deurhaak, het Draigh Schieroudt die spoedvraat vleuel, Aiden Lawrence, hoek toe gestuur vir ’n drie wat Wiam Syster nie kon verdoel nie.
Dit het die tafel gedek vir 6 minute van spannende rugby met beide spanne wat duidelik nie wou bes gee vir ’n gelykop uitslag nie. Die wedstryd kon enige kant toe gaan, maar die eindtelling van 20 punte elk is ’n ware refleksie van sake. Abbotsdale se spelers, toeskouers en bestuur wens ook beterskap aan Wilton Tango wie mediese behandeling moes ontvang nadat hy en ’n spanmaat met mekaar kontak gemaak het. Wilton sterk tans goed aan. Met hierdie gelykop uitslag bly Abbotsdale egter steeds onoorwonne in die eerste rondte van die Swartland Groot Uitdaagbeker. Abbotsdale speel Saterdag weg teen Villagers Wittewater wie tans slegs een oorwinning op hul kerfstok het.
Villagers Wittewater het Saterdag op hul tuisgrond vasgeval teen ‘n oorgehaalde Good Hopes span. Dinge raak nie maklik vir die span wie sy tuiswedstryde in Piketberg speel en Saterdag behoort Abbotsdale sy wurggreep op die Swartland streek se kampioenskap te versterk deur Villagers Wittewater gemaklik met meer as 15 punte te klop.
Koringberg het Saterdag gasheer gespeel vir Moorreesburg met die buurdorpe se ondersteuners wat reeds deur die week groot gees gevang het voor die derby-wedstryd. Koringberg het van die begin af gewys dat hulle nie gaan terugstaan vir die besoekers nie en het Moorreesburg verrassend op die agtervoet geplaas. Moorreesburg kon in die eerste helfte net nie aan die gang kom nie en moes tevrede wees met ‘n enkele drie deur Emile Baron. Koringberg het Moorreesburg gedomineer met sy inklimspel en goeie hanteerwerk.
Dit was veral die voorspelers van Koringberg Andrew Smit, Jandre De Wee, Robin Jagers en Motlry Albertus wie behoorlik onder Moorreesburg ingeklim het. Hulle het die platform geskep vir die spelskeppers, Lyle Adams en Winston Lee Van Wyk, om die wedstryd te dikteer en het Moorreesburg gereeld aan die raai gehad en welverdiend teen rustyd met 20-11 te gaan water drink. Koringberg het die tweede helfte begin waar hulle die eerste helfte opgehou het en dit was veral Grant Mcdillon en Monrood Diedericks wat Moorreesburg groot kopsorge gegee het op verdediging.
Die spelers van Moorreesburg het egter hul vegterskleed aangetrek en begin terugveg. Dit was veral die plaasvervangers wat die nodige vonk verskaf het. Die Speler van die Wedstryd, Wilhelm Oktober, en Leonardo Linnert het voorlangs Koringberg begin sag maak en het elk ‘n drie gedruk en Jehann Bonn, wie tans onder die voorste driedrukkers in die Groot Uitdaagbeker is, het ook ‘n drie gaan druk om Moorreesburg weer in die wedstryd te bring.
Jehann Bonn het ook ‘n strafskop oorgeklits om Moorreesburg die voortou te gee. Moorreesburg se uithoudingsvermoë was puik en hul fiksheid en kondisionering was ten toon gestel die laaste 20 minute en Koringberg kon net nie byhou met die besoekers se tempo nie. ‘n Drie deur Heinrich Boois laat in die wedstryd het Koringberg finaal gesink en dit het ook die karakter van Moorreesburg na vore gebring en die feit dat die span kalm gebly het was die sleutel tot die 34-42 oorwinning. Moorreesburg sal dus met groot selfvertroue die komende week na Darling reis wie nog nie heeltemal op alle silinders vuur nie, maar wel hulle goed van hul taak gekwyt het teen Abbotsdale.
Die wedstryd behoort vir groot opwinding te sorg en sal ‘n titaniese stryd wees wat albei spanne sal wil wen. Met Darling tans in die vierde en Moorreesburg in vyfde plek, sal nie een van die spanne wil waag nie. Die wedstryd behoort dus naelskraap te wees met Moorreesburg wat vir ‘n groot opskudding sal sorg deur die verdedigende kampioen te klop met minder as 7 punte.

Wesbank RVK het Saterdag gasheer gespeel vir Saron RVK met die tuisspan wat steeds hard veg om sy aanspraak op die titel lewendig te hou, deur van die staanspoor te wys hulle is daar vir besigheid. Saron het nie antwoorde vir Wesbank gehad in die eerste helfte nie en puik spel deur die voorspelers van Wesbank met Nathan Solomons aan die spits het gesorg dat die agterlyn baljaar met die bal in die hand. Die terugkeer van die talentvolle Ettiene van Rooyen het nuwe vuur in Wesbank se agterlyn geblaas en hy het onmiddelik sy stempel afgedruk deur drie keer agter die pale te gaan kuier. Reduwaan April het ook ‘n groot impak gehad op die wedstryd en het met sy twee drieë sy totaal op 9 drieë gebring. Saron het goed in die tweede helfte begin en twee drieë gaan druk om die telling 32 – 20 te maak en begin hoop. Wesbank het egter Saron se stert geknoop met ‘n verdere twee drieë om die wedstryd weg van die besoekers te neem. Wesbank reis Saterdag na Koringberg en sal nie die tuisspan onderskat nie. Wesbank behoort nog hul skok nederlaag teen Koringberg te onthou en sal die tuisspan met die nodige respek aandurf.
Die tuisspan is op soek na hul eerste oorwinning en sal baie hard veg om nie die eerste rondte sonder ‘n oorwinning af te sluit nie. Wesbank is egter goed op dreef en begin kry weer ritme na n wisselvallige begin tot die liga en behoort die tuisspan te klop met minder as 10 punte.

In ander wedstryde speel Good Hopes gasheer vir Porterville en die tuisspan sal sy tuisveld voordeel goed wil gebruik om die eerste rondte op n hoë noot te wil afsluit. Good Hopes behoort Porterville met minder as 10 punte te klop. Never Despair, wie hierdie seisoen een van sy beste seisoene beleef, sal ook sy aanspraak op die titel wil lewendig hou deur Saron te klop met meer as 7 punte.
Die eerste rondte kom hierdie naweek tot ‘n einde en die spanne sal weer vir groot opwinding sorg.
• Abri Adonis

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*