Goeie wen vir rolbal

Goeie wen vir rolbal

Malmesbury se mansrolbalspan het die afgelope Saterdag ‘n sterk span van Plumstead met die kous oor die kop terug gestuur na die suidelike voorstede in die WP Vlag-liga.
Daniël Griebenauw, Marius Huysamen, Lodewyk Lesch en SG Basson vertoon weer baie goed en vertrap hulle opponente 27-13 wat 6 skote op die 15 skof insluit.
Hulle wen die eerste stel 7-3, is ongelukkig om die 2de 5-6 te verloor, maar oorrompel hul teenstaanders in die laaste stel met 15-4. Alhoewel almal goeie spel gelewer het, het die bloedrooi balle van SG regdeur gevaar voorspel deur na aan die wit bal te lê. Wat bes moontlik die span aangevuur het om die teenstaanders te looi, was die uiters negatiewe houding van hulle opponente skip.
Die span van Roux Vermeulen, Brian Howell, Jehan van Niekerk en Rainier van Zyl skop goed af en wen die eerste stel 6-4. In die tweede gee hulle 5 skote af om uiteindelik 3-9 die knie te buig. Met die aanbreek van die laaste skof is hulle 13-17 agter en gelykop 4 elk in die stel. Hulle moes tevrede wees met 3 skote, met 2 balle wat, ná daar gemeet is, net-net nie tel nie.
Hulle verloor dus 16-17, maar Malmesbury verdien 8 waardevolle punte op die punteleer teenoor Plumstead se 4.
Dit plaas Malmesbury nou in die tweede plek, maar hulle sal Saterdag gefokus moet bly en nie voet van die pedaal afhaal weg teen die melkkoeispan van Edgemead nie.
Die span in die WP Driespel-liga het na Kuilsrivier gereis en kom huistoe met 1,5 punte.
Die span van Deon Bosch, Jeff Petersen en Cobus Vermeulen wat sy debuut gemaak het, verloor die eerste stel naelskraap met 4-5, haak daar vas deur geen punte in die tweede stel aan te teken nie en gee 11 skote weg. Hulle konsolideer in die laaste stel om 5 elk te eindig en verloor dus 9-21.
Die span van Altus Myburgh, June Rickett en Tia Petersen is ongelukkig om 16-18 te verloor. Hulle verloor die eerste 5-7, wen die tweede 7-3, en verloor die derde 4-8. Hulle speel Saterdag tuis teen Parow.
Die keurders is sover tevrede dat hulle raak gevat het met hulle keuses en bly oor hoe kompeterend die onervare spelers is.
Intussen is die klubpare-kampioenskap verlede Dinsdag beslis. ‘n Groot skare is getrakteer met skitterende rolbal, wat deur baie as die beste eindstryd in ‘n lang ruk bestempel is. Paul Rossouw en Rainier van Zyl, wat bo-aan die punteleer geëindig het, het te staan gekom teen Roux Vermeulen en Jehan van Niekerk, wat derde was. Na 4 skofte is Paul-hulle 6-1 voor, na 11 skofte 9-11 agter, net om dit 12 elk na 12 te maak. Op die 18de is dit 17 elk, en knaag die senuwees aan beide die goeie vriende Rainier en Jehan.
Drie skote op die 19de het stellig die wedstryd finaal in Roux en Jehan se guns geswaai, met die eindtelling 21-18.
Die klub se Driespel- en Enkelspel-kampioenskappe het hierdie week begin en albei die kompetisies beloof om goeie rolbal te lewer.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*