Groot Uitdaag beloof uithaler-rugby

Groot Uitdaag beloof uithaler-rugby

Good Hopes RVK speel Saterdag gasheer vir Wesbank RVK wat tans in ‘n verwoestende bui is. Wesbank het die naweek gewys dat hulle hierdie seisoen vir groot opskudding gaan sorg, ná hulle Porterville RVK gemaklik met 57-19 geklop het.
Dit was veral Gavern Skippers wie groot kopsere vir Porteville RVK veroorsaak het met 3 drieë en 5 doelskoppe vir ‘n gesamentlike bedrae van 25 punte.
Die vleuels Luuk Van Der Westhuizen met ‘n driekuns van drieë en Redeuwaan April met sy tweekuns van drieë het ook sirkels om hulle teenstaanders gehardloop. Die drieë deur die agterlyn is ‘n teken dat hardloop-rugby op die spyskaart was vir Wesbank-ondersteuners.
Die voorspelers van Wesbank het egter die grondslag gelê met hulle klipharde inklimspel, met veral die agsteman Charlie Gerber aan die spits.
Good Hopes sal dus sy storie moet ken Saterdag indien hulle enige resultate uit die wedstryd wil kry. Good Hopes RVK is gewoonlik baie hardkoppig op hul tuisveld, maar Wesbank sal egter ‘n berg te hoog wees om te klim eerskomende Saterdag. Wesbank RVK behoort weer hul talente ten toon te stel met n gemaklike oorwinning van meer as 15 punte.
Never Despair RVK speel gasheer vir Moorreesburg RVK. Hierdie wedstryd lewer gewoonlik hope vermaak vir die inwoners van Malmesbury asook besoekers op.
Albei spanne spog met jong talent, asook gesoute hardebaarde wat vir groot opwinding kan sorg. Never Despair het verlede Saterdag gewys dat hulle reg is vir besigheid deur die nuweling Wittewater Villagers RVK op sy tuisveld ‘n groot pak slae te gee. Moorreesburg RVK op sy beurt het gewys dat hulle self groot planne hierdie seisoen het met ‘n bonuspuntoorwinning teenoor Good Hopes RVK.
Dit was veral die jong vleuels Christo Januarie en Jason Damons wat gewys het hulle is gereed om hulle talente te wys in die Groot Uitdaagbeker. Saam met Speler van die Wedstryd Flippie Jacobs en die ervare senterpaar Ruan Van Rooy en Jehan Bonn was Moorreesburg RVK baie goed met die bal in die hand en by tye het Good Hopes RVK nie antwoorde gehad vir Moorreesburg RVK se aanvallende spel nie. Die gemoedere het egter by tye bietjie hoog geloop met die skeidsregter wat ‘n paar geel kaarte asook ‘n rooi kaart moes wys om die spelers te bedaar.
Moorresburg RVK lyk weer honger vir rugby en sal die Tier sommer vinnig terug in sy hok wil sit. Moorresburg RVK behoort die knoop net-net deur te haak met ‘n oorwinning van minder as 7.
Ná ‘n groot nederlaag, speel die span van Koringberg RVK gasheer vir die Lillies van Abbotsdale. Abbotsdale RVK het verlede naweek gewys dat hulle hierdie seisoen een van die groot gunstelinge sal wees deur Saron RVK met 50-20 te klop. Abbotsdale RVK was gelukkig om Bertram Gysenberg weer in sy geledere te hê en hy het nie teleurgestel met sy skoppe na die pale nie. Die klipharde Milroy Isaacs was ook weer ‘n yster met die bal in die hand en het Abbotsdale RVK geduring op die voorvoet geplaas. Saron RVK het net nie antwoorde op verdediging gehad vir Abbotsdale RVK se hardloop rugby nie en Sergio Prins en Curt Lee Claasen verdien ook elk ‘n pluimpie vir hul uitblinker-vertonings. Koringberg RVK sal wil opmaak vir sy nederlaag teen Darling RVK verlede Saterdag. Darling RVK het die wedstryd goed begin en twee vinnige drieë gedruk. Koringberg het egter terug geslaan met ‘n drie en doelskop deur Winston Lee van Wyk. Albei spanne het weer gaan druk en teen rustyd kon ‘n mens nog nie ‘n wenner voorspel nie. Koringberg RVK het egter in die tweede helfte vergeet hulle moet nog 40 minute rugby kom speel en was heeltemal platgeslaan met Darling RVK se verwoestende spel in die tweede helfte. Koringberg RVK het verwoed probeer terugveg met Gavin Claasens en Robin Jagers aan die spits, maar Darling RVK was net te goed. Dit is moeilik om te sien hoe Koringberg RVK eerskomende Saterdag vir Abotsdale RVK gaan stuit en die Lillies behoort te seëvier met ‘n oorwinning van meer as 10 punte.
Darling RVK reis Saterdag na Porterville RVK met sy stert in die lug na ‘n goeie oorwinning verlede naweek. Darling RVK se terugkerende kaptein Earl Lewis het van voor gelei met sy goeie vertoning op verdediging en op die aanval. Saam met die kragmanne Lood Lingeveld en Shane Sameuls het hulle Koringberg RVK in die tweede helfte gedurig op die agtervoet gehou. Die Warnick-skakelpaar van Darling RVK, Arnesto en Jemeel, het die wedstryd goed dikteer met hulle taktiese skopwerk. Dit het gehelp dat Koringberg RVK geen punte in die tweede helfte aanteken nie. Porterville RVK wie baie potensiaal getoon het in hul vriendskaplike wedstryde sal sy tuisveld goed wil benut om dinge vir Darling RVK moeilik te maak eerskomende Saterdag. Die verdedigende kampioen behoort egter te veel skietgoed in sy arsenaal te hê en Darling RVK sal wegstap met ‘n oorwinning van minder as 10 punte.
Soos gewoonlik beloof die Swartland Groot Uitdaag Beker weer goeie hardloop rugby op te lewer en hope vermaak te verskaf aan toeskouers. Sterkte aan al die spanne met hul voorbereiding vir die wedstryde. • Abri Adonis

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*