Gussie, die hartklop van Huis Wittekruin

Gussie, die hartklop van Huis Wittekruin

•Madi Pieterse

VREDENBURG – “’n Klein mannetjie met ’n groot persoonlikheid en ’n hart van goud.”

Dìt is hoe ’n oud-kollega vir Gussie Marcus beskryf wat al vir 30 jaar die lief en leed deel van die inwoners en personeel van die ouetehuis op Vredenburg, Huis Wittekruin.

Gussie ken voorwaar die plek soos die palm van sy hand.

Dit kan ook nie anders nie, want hy het ’n hand in alles: hy verf, hy bou, hy help meubels skuif, hy help met fondsinsamelings, hy maak pype reg wat lek, wanneer die elektroniese hek nie wil werk nie, dan word Gussie ingeroep.

En bowenal hou hy sy hand oor die tuin. En gee ook hand in die tuine by die leefreghuisies.

En na al die jare is sy werk steeds vir hom lekker, geniet hy dit om almal tot hulp te wees, bly hy geduldig om aan elkeen se versoek te voldoen na die beste van sy vermoë.

Gussie se doopnaam is eintlik August, maar hy en ’n neef het met dieselfde name opgeeïndig en toe word hulle klein Gussie en groot Gussie (die neef groot Gussie omdat hy langer en ouer was).

Gussie is op Piketberg gebore, maar het op Vredenburg grootgeword en was ’n leerder by Panorama Primêr.

Nadat hy standerd 6 klaargemaak het kon hy ongelukkig nie verder skoolgaan nie sodat hy sy ouers kon help met ’n inkomste.

Hy het ge-’casual’ by Vredenburg Winkels en naweke was hy werksaam by die Rondo Inryteater, waar hy vyf jaar lank gewerk het.

Toe kry hy die werk by Huis Wittekruin, waar hy ’n klompie jare saam met Jacob Matthys gewerk het. Jacob was die man wat vir Gussie geleer het van instandhoudingswerk.

Soos die tyd aangestap het, het Gussie geleer ‘om met die oë te steel’ en het hy so geweldige kennis opgedoen, soveel so dat daar min dinge is wat Gussie nié self kan regmaak by Huis Wittekruin nie.

Een van die vorige bestuurders, Wimpie Volschenk, het vir Gussie aangemoedig om ’n bestuurslisensie te kry en dié twee het saam-saam die proses deurloop. Gussie vertel dat hy leer bestuur het met die Toyota Kombi waarvan die ratte nog langs die stuurwiel gesit het.

Hy doen heelwat rywerk en neem ook die inwoners dorp toe vir inkopies.

Hy geniet veral hierdie ritte terdeë, want hy en die inwoners skerts en lag lekker saam tydens die uitstappies.

Gussie kry reeds ’n knop in die keel wanneer hy dink dat sy aftrede naderkom.

Hoe neem mens sommer net afskeid van jou tweede huis?

Hy hoop as sy gesondheid hou, dat hy eers op 65 hoef af te tree.

Hierdie wens van hom word wyd gedeel deur sy kollegas en inwoners. Niemand kan hulle Huis Wittekruin voorstel sonder Gussie wat net altyd oral is en hand bysit waar hy kan.

Suster Bendene Joubert het jarelank saam met Gussie gewerk en vertel met deernis van hierdie man wat altyd bereid is om te help, altyd geduldig bly en altyd op sy pos is, of dit nou in die week by die werk is of na-ure om hand by te sit met fondsinsamelings.

“Hy is ’n stuk goud,” sê sy. “Daar`s net een van hom. Sy vrou en kinders kan trots wees op hulle man en pa en Huis Wittekruin kan met reg ook trots wees op hom.”

Gussie is al 27 jaar getroud met Annelize en die egpaar het ’n seun en ’n dogter.

Een van die inwoners het die laaste woord: “Gussie, ons salueer jou vir die pragtige persoon wie jy is en bid God se seën op jou toe. Saluut!”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*