H & T Kwekery gee raad…

H & T Kwekery gee raad…

Ons is nou amptelik in HERFS !!
Die oggende en aande is heelwat koeler en die ergste warm dae het bietjie gewyk. Kom ons gesels bietjie oor ons HERFSTUINE en die plant van BLOMBOLLE vir laat winter en lente blommeprag. Indien jy nog nie begin het met jou grondvoorbereiding nie, is dit nou die tyd om jou grond reg te kry en te besluit wat plant jy waar.
• Blombolle kan in enige tuingrond geplant word, mits dit goed dreineer, lekker diep omgespit is met genoeg KOMPOS en BEENMEEL ( of ROCK DUST ). Die ideale tuingrond is ‘n LEEMGROND wat bestaan uit gelyke dele; sand, klei en humus (kompos). Die humus gee die grond lewe deur dit brokkelrig te maak sodat lug, vog, voedingstowwe en plantwortels makliker daardeur kan beweeg. Die aksie van BAKTERIEë in die grond breek hierdie organiese materiaal af tot minerale en koolstofdioksied wat deur die plant gebruik word as voeding.
• Die volgende belangrike stap is om seker te maak dat jy net goeie kwaliteit blombolle koop. Blombolle is maklik om te groei, want die blombol het al die energie wat dit benodig reeds opgegaar. Nadat die bol geplant is, het hulle net die regte temperatuur, water en goeie grond nodig om die tuinier te beloon met ‘n skouspel van blomme wat net hulle kan voortbring. Die winterbolle wat nou geplant moet word, het KOEL GROND nodig. Die groep bestaan uit die volgende soorte; Anemone, Hollandse Iris, Freesias, Muscari, Tjienkerientjees, Sparaxis, Tritonias, Freesias, Ranonkels, Hiasinte. So bietjie later by Meimaand kan die Leucojum, Affodille & Lilium (lelies) in die grond kom.
• Alle blombolle se verpakkings dui aan hoe diep en wyd dit geplant behoort te word. Sekere bolle kan oornag in water geweek word, wat sal help dat dit beter en vinniger begin uitloop. Moenie jou bolle elke dag net ‘n bietjie natmaak nie, dit is beter om die beddings (of potte) eerder elke 4 tot 5 dae uitmekaar lekker diep (±15cm) te deurweek, dan kom die vog by die wortels uit. By ons in die Wes-Kaap reën dit wintertyd, maar monitor jou grond, moenie dat jou grond heeltemal uitdroog nie; DAN KAN DIE BOLLE DIE BLOMME ABORTEER.
• Die meeste bolle word met die punt na bo geplant, behalwe ranonkels ( met toontjies na onder). Anemone is ‘n moeilike bol om te weet wat is bo en wat is onder, wanneer die bolle in water geweek was, is dit soms makliker om die “ogie” raak te sien en dit moet na bo wys en dan is dit gewoonlik met die punt na onder. Kleiner soorte bolle lyk goed in groepe van 20 bymekaar en die grooter bolle in groepe van 10. Wees versigtig om winterbolle teen ‘n warm muur of langs ‘n warm oprit te plant – veral tulpe, hiasinte, hollandse irises & affodille sal daar nie goed vaar nie. In hierdie beddings sal ‘n massa ranonkels of anemone ‘n lieflike vertoning maak. Kom steek kers op by jou plaaslike kwekery en begin met jou winter-blomboltuin.
• En nou net kortliks oor die res van die tuintake:
• Vir tuinblomme begin nou saai en plant – daar is ‘n groot veskeidenheid soos byvoorbeeld; pronkertjies, bokbaaivygies, namakwalandse madeliefies. Daar is ook saadmengsels vir son en skadu, asook die geharde namakwalandse blomme mengsel en nog vele meer.
• Wintersaailinge wat in ses-pak bakkies kom, word nou al meer beskikbaar en die eerstes behoort nou al op die kwekery se rakke te begin vertoon.
• Deklaag: moet nie vergeet on ‘n goeie deklaag om jou plante te gooi nie, dit hou nie net die vog in die grond nie, dit beskerm ook die plante se wortels teen uitermatige koue en ryp.
• Grasperke: voed nou jou grasperk met: 4:1:1 of 3:1:5 of 2:3:4 of Atlantic Bio Ganic Lawn om die gras sterk te maak vir die wintermaande. Jy kan ook nou begin om voorkomend te spuit vir wintergras en ander onkruid met LAWNTYL, dit maak die saad dood sodra dit begin ontkiem.
• Plant in die regte seisoen: in die winterreënvalgebied is dit ‘n baie goeie tyd om nou jou nuwe bome en struike te plant, die weer is meer gematig en daar is altyd die vooruitsig van goeie reëns. Die plante kan huself nou beter vestig en wanneer die somer oor 6 maande weer begin is hulle al lekker sterk.
Lekker tuinmaak en ons wens u ‘n GESEëNDE PAASFEES toe.
Ons gesels weer op 28 April.
George Retief

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*