HDU se top-leerder: Medies aan UVS

HDU se top-leerder: Medies aan UVS

Danielle Kitshoff, die top-leerder van die Hoërskool Dirkie Uys en ook in die Swartland Joernaal se lesersgebied, spog met ‘n gemiddelde persentasie van 91.9%.

Die slimkop het haar laerskooljare aan die Laerskool Dirkie Uys voltooi, waar haar grondslag gelê is.

Op laerskool het sy ook presteer, maar erken self dat sy glad nie lief was vir leer nie.

“Ek het eers in Graad 6 en 7 begin fokus op akademie en ‘n liefde vir leer ontwikkel en gekweek. Dit was eers op hoërskool wat ek begin presteer het,” vertel sy.

Vir haar is daar nie een vak wat uitgestaan het bo die res as gunsteling nie.
” Ek was mal oor al die vakke wat ek geneem het, maar Rekeningkunde, Fisiese Wetenskappe en Lewenswetenskappe was hoog bo aan my lysie. Dit was vir my interessant om oor die verskillende onderwerpe te leer. Ek het uitstekende onderwysers gehad, wat passievol oor hulle vakke was en dus was dit maklik om dan vir toetse te leer aangesien ek ‘n liefde vir die vakke gehad het en die werk reeds verstaan het.”
Die pandemie en inperking het haar laaste skooljaar ook ingrypend verander as wat sy verwag het.

“Covid was vir my aaklig! Ek doen nie so goed met verandering nie. Ek het aan die begin gesukkel om my voete te vind, maar toe ek eers in roetine gekom het, het ek mooi aangepas. Dit was nogal moeilik om gebalanseerd te leef aangesien daar geen sport of sosiale geleenthede plaasgevind het nie. Dit was vir my moeilik om positief te bly, maar ek het ‘n kopskuif gemaak en die beste van die situasie probeer maak. Ek het besef dat ek nog beheer oor my eindeksamen het en dit het my hooffokus geword.”
Vanjaar gaan sy MBChB (medies) studeer aan die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein.

“Ek sal graag eendag ‘n suksesvolle dokter wil wees en spesialiseer in dermatologie of chirurgie,” sê sy opgewonde.
Haar woorde van wysheid aan 2021 se matriekklas: My grootste wens vir die matrieks van 2021 is dat hulle gebalanseerd sal leef. 2021 gaan nie veel anders as 2020 wees nie. Dit is belangrik om genoeg te leer, gereeld te oefen en om ‘n klein bietjie te sosialiseer ook.

“Ek dank graag die Here. Sonder Sy liefde en genade sou ek definitief nie die eindeksamen oorleef het nie. Dan ook ‘n spesiale dankie aan my ouers, Jannie en Junene vir al hulle ondersteuning.”

Leave a Reply

Your email address will not be published.


*