Hetta se Huiswinkels kry vlerke weens inperkings

Hetta se Huiswinkels kry vlerke weens inperkings

Op Malmesbury het daar ‘n juweel oopgemaak – Huiswinkels in Biccardstraat.
Eienaar Hetta Saunderson, eienaar van M4 Events and Promotions, besit en bestuur die afgelope 13 jaar haar eie besigheid waar sy betrokke was by talle geleenthede en feeste.
Teen die einde van Januarie 2020 het sy en haar span na die geleentheidskalender gekyk en besef dat hulle geseënd is met ‘n vol program. Min wetende wat om die draai wag.
Die naweek voor die eerste inperking is die KKNK, waar Hetta en haar span betrokke is, gekanselleer. Talle ander geleenthede het gevolg.
Sy moes haar Skole Kook-televisieprogram ook laat vaar, aangesien die skole gesluit was.
“Die eerste ruk was die skok so groot, dat ek skaars kon dink. Ek het nie geweet of ek dit finansieel sal kan maak nie. Ek het nagte wakker gelê en geweet dat daar baie mense is wat in dieselfde bootjie sit as ek en dat hulle nie uit dit kan kom nie. Ek het met die feeste talle uitstallers leer ken en geweet dat hulle na ‘n platvorm soek waar hulle hul produkte kan verkoop, aangesien hulle nou ook sonder ‘n inkomste was. Met die inperking moes ons almal anders begin dink. So het Huiswinkels.co.za ontstaan,” vertel Hetta.
Sy het ‘n paar uitstallers gekontak en almal was raadop en op soek na hulp.
So het sy ‘n klompie uitstallers gewerf wat op die platvorm wat sy skep, hul produkte wou verkoop.
Huiswinkels.co.za was die middelman tussen die koper en verkoper.
Hier is kwaliteit produkte aangebied teen bekostigbare pryse.
Huiswinkels was eers ‘n aanlyn-winkel, tot sy eendag ‘n oproep ontvang het met ‘n navraag oor waar haar ‘winkel’ op Malmesbury is.
Net daar is die saadjie geplant om die winkel te open.
Die winkel in Biccardstraat, agter die landdroshof, het vinnig vorm aangeneem, met ‘n huis wat omskep is in ‘n gemaklike en rustige koffiewinkel, toegerus met ‘n deli en verskillende vertrekke met ‘n groot verskeidenheid produkte.
Hier kan jy ook Body Reallignment laat doen as jy dalk ‘n verstelling nodig het!
Nie net dit nie, maar Hetta se kombuis verskaf ook aandetes, wegneemetes en vele meer.
Hulle beskik ook oor ‘n afleweringsdiens om die etes af te lewer.
Gedurende die winter is daar daagliks sop beskikbaar en Dinsdae is dit tyd vir melkkos en Vrydag is kerrieafvaldag!
Daar is ook twee kamers beskikbaar om te huur.
Spyskaarte is te vind op Facebook, onder Huiswinkels.co.za.
Kontak 022 487 2000 vir enige navrae of bestellings.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


*